Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Foto’s herroep gees van die Ses
Musiek was ’n belangrike komponent van die lewe in Distrik Ses. Hierdie is Günther Komnick se studie van musiekmakers met die titel “African Jazz Band”. Foto: Günther Komnick

’n Foto-uitstalling wat die leefwêreld van Distrik Ses dokumenteer voordat dit gesloop is, word as deel van die Suidoosterfees in die ­Kunstekaap aangebied.

’n Keur uit die werk van twee meester-fotograwe, Gün­ther Komnick en Cloete ­Breytenbach, wat in die vroeë 1960’s daar gewerk het, word vertoon.

In hierdie werke kan iets van die ou Distrik Ses beleef word: die oorvol strate met ­gillende, laggende kinders en die gemoedelikheid van mense wat praatjies op straathoeke maak. Karakters van die buurt, asook die wonder­wêreld van die Klopse met hul gejuig en gejil om ’n nuwe jaar in te dans word in her­innering geroep.

Komnick se foto’s skep ’n sinvolle dokumentêr oor die lewe en omstandighede van Distrik Ses se mense. Sy ­kameralens was ingestel om die ervaring van die gewone mense vas te vang. Sy klem is op die aktiwiteite van die gemeenskap en in die besonder hul musiektalent. ’n Ikoniese foto is dié van Robert Sithole, die penniefluitjie-musikant, wat later bekendheid ver buite sy grense geniet het. Komnick se studie van hom as 15-jarige vang die gevoelige uitdrukking, die verwagting buite die uitsigloosheid van sy tyd, roerend vas.

Breytenbach, wat as koerant­fotograaf werksaam was, se foto’s is ’n getuiebeeld van die lewe daar. Die tonele met die groot klomp mense op straat bewys opnuut die pol­sende lewe van hierdie kleurryke buurt. Hier is boeiende onthou-foto’s van die daaglikse lewe en aktiwiteite.

In hierdie foto’s sal jy Adam Small se poësie tot lewe kan roep en sal jy iets verstaan van die fassinasie wat Gregoire Boonzaier gehad het in sy talle skilderstudies van die buurt en sy mense. Hier hoor jy Adullah Ibrahim se jazz-klanke en Taliep Petersen se voete-laat-kriewel-liedjies. Jy stap ook die storiewêreld van Richard Rive binne.

Die uitstalling is ’n greep op hierdie eens kleurryke buurt – dié plek met ’n onvergelyklike atmosfeer.

  • Amanda Botha is die kurator.

Meer oor:  Distrik Ses
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.