Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Fase 1 van stimulus-program: R414 m. aan kuns, kultuur

Die kuns-en-kultuur-sektor in Suid-Afrika gaan danksy die presidensiële stimulusprogram vir werkskepping (PESP) ’n finansiële inspuiting van R414 miljoen oor die volgende ses maande kry.

Dié bedrag is slegs 2,9% van die meer as R14,2 miljard wat die regering teen die einde van Maart 2021 in die eerste fase wil bestee as deel van sy driejaarplan om die land se ekonomie te help herstel.

Netwerk24 het vroeër berig dat R100 miljard vir al die fases van dié driejaarplan begroot is.

Luidens ’n verslag wat die eerste fase van die stimulusprogram uiteensit, getiteld Building a Society That Works: Public Investment in a Mass Employment Strategy to Build a New Economy, is daar nie ’n enkele segment van die plaaslike kuns-en-kultuur-sektor wat nié deur die pandemie en die staat van inperking geraak is nie. Die regering het daarom R414 miljoen aan dié sektor toegeken sodat daar minstens 28 600 nuwe werkgeleenthede of bestaande poste in die volgende ses maande geskep of behou kan word.

Dié R414 miljoen sal as volg verdeel word (sien grafika hierbo):

  • Die oorgrote meerderheid – R300 miljoen – sal deur die Nasionale Kunsteraad (NAC) en die Nasionale Rolprent-en-video-stigting (NFVF) aan kunstenaars uitbetaal word. Kunstenaars word aangemoedig om hul aansoeke vir dié finansiering in te dien sodat hulle ’n nuwe projek in onder meer dans, drama, handwerk, mode, musiek, ontwerp, rolprente, skryfkuns of die uitgewery kan befonds. Projekte kan digitale aanbiedings en die skep van e-handelplatforms insluit.
  • R31 miljoen vir die bemarking van kunstenaars en hul werk.
  • R30 miljoen elk aan die Nasionale Argiewe en die Nasionale Biblioteek van Suid-Afrika om nuwe digitaliseringsposte te skep.
  • R10 miljoen aan die Suid-Afrikaanse Erfenishulpbronagentskap.
  • R9 miljoen vir werkskepping en die plasing van kunstenaars in provinsiale kunssentrums; en
  • R4 miljoen vir die departement van sport, kuns en kultuur se Art Bank-program, wat dit ten doel het om plaaslike kunstenaars se werk te huur en dit in regeringsgeboue uit te stal.

Dit is nog nie bekend watter bedrae ná Maart aan die kuns-en-kultuur-sektor toegeken gaan word nie.

Veronica van Dyk, DA-LP en partywoordvoerder oor sport, kuns en kultuur, sê hoewel die DA die stimulusprogram verwelkom, is dit in dié stadium nog nie duidelik hoe die entiteite, onder wie die R414 miljoen verdeel word, dié finansiering onder kunstenaars gaan verdeel nie.

“Ons sal beslis die NAC en die NFVF tot verantwoording roep, die proses monitor, en veral verseker dat ons hulle en Nathi Mthethwa (minister van sport, kuns en kultuur) verantwoordbaar hou.

“Die DA gaan ook ’n versoek aan Vusumuzi Mkhize, die departement van sport, kuns en kultuur se direkteur-generaal, rig om ’n voorlegging te doen om die prosesse te verduidelik.

Ons wil duidelikheid hê oor hoeveel werkgeleenthede werklik geskep gaan word en op watter wyse – ook hoe daar verseker gaan word dat prosesse regverdig is en dat kaders nie bevoordeel word nie.
Veronica van Dyk, DA-LP

“Ons wil duidelikheid hê oor hoeveel werkgeleenthede werklik geskep gaan word en op watter wyse – ook hoe daar verseker gaan word dat prosesse regverdig is en dat kaders nie bevoordeel word nie.”

Sy sê die DA wil ook weet watter werwingsprosesse gevolg gaan word, op watter basis suksesvolle aansoeke gekeur gaan word, en hoeveel elke suksesvolle aansoeker betaal gaan word.

“Die party is baie skepties oor dié prosesse, veral ná die wyse waarop die departement se Covid-19-hulpfonds gehanteer is.”

Netwerk24 het Mtehthwa deur sy woordvoerder, Masechaba Ndlovu, om kommentaar genader, maar hy het nog nie gereageer nie.

Doen só aansoek vir finansiering van die NAC

Luidens ’n mediaverklaring gaan die NAC die finansiering wat hy in die stimulusprogram se eerste fase ontvang het, vermoedelik R160 miljoen, in twee “strome” aan kunstenaars uitdeel.

Nasionale Kunsteraad, NAC
Die Nasionale Kunsteraad.

Die eerste is gemik op organisasies, individue en klein, middelslag- en mikro-ondernemings (KMMO’s) in die kuns-, kultuur- en erfenissektor wat op die rand is om huidige werknemers weens die pandemie se impak af te lê.

Aansoekers word genooi om voor 20 November vir ’n loontoelaag aansoek te doen om dié afleggings te keer. Dit is nog nie bekend hoe groot dié toelaag is nie. Aansoekers sal glo op 1 Desember ingelig word of hul aansoek suksesvol is.

Die tweede stroom is gemik op organisasies, individue en KMMO’s in die kuns-, kultuur- en erfenissektor wat finansiering vir nuwe projekte in die kunste benodig. Daar is glo nie ’n vaste maksimum uitbetaling in dié stroom nie. Die NAC sal elke aansoek oorweeg en self die maksimum uitbetaling van elke aansoek beslis.

Aansoeke vir projekfinansiering moet teen 27 November ingedien word. Aansoekers wat hul aansoeke voor 14 November indien, sal reeds teen 1 Desember die uitslag ontvang. Aansoekers wat hul aansoeke ná 14 November indien, sal tot 21 Desember moet wag.

Aansoeke in albei strome moet volledig wees en aan ’n lys bepalings en voorwaardes voldoen voordat dit op https://nac.praxisgms.co.za/ ingedien word.

Besoek www.nac.org.za vir meer inligting.

Slaan só munt uit NFVF-finansiering

Die NFVF gaan met sy finansiering van R140 miljoen fokus op die oudiovisuele bedryf en gaan dit in vier strome aan kunstenaars uitdeel.

Nasionale Rolprent-en-video-stigting
Die Nasionale Rolprent-en-video-stigting.

Die eerste drie strome fokus op die skep van nuwe werkgeleenthede, meer spesifiek deur die vervaardiging van nuwe projekte, slypskole en opleiding, en die verspreiding van bestaande projekte. R100 miljoen sal aan dié drie strome bestee word. Aansoekers sal voorkeur geniet as hulle in hul aansoek kan toon dat hulle vir minstens tien mense met hul projek kan werk skep.

Die vierde stroom is oop vir enige onderneming in die oudiovisuele bedryf wat weens die pandemie swaar gebuk gaan onder finansiële druk en moontlik ook van hul werknemers sal moet aflê. R40 miljoen is vir dié stroom opsygesit.

Dié vier strome poog om saam sowat 5 000 nuwe werkgeleenthede in die bedryf te skep en daarby ook te keer dat 3 000 bestaande poste geskrap word.

Aansoeke moet ook hier volledig wees en aan ’n lys bepalings en voorwaardes voldoen, voordat dit teen 30 November op https://nfvf.praxisgms.co.za/ ingedien word.

Meer inligting is op https://www.nfvf.co.za/home/ beskikbaar. Navrae kan ook per e-pos na applications@nfvf.co.za gestuur word.

Meer oor:  Staat Van Inperking  |  Koronavirus  |  Covid-19-Pandemie  |  Pandemie  |  Koronaviruspandemie  |  Covid-19  |  Inperking  |  Covid  |  Mode  |  Rolprente  |  Dans  |  Musiek  |  Drama  |  Nfvf  |  Nasionale Rolprent-En-Video-Stigting  |  Noodfonds  |  Da  |  Hulpfonds  |  Nathi Mthethwa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.