Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Esther Mahlangu in Oliewenhuis
Esther Mahlangu omring deur haar kontemporêre weergawe van die tradisionele Ndebele-kuns. In Oliewenhuis in Bloemfontein is haar werk op groot doeke in die hoofsaal te sien.

Esther Mahlangu, die ikoniese kunstenaar bekend vir haar Ndebele-kuns, is nie net ’n naam in die buiteland nie, haar kuns word ook in bekende galerye uitgestal.

Dié 83-jarige Suid-Afrikaner stal nou, sover vasgestel kan word, die eerste keer in die Vrystaat uit. Timeless: Between Matter & Spirit bestaan uit groot doeke beskilder met haar weergawe van Ndebele-patrone, asook komberse dig bewerk met krale.

Dit is ’n toeganklike uitstalling wat vir kenners en leke heelparty verrassings sal inhou.

Mahlangu skilder reeds ses dekades lank en steeds herverbeel sy die lieflike komplekse, kleurryke en getekstureerde visuele narratiewe uit die Ndebele-kunstradisie.

Mahlangu het nie by die Ndebeles se ou kunstradisies vasgesteek nie. Sy het die kuns gemoderniseer en dit toegepas in bekroonde werk, soos die BMW-motor wat sy in 1991 beskilder het. Dit was so ’n treffer dat dit in Kassel, Duitsland, uitgestal is, waarna uitnodigings vir uitstallings in die buiteland gevolg het.

Volgens ’n mediaverklaring is die wetenskapsgemeenskap verstom oor die komplekse simboliek en kodes inherent aan Mahlangu se werk, asook in dié van ander vroue wat die Ndebele-kuns beoefen. Die basis van hul skilderye is ’n abstrakte simboliek, wat deur sommige as ’n antieke kommunikasiemiddel bestempel word.

’n Verstommende aspek van die Ndebele-kunstenaars, Mahlangu ingesluit, is dat al die reguit lyne, asook klein besonderhede in skilderye, uit die hand gedoen word.

’n Kenmerk van Mahlangu se werk wat voortdurend as ’n motief in haar werk opduik, is die sigsag-patroon.

Mahlangu glo kuns kan nie van die taal, kultuur en mense geskei word uit wie dit ontstaan het nie. “As ek skilder, is my hart wawyd oop en reik ek uit na alles en almal. Ek wil my kuns aan die volgende geslag oordra sodat die waarde en skoonheid van die Ndebele-kuns nie uitsterf nie.”

Mahlangu het ’n kunsskool in haar tuisdorp gestig waar sy gereeld kunslesse gee. * Timeless kan tot 23 Junie in die Oliewenhuis-kunsmuseum in Bloemfontein besigtig word.

Meer oor:  Esther Mahlangu  |  Kuns
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.