Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Gesoek: Kuns om kollege van ondergang te red

’n Kunsadministrateur van die Wes-Rand het besluit om sy moue op te rol en eiehandig ’n kunsveiling te reël wat ten doel het om die Funda-gemeenskapskollege in Diepkloof, Soweto, van ondergang te red.

Die Funda-gemeenskapskollege in Soweto se biblioteek in November verlede jaar. Foto: Gallo Images / Alet Pretorius
Die Funda-gemeenskapskollege se administrasiegebou. Foto: Gallo Images / Alet Pretorius

Tumi Moloi sê hy is tans op soek na 100 kunswerke deur gevestigde kunstenaars, ’n afslaer wat sy of haar dienste gratis kan aanbied, en ’n venue waarin die I Am Funda-veiling gratis kan plaasvind sodat R4 miljoen vir die sukkelende kollege ingesamel kan word.

Daily Maverick het in Desember berig dat die kollege weens ’n leë beursie op die punt is om sy deure finaal te sluit. Die kollege doen glo sedert 2009 sake sonder enige elektrisiteit, personeel word vir maande aaneen nie betaal nie en geriewe gaan al hoe vinniger agteruit.

Die kollege is in 1984 met die private sektor se steun geopen en het veral ná die sluiting van die Rorke’s Drift-kunssentrum se vleuel vir visuele kuns in die vroeë 1980’s ’n leeueaandeel in die opleiding van swart kunstenaars, onder wie John Vusi Mfupi, Lehlogonolo Mashaba, Mbongeni Buthelezi en Nhlanhla Xaba, gehad.

Hoewel die kollege aanvanklik opleiding in teater, visuele kuns en musiek aangebied het, het ’n gebrek aan finansiering van private skenkers die kollege se bestuur oor die jare gedwing om hul aanbieding stelselmatig af te skaal.

Die kollege se geldsake ry veral nou wipplank omdat dit as ’n artikel 21-maatskappy nie vir veel regeringsfinansiering in aanmerking kom nie. Die Nasionale Kunsteraad en private skenkers se huidige steun is ook nie genoeg om die pot ordentlik aan die kook te hou nie. Moloi het daarom besluit hy moet self inspring om te help.

Hoewel hy nie regstreeks aan die kollege verbonde is nie, sê Moloi sy pad het al meermale in die verlede met dié van alumni gekruis. Deur sy samewerking met hulle het hy besef hoe belangrik dit is dat die kollege sy deure oophou.

Tumi Moloi

“Ek het in my loopbaan as kunsadministrateur en kreatiewe werker – in die regering, by feeste, met kultuurbeleide, in kulturele organisasies en by plaaslike en internasionale kultuurkonferensies – geleer hoe ons in die kreatiewe sektor moet saamwerk,” sê hy.

“Die sektor is onderling verbind – geen deel kan sonder die ander bestaan nie.

“Die kollege se afwesigheid in die kreatiewe bedryf sal die geboorte van toekomstige kunstenaars, wat ’n kreatiewe rol in die samelewing en die sektor speel, ’n knou gee.

“Gemeenskapskunskolleges in hierdie land is ook tans aan die uitsterf, so ons moet hulle bewaar en beskerm so goed ons kan.”

Moloi sê hy hoop ten minste R4 miljoen sal deur die veiling ingesamel word sodat die kollege se dak, biblioteek en heining opgeknap kan word, die kollege vir die eerste keer in 12 jaar weer elektrisiteit kan kry, personeel se salarisse betaal word, en die kollege se akademiese aanbieding uitgebrei kan word.

Die veiling word beplan vir 24 April. Moloi nooi kunstenaars om hul eie werk vir die veiling te skenk. Werke deur Lehlogonolo Mashaba, John Vusi Mfupi, Daniel Stompie Selibe, Ayanda Mabulu, Happy Dhlamini, Gordon Froud en Walter Maluleke is reeds ontvang.

Belangstellendes wat Moloi op enige manier wil bystaan, kan ’n e-pos stuur na tumimoloi6@gmail.com. Meer inligting oor die veiling sal ook op die Facebook-blad www.facebook.com/IamFunda bekend gemaak word.

– Bykomende bronne: mg.co.za, sahistory.org.za

Meer oor:  Musiek  |  Teater  |  Nac  |  Kuns  |  Visuele Kuns  |  Ayanda Mabulu
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.