
’n Blik op die skilderye op ’n spesiale uitstalling in Kotzé Kunsgalery. Foto: Floris Kotzé
Min mense kan ’n winskoop weerstaan en dit wat Kotzé Kunsgalery van einde vandeesweek uitstal, is so ’n aanbod.
Die eienaar, Floris Kotzé, sê hulle het na die werke in hul stoorplek gekyk en besluit nou is ’n goeie tyd om die skilderye uit te haal, af te stof en uit te bring.
Werke van kunstenaars soos Sandy Beukes, Ronald West, Anine Barnard, Richard Rennie, Claerhout, Kobus Kotzé en talle ander bekendes sal teen afgemerkte pryse verkoop word.
Floris sê hulle roteer gereeld skilderye tussen die galery en die stoorplek. Werke wat volgens hulle genoeg blootstelling gehad het en nie verkoop het nie, gaan stoorplek toe en word later weer uitgehaal. “Dit is soos die verkoop van ’n huis. Partykeer word ’n huis ná ’n tyd van die mark gehaal en as dit weer te koop aangebied word, is dit net die regte tyd vir die regte koper. Dieselfde geld skilderye.”
Die beskikbare mediums dek die hele spektrum, van olie- en waterverf tot linodrukke en etse, pen- en houtskoolsketse, pastel en akriel.
Onder die sowat 60 skilderye is daar ’n bekostigbare Carla Bosch, Daniel Novella of ’n Annie Maddock en ’n Jacobus Silwer wat jy begeer het, maar nie voorheen kon bekostig nie.
Floris sê dit is nie ’n Swart Vrydag- of Covid-19-verkoping nie. Dit is voorraad wat vir kunsliefhebbers teen sowat die helfte van die oorspronklike prys aangebied word.
Die spesiale uitstalling duur van 27 November tot 7 Desember.
Lazarus
Dié houtkerfkunstenaar, wat net onder die naam Lazarus werk, stal gereeld sy werke in die Kotzé Kunsgalery uit. Sy huis in die township by Bloemfontein is vandeesweek in die storm vernietig.
Kotzé het die huis vir hom gebou en sê die ironie is die sinkhuisie wat hy as werkplek gebruik, het staande gebly terwyl sy woonhuis se sinkmure aan flarde is en sy meubels oral gestrooi gelê het.
Kotzé sê mense wat belang stel om te help, kan hom by 082 785 4995 bel sodat hulle saam ’n werkbare plan kan maak.