Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Foto’s van David Goldblatt in Kaapstad te sien
‘Johnny Basson, goatherd, Rooipad se Vlak, 2004’ afgeneem deur David Goldblatt by Pella in die Noord-Kaap.

’n Solo-uitstalling van kleurfoto’s deur die gevierde David Goldblatt in die Goodman-galery in Kaapstad en ’n groepuitstalling van “histories belangrike werke” deur sowat 25 Suid-Afrikaanse kunstenaars in die Goodman-galery in Johannesburg behoort ’n besoek die moeite werd te maak.

Markers of Presence verteenwoordig Goldblatt se werk vandat hy in die 1990’s met kleurfotografie begin eksperimenteer het, enersyds aangespoor deur ’n nuwe politieke bestel in Suid-Afrika en andersyds deur die tegniese vooruitgang in digitale ontwikkeling.

Hy was ook oortuig kleurfoto’s weerspieël sy gevoelens in daardie tydperk die beste.

Sy kleurfotografie is byeengebring onder die titel Intersections en is later as Regarding Intersections en Intersections Intersected gepubliseer.

‘The Battle of Cascina II, 2006’ deur Robert Hodgins.

Dié versamelings is reeds wêreldwyd uitgestal, waarvan die belangrikste sentra die Centre Pompidou in Parys en die New Museum of Contemporary Art in New York is. Goldblatt se werke is ook ingesluit in die permanente versamelings van die Museum of Modern Art (Moma) in San Francisco, die Luis Vuitton-stigting, Marseille-fotografiemuseum, die Walther-versameling en die Yale-Universiteit.

Dié werke is ’n vertoonkas vir dié legendariese Suid-Afrikaanse fotograaf se verkenning van ons land, sy landskappe, mense, dorpe, stede en monumente wat hy beskou het uit die perspektief van ons waardestelsel en hoe dit uitdrukking vind in dit wat ons nalaat.

Markers of Presence vertoon vyf van Goldblatt se “denkstrome” in sy Intersections-versameling, naamlik “te hel met alle landskappe”, “heinings”, “besittings”, “verlies aan besittings” en “dood en herinneringe”.

• Die uitstalling kan tot 25 Julie besigtig word.

Goldblatt se fotografie is ook deel van die groepuitstalling Lasting Influences, waarvoor onder andere Walter Battiss, Dumile Feni, Robert Hodgins, William Kentridge, Sydney Kumalo, Judith Mason, Ezrom Legae, Cecil Skotnes, Penny Siopis en Edoardo Villa gekeur is.

Luidens ’n nuusverklaring was dié kunstenaars van die ontstaan van die Goodman-galery in 1966 tot die vroeë 2000’s by die instansie betrokke.

Party van hul werke wat hier te sien is, verskyn vir die eerste keer in ’n openbare ruimte.

Luidens die verklaring is “daar nooit ’n enkele element wat ’n kunstenaar se blywende invloed bepaal nie. Partykeer spruit die invloed uit ’n akademiese loopbaan waarin vaardighede en idees aan ander oorgedra word. Ander kunstenaars trek weer aandag deur oorspronklike, ongewone of omstrede werke.

“Die werke van die kunstenaars in die uitstalling verteenwoordig op die een of ander wyse bogenoemde voorbeelde. Dit kan gesien word in beeldhouwerke en tapisserieë van Skotnes, Villa en Kendell Geers, tekeninge deur Feni, Kentridge, Battiss en Legae, en skilderye deur die ander.”

Al die werke in die uitstalling kan onder die modernisme geklassifiseer word, maar kan ook resorteer onder moderne kontemporêre kuns wat mettertyd ontstaan het.

“Veranderinge in media, materiale en die totstandkoming van ’n Afrika-stem in die internasionale diskoers speel boonop ’n rol in dié nuwe vlaag van kuns wat die tyd, die politiek en die kultuurverskeidenheid weerspieël.”

• Die uitstalling kan tot 10 Julie besigtig word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.