Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Gevierde kunstenaar Christo sterf

Die internasionaal gevierde kunstenaar Christo, wat veral bekendheid verwerf het met sy toedraai van ikoniese geboue en bakens in dikwels helderkleurige lap of plastiek, is Sondag dood.

Christo met sy ‘The Floating Piers’, wat hy in 2016 op die Iseo-meer in Italië opgerig het. Meer as 270 000 mense het daarna gaan kyk. Hy en Jeanne-Claude het die voorbereiding daarvoor gedoen.Foto: Wolfgang Volz

Christo (84), wat saam met sy vrou en mede-kunstenaar, Jeanne-Claude, gewerk het aan onder meer aan die drapering van die Berlynse Reichstag-gebou in 1995 asook die drapering van die Pont-Neuf in Parys in 1985, is aan natuurlike oorsake in New York dood.

Só eindig ’n besonderse en verreikende kunstenaarskap wat oor vyf dekades gestrek het – en wêreldwyd ’n indruk gemaak het. Meer as 270 000 mense het in 2016 gestroom na sy voorlaaste werk, The Floating Piers, op die Iseo-meer in Italië. Mense kon oor die water op geel materiaal loop na ’n klein eiland in die meer.

Nie Christo of Jeanne-Claude wou hul kuns binne die mure van ’n galery aanbied nie. Hul kuns en kunstenaarskap het landsgrense getroef; hulle was inderdaad wêreldburgers.

Die gedrapeerde L’Arc de Triomphe in Parys soos geskets deur Christo. Dit word steeds beplan vir September volgende jaar in die stad. Foto: Christo en Jeanne-Claude se tuisblad

Christo het dit een keer in ’n onderhoud met die tydskrif Surface toegeskryf aan die feit dat hy vir 17 jaar nie ’n vaderland gehad het nie. Hy het as 21-jarige uit Bulgarye ontsnap, die Hongaarse revolusie in 1956 beleef en toe in Oostenryk en Switserland gaan woon. Hy was brandarm en kon geen Westerse taal praat nie.

“Ek was ’n politieke vlugteling sonder ’n nasie. Ek was so woedend oor die gevoel dat ek nêrens in die wêreld hoort nie - ek het aan niemand behoort nie,” het hy in die onderhoud met Surface gesê.

Die duo se eerste werk saam in Frankryk (waar albei studeer het) was getiteld Wall of Oil Barrels – The Iron Curtain (1961–1962) in reaksie teen die Berlynse muur wat die stad in twee verdeel het.

Hulle het oor die jare ’n gevolg opgebou – getroue kunspelgrims wat elke werk wat die twee geskep het, met hul eie oë wou sien voordat dit afgehaal is.

Een van Christo en Jeanne-Claude se sketse vir die drapering van die Pont Neuf in Parys in 1985.Foto: Christo en Jeanne-Claude se tuisblad

Jeanne-Claude is in 2009 dood, maar Christo het onverpoos op sy eie aanhou werk. Baie van sy laaste werke was nog met haar volledige inset beplan.

Sy jongste projek sou wees om die L’Arc de Triomphe in Parys in 2021 in ’n lapbaadjie te tooi. Die planne word dalk nog bewaarheid danksy die gevorderde beplanning wat Christo agtergelaat het.

Die twee het dikwels jare gewag om toestemming te kry vir hul projekte. Vir toestemming vir die toedraai van die Reichstag-gebou het hulle 25 jaar gewag en die kopknik vir die The Gates, ’n reeks enorme oranje vlae in Central Park, New York, het ná 26 jaar gekom voordat hulle dit in 2005 opgerig het.

Hul draperings en ander projekte was reusagtig wat omvang en beplanning betref. Christo het die sketse van die voorbereiding van sy werke verkoop om so onafhanklik te bly en seggenskap in die oprigting van hul werk te behou.

Van die duo se ander groot werke is die drapering in pienk lap van 11 onbewoonde eilande in Miami se Biscaynebaai (1980-1983) asook die vlot getiteld London Mastaba wat bestaan het uit 7 000 kleurryk geverfde oliedromme, wat in 2018 op die Serpentine-meer in Londen gedryf het.

Elke kunswerk, nie net syne nie, is ’n uitroep vir vryheid, het Christo gereeld gesê.

Die kunspaar het ook benadruk dat hul werk dikwels geen dieper betekenis het as die estetiese nie, dat hulle vreugde wou bring asook ’n nuwe manier om na die werklikheid te kyk.

Die twee is op dieselfde dag, 13 Junie 1935, gebore – Christo in Bulgarye en Jeanne-Claude in Morokko.

– Saamgestel deur Laetitia Pople met bykomende bronne BBC, Wikipedia en die kunstydskrif Surface.

Meer oor:  Kunstenaar
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.