Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
George Hallett die ewige reisiger so onthou
George Hallett

George Hallett het hom onderskei as internasionaal gerekende fotojoernalis en kunsfotograaf – by uitstek portretkuns, veral van skrywers.

Hy het groot aansien verwerf as omslagontwerper en fotograaf van die beroemde Heinemann African Writers-reeks. In die afgelope vier dekades is sy werk in roemryke kunsgalerye en op biënnales aangebied. Tans word ’n retrospektiewe uitstalling van sy lewenswerk op die Marokkaanse biënnale vertoon.

Hallet, wat vir ’n lang ruk ernstig siek was, is op 1 Julie in Kaapstad oorlede.

Hy het as ’n straatfotograaf begin en het om politieke redes in 1971 na Londen uitgewyk. Hy het na Suid-Afrika teruggekeer as amptelike fotograaf van die ANC van 1994 se eerste demokratiese verkiesing en later van die Waarheids-en-versoeningskommissie. Sy informele portrette van oudpres. Nelson Mandela het in 1995 aan hom ’n Wêreldpersfotograafprys besorg. Van hierdie foto’s is nou gesog op internasionale kunsveilings.

Verskeie fotoboeke oor sy werk is gepubliseer, met bykomende teks waarvan hyself die skrywer is. Die eerste plaaslike omvattende tentoonstelling van sy werk is in 2014 in die Iziko- Suid-Afrikaanse Kunsmuseum aangebied.

Hallett het ’n fassinerende lewensverhaal en het homself altyd as reisiger gesien. So verwys hy na sy uitstaande foto’s van Afrika-skrywers en -kunstenaars as “ ’n pad geloop met sommige en met ander ’n ontmoeting wat ’n merk gemaak het”.

Hy is in Distrik Ses gebore en is deur sy grootouers in Houtbaai se vissersgemeenskap grootgemaak. Met ’n terugblik op sy lewe bring hy eer aan Elmar Kay – “ ’n visserman, ’n bobaasstorieverteller en ’n liefhebber van boeke.”

Die omslag van George Hallett se boek ‘District 6 Revisited’.

Voor Hallet kon lees, het Kay aan hom stories vertel oor die Tweede Wêreldoorlog en sy gevangenisskap in Italië, en hy het uit die Readers’ Digest en National Geographic, waarop hy ingeteken was, aan die jong seun voorgelees.

Hallett was nog ’n laerskoolseun toe sy oupa vir hom sy eerste boekrak gebou het en gou het hy sy eie versameling tydskrifte en boeke gehad. Sy ouma, ’n huishulp, het vir hom van haar werk af die glanstydskrif Life gebring, wat veral uitstaande foto-artikels aangebied het.

In 1959 begin hy sy hoërskoolopleiding in Dieprivier, wat hy as “ ’n hoogtepunt en opwindend” beskryf. Hier het sy latere loopbaan beslag gekry,, juis deur die inspirerende onderrig in Engelse letterkunde deur Richard Rive, wat later ’n invloedryke skrywer geword het.

Tydens ’n ontmoeting het Hallett aan my gesê dat hy as mens en kunstenaar deur Rive gevorm is. “Hy het my ingelei in die wêreld van politiek, die letterkunde en kuns.” Een van Hallet se kleinode, “ ’n present van Richard”, was dat hy lewenslank daaraan plesier gehad het om Shakespeare-sonnette hardop voor te dra. Rive het sy leerlinge gierige lesers gemaak en as jong man het Hallett van die belangrikste Russiese klassieke werke gelees, waaruit hy graag aangehaal het.

Rive het skrywers aan sy leerlinge voorgestel. Die eerstes was Peter Clarke (veral as kunstenaar bekend) en die digter James Matthews. Albei het mentors van Hallett geword en was lewenslank vriende. Ander wat hy ook so ontmoet het, was Alex La Guma, Jan Rabie en die kunstenaar Marjorie Wallace.

Hallett se droom was om ’n rolprentmaker te word. Tweede beste was om ’n straatfotograaf te wees, waarvoor hy ’n gratis kamera ontvang het. Hy het ook later bydraes gelewer vir die literêre tydskrif Contrast. Sy laaste opdrag was om Distrik Ses in 1969 te fotografeer, voordat dit gesloop is. Met die hulp van Gavin Jantjes, toe ’n kunsstudent, verskyn Hallett se foto-essay “White Area” in Contrast se winteruitgawe van 1970.

George Hallett

In die volgende 30 jaar het Hallett wyd gereis en in Londen, New York, Amsterdam en Parys gebly. Hy het dit as doelwit gehad om buiten skrywers ook uitgeweke Suid-Afrikaanse kunstenaars af te neem, waarvan sy studies van Dumile Feni in New York en Gerard Sekoto in Parys visuele poësie is.

Hallett het met sy fotografie sy eie ryk geskakeerde lewe verbeeld en sy kamera as instrument gebruik om ’n dinamiese herinnering te skep van ’n andersins gebrekkig gedokumenteerde tydperk. Sy werk getuig van ’n intieme omgang met sy sitters en ’n poging om ’n verbygaande oomblik vas te vang wat ’n betekenisvolle kenmerk van die persoon is.

Hy sal onthou word as ’n baanbrekerfotograaf – onder ons belangrikstes – en as ’n man wat enduit aan homself getrou was.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.