Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Gemaskerde kunswerke in Stellenbosch uitgestal
Zanele Muholi se ‘Aphelile IV_Durban’ word by die Stellenbosse taxistaanplek in Birdstraat vertoon. Foto: Stefan Els

Afbeeldings van Suid-Afrikaanse kunswerke, maar waarin die onderwerp in elk ’n masker dra, word van Vrydag af op verskeie plekke in Stellenbosch uitgestal.

Die doel met die Masked Masterpieces-uitstalling is om geld in te samel vir beursstudente aan die Universiteit Stellenbosch (US) se fakulteit lettere en sosiale wetenskappe.

“Die kunswerke word almal in supergrootte formaat in die buitelug vertoon, wat ’n kragtige visuele verteenwoordiging van die uitdagings van ons tyd bied,” lui ’n verklaring van die US.

Irma Stern se ‘The Initiate’ is opgerig op die muur langs die GUS-galery in Dorpstraat. Foto: Stefan Els

Inligting oor die kunstenaars en hul kunswerke, onder meer waar die oorspronklike kunswerke besigtig kan word en hoe skenkings via ’n SnapScan-kode of bank-inbetaling gedoen kan word, word langs die werke vertoon.

“Die US administreer dié skenkings geoormerk vir die befondsing van beursstudente wat deur die Covid-19-pandemie geraak word.”

Die kunswerke kan tot Desember gesien word en word heeltemal deur die privaat sektor gefinansier, wat uit die Beck familie-filantropie, die Fuchs-stigting, Investec, die Norval-stigting, die Rupert-kunsstigting en Strauss & Co bestaan.

Vladimir Tretchikoff se ‘Chinese Girl’ word teen die gewelmuur op die hoek van Drostdy- en Pleinstraat vertoon. Foto: Stefan Els
Gerard Sekoto se ‘Die Senegalese vrou’ kan gesien word op die gewelmuur van die Distell-gebou aan die R44. Foto: Stefan Els
Maggie Laubser se ‘Portrait of a Coloured Girl’ is opgerig teen die muur in die Dorpsteeg in Birdstraat, Stellenbosch. Foto: Stefan Els

Die studente wat gehelp word behoort tot die “verlore middelgroep” oftewel studente wie se gesin te arm is om universiteitstudies te bekostig, maar “ryk” genoeg is om nie vir staatshulp te kwalifiseer nie.

“Ons stel vernuwende maniere bekend om te verseker dat nie een van ons studente in die nadraai van Covid-19 agtergelaat word nie,” sê Pieter Swart, direkteur van groot skenkings en transformasionele skenkings by die US se afdeling vir ontwikkeling en alumnibetrekkinge.

“Vanweë die ekonomiese gevolge van hierdie pandemie verwag ons dat selfs meer studente in die ‘verlore middelgroep’ sal val.”

Die gemaskerde kunswerke word uitgestal teen die gewelmuur van die Distell-gebou aan die R44, die muur langs die GUS-galery in Dorpstraat, die Dorpsteeg in Birdstraat, die Stellenbosse taxistaanplek in Birdstraat, en die gewelmuur op die hoek van Drostdy- en Pleinstraat.

Meer oor:  Stellenbosch
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.