Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Gautengse kunstenaars kry 2de kans met noodfonds

Die Gautengse departement van sport, kuns, kultuur en ontspanning het aangekondig dat Mbali Hlophe, LUR vir die departement, ’n inligtingstoer gaan aanbied om die departement se Covid-19-noodfonds onder kunstenaars in die provinsie se aandag te bring.

Mbali Hlophe, LUR vir sport, kuns, kultuur en ontspanning in Gauteng, by die Royalty Soapie-toekenningsaand in September. Foto: Getty Images

Volgens ’n mediaverklaring kon baie kunstenaars in die provinsie weens die vlak 4-inperkings nie in Junie die aanvanklike sperdatum vir hulp uit die noodfonds haal nie. Die departement het daarom besluit om aansoeke weer oop te stel – en dié keer wil Hlophe self inspring om meer kunstenaars van die noodfonds bewus te maak.

“Ons het voorheen aansoeke gekry, maar ongelukkig kon baie mense weens die inperkingsregulasies, wat hul beweging beperk het, nie aansoek doen nie,” sê sy in ’n mediaverklaring.

“Noudat ons op vlak 1 is, glo ons dat baie meer mense aansoek sal kan doen – nie net dié wat toegang tot hulpbronne soos aanlyn platforms het nie.”

Hlophe sê die departement se “pogings” om kunstenaars in nood by te staan, veral dié wat in gemeenskappe woon waar geriewe beperk is, is noodsaaklik.

“Talle van dié (kunstenaars) sal weens die ‘nuwe normaal’ en Covid-19-regulasies steeds uitdagings ondervind. Ons wil hê soveel as moontlik mense moet aansoek doen sodat ons lewe in die sektor én ons eie strukture kan blaas.”

Hlophe het haar inligtingstoer Maandag by die Ratanda Multipurpose Centre begin. Die res van haar skedule lyk so:

  • 15 Oktober om 14:00 by die Alberton Old Council Chamber
  • 16 Oktober om 14:00 by die Women’s Living Heritage Monument
  • 19 Oktober om 14:00 by die Johannesburg-stadion.

Kunstenaars word genooi om die sessies by te woon, meer oor die aansoekproses uit te vind, en vrae aan Hlophe te stel.

Netwerk24 het voorheen berig dat die departement benewens die nasionale departement van sport, kuns en kultuur se R150 miljoen-noodfonds sy eie noodfonds begin het om kunstenaars en sportlui te steun wie se inkomste weens die pandemie uitgewis is. Dit is steeds nie bekend hoe groot die Gautengse departement se noodfonds is nie.

Kunstenaars het aanvanklik tot 26 Junie kans gehad om vir hulp daaruit aansoek te doen, maar het nou tot 30 Oktober om hul aansoek in te dien.

Die provinsiale noodfonds is steeds net oop vir Suid-Afrikaanse kunstenaars wat in Gauteng woon, maar aansoeke in die tweede ronde sluit ook dié uit wat reeds in die eerste ronde voordeel uit die fonds getrek het.

Kunstenaars wat vir hulp kwalifiseer, sluit in enige uitvoerende kunstenaars, musikante, visuele kunstenaars, kunshandwerkers, juweliers- en modeontwerpers, kuns-administrateurs, tegniese personeel in die kunste, bestuurders en organiseerders van kunsgeleenthede, kunsteorganisasies, rolverdelings en tegniese spanne op rolprent- en TV-stelle, asook enigiemand in die informele kuns-en-kultuursektor.

Aansoeke moet bestaan uit ’n aansoekvorm wat via e-pos by SACR.Communications@gauteng.gov.za verkry kan word, asook ’n gesertifiseerde afskrif van ’n ID-dokument, ’n bewys van adres, ’n amptelike brief wat bankbesonderhede bevestig, en soveel as moontlik bewyse van óf afgestelde vertonings van enige aard óf verliese wat weens die pandemie tussen 16 Maart en 30 September gely is.

Volledige aansoeke moet na sacrrelieffund@gauteng.gov.za gestuur word of kan per hand by enige van die departement se takke in Gauteng afgelewer word.

Besoek www.gauteng.gov.za vir meer inligting.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.