Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Frankryk vereer Zapiro met top-prys
Jonathan Shapiro, die spotprenttekenaar, wat deur Frankryk vereer is. Foto: Nasief Manie

Die Franse ambassade in Suid-Afrika gaan Frankryk se belangrikste kultuur-eerbewys aan die Suid-Afrikaanse spotprenttekenaar Jonathan Shapiro, oftewel Zapiro, toeken.

Die Chevalier des Arts et des Lettres (ridder in die orde van kuns en letterkunde) gaan vanaand op ’n spoggeleentheid in Kaapstad deur Aurélien Lechevallier, Frankryk se ambassadeur in Suid-Afrika, aan Shapiro oorhandig word. Lechevallier gaan die oorhandiging namens die Franse president, Emmanuel Macron, behartig.

Volgens ’n mediaverklaring word Shapiro nie net vir sy werk erken nie, maar ook omdat hy “nog altyd” ’n voorstander van vryheid van spraak én ’n vriend van Frankryk was.

“Frankryk wil erkenning gee aan ’n kunstenaar, ’n vriend, maar ook ’n vryheidsvegter wat die Franse Republiek se waardes deel,” sê Lechevallier in die mediaverklaring.

Shapiro het aan Netwerk24 gesê hy is geheel en al oorbluf deur die erkenning.

“Wat ’n ongelooflike eer – en dit is so onverwags! Ons is so ver weg van Europa af. Ek het nooit verwag dat mense buite Suid-Afrika of Suider-Afrika so noukeurig dophou wat ek hier probeer doen nie. Dit is fenomenaal en ongelooflik spesiaal.”

Hy sê dit was heel toevallig Franse strokiesprentboeke wat hom geïnspireer het om ’n spotprenttekenaar te word. Die Franse se respek vir spraakvryheid – ook vryheid, gelykheid en broederskap – vuur hom ook aan om ’n fakkeldraer en voorstander vir spraakvryheid te bly.

In die Zuma-era was daar baie probeerslae om die media te onderdruk – hy (Zuma) het my ook twee keer gedagvaar, wat ’n duidelike poging was om spraakvryheid te ondermyn. Gelukkig het daar niks van die hofsake gekom nie.
Jonathan Shapiro

“Ons is (met betrekking tot spraakvryheid in Suid-Afrika) nie tans op so ’n goeie plek soos wat ons was toe die Grondwet gevestig is nie, maar dit is beslis beter as die apartheidsera, toe mense se woorde en skryfwerk en mense self verban is,” sê hy.

“In die Zuma-era was daar baie probeerslae om die media te onderdruk – hy (Zuma) het my ook twee keer gedagvaar, wat ’n duidelike poging was om spraakvryheid te ondermyn. Gelukkig het daar niks van die hofsake gekom nie.

“Daarenteen het ons wel deesdae ongelooflike vryheid. As spotprenttekenaar in Suid-Afrika het ek veral in hoofstroom-publikasies selfs meer vryheid as van my kollegas in gevestigde demokrasieë.”

Die ridder in die orde van kuns en letterkunde word sedert 1957 deur die Franse departement van kultuur toegeken aan individue wat “belangrike bydraes tot die verryking van die kunste en letterkunde in Frank­ryk en in die buiteland” lewer.

Ander Suid-Afrikaners wat al so vereer is, sluit in die ontslape sanger Johnny Clegg (1991), die kunstenaars William Kentridge (2013) en Zanele Muholi (2017), die danser en choreograaf Gregory Maqoma (2017), die teaterskepper Brett Bailey (2019) en die aktrise Sylvaine Strike (2019).

Meer oor:  Vrye Meningsuiting  |  Zapiro  |  Kuns  |  Spotprentkunstenaar  |  Spraakvryheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.