Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Gevierde SA fotograaf (63) dood

Santu Mofokeng, bekende Suid-Afrikaanse fotojoernalis, is Sondag in Johannesburg dood. Christiaan Boonzaier het met kenners oor sy lewe en werk gesels.

Santu Mofokeng op die Venesiese Biënnale se 55ste Internasionale Kunsuitstalling in 2013. Foto: Getty Images

Die Suid-Afrikaanse fotograaf, fotojoernalis, kunstenaar en skrywer Santu Mofokeng is Sondag in sy huis in Kensington, Johannesburg, dood. Hy was 63 jaar oud.

Mofokeng is in 2015 met ’n seldsame breinsiekte gediagnoseer.

Grace Meisie Mofokeng, een van sy susters, het aan Netwerk24 gesê hulle is nog nie presies seker wat die oorsaak van sy dood is nie.

“Toe ek hom die laaste keer gesien het, kon hy sit, maar glad nie praat nie,” sê sy. “Daar was ook ’n voedingsbuis in sy maag. Hy het begin huil toe ek hom vra hoe dit met hom gaan.”

Sy sê die gesin – onder andere sy vrou, Boitumelo, en sy drie kinders, Thato, Reikanne en Ntshadi – sal eers Dinsdag vergader om begrafnisreëlings te tref.

Mofokeng is in 1956 in Soweto gebore en het volgens sy suster as kind al met kameras gespeel. Hy was in sy jeug ’n aktiewe straatfotograaf, voordat hy as donkerkamer-assistent by onder meer Beeld gewerk het. Hy het hom in die 1980’s aangesluit by Afrapix – ’n groep fotograwe wat Suid-Afrika in die apartheidsera op film vasgevang en die politieke bestel teengestaan het.

Volgens Paul Weinberg, fotograaf, kurator en medestigter van Afrapix, het Mofokeng ook in (die koerant) Die Transvaler se donkerkamer gewerk toe hy deel van die Afrapix-familie geword het.

“Dit is by Afrapix waar hy ’n fotograaf in eie reg geword en ’n ongelooflike loopbaan as fotograaf en kunstenaar begin het,” sê Weinberg.

“Ek en Santu het van twee verskillende wêrelde gekom – hy Soweto, ek destyds Yeoville – en ons het ’n ongelooflike vriendskap gebou danksy ons uiteenlopende perspektiewe van die lewe.

“Hy het ’n fantastiese humorsin gehad, hy was ook altyd baie nuuskierig – en hy was ongelooflik talentvol.”

Weinberg sê Mofokeng het ’n oog gehad om die alledaagsheid in sy foto’s vas te vang, veral die daaglikse werklikheid wat swart Suid-Afrikaners in die apartheidsera moes aandurf.

Hy (Mofokeng) was beslis een van ons grootste fotograwe.
Marilyn Martin

Marilyn Martin, onafhanklike skrywer en kurator, sê sy is “baie hartseer” oor die nuus van Mofokeng se dood. “Hy het lank gely,” sê sy.

Martin en Mofokeng se paaie het vir die eerste keer in die vroeë 1990’s gekruis toe sy in 1994 deur die organiseerders van ’n biënnale in Bamako, Mali, genooi is om die werk van twee Suid-Afrikaanse fotograwe vir hulle saam te stel.

“Ek het Santu en Ingrid Hudson gekies,” onthou Martin. “Hy het destyds nog ’n ateljee by Wits gehad en ons is saam Bamako toe.”

Martin, wat eens die direkteur van die Suid-Afrikaanse Nasionale Kunsmuseum in Kaapstad was, het ook ’n hand gehad in die tentoonstelling van Mofokeng se stellig bekendste werk, Black Photo Album, op die Derde Internasionale Fotografiese Biënnale in Tenerife, in die Kanariese eilande, asook ’n oorsigtentoonstelling van sy werk by die Iziko- Suid-Afrikaanse Nasionale Kunsmuseum in 2007 om sy 50ste verjaardag (in 2006) te vier.

“Hy was beslis een van ons grootste fotograwe,” sê Martin.

“ ’n Groot deel van sy nalatenskap is Black Photo Album, wat ’n uiters belangrike blik op swart mense in die 19de en 20ste eeu gee.

“Die oomblikke voor en ná 1994 waarop hy deur sy kuns kommentaar gelewer het, is genuanseerd en subtiel. Jy kan nie sy werk vergeet nie.

“En hy was ’n ware kunstenaar met sy kamera. Elke foto was ’n kunswerk, en jy kan dit in terme van komposisie – die lig en die donker – ontleed.

“Sy oeuvre is ongeëwenaard in Suid-Afrika, veral sy benadering tot fotografie.”

Martin sê Mofokeng was “absoluut toegewyd aan sy werk en het in terme van sy én ander fotograwe se werk geen ruimte vir kompromis gelaat nie.

“Ek het op hom staatgemaak, veral sy mening van ander fotograwe en kunstenaars se werk,” sê sy.

“Hy was ’n baie eerlike mens. Sy antwoord was nie altyd die antwoord wat jy wou hoor nie, maar dis ’n antwoord wat ’n mens áltyd kon vertrou. Sy integriteit was werklik onwrikbaar.”

Melvyn Minnaar, kunskenner en -skrywer, sê Mofokeng se werk is “merkwaardig vanweë die menslikheid wat uit die eenvoudigste situasies straal.

“Sy vertrekpunt was dokumentasie, waar sy loopbaan begin het, maar dis asof hy altyd die persoonlikhede, die karakters, in die prente ’n eie teenwoordigheid en identiteit gegee het,” sê Minnaar.

“Die gewone mense is nooit toevallig nie, die landskap nie verwese nie. Kykers is maar al te bewus van die narratief wat rondom die ikoniese, vasgevangde beeld uitspeel.”

Minaar sê Mofokeng se foto-essays is “meesterlike dokumentasie. Sy beroemde Black Photo Album van ou prente is baanbrekerswerk van swart bemagtiging.”

Hy was werklik een van Suid-Afrika se beste fotograwe wat verstaan het dat ‘stiller’, alledaagse oomblikke en lewensgrepe net so belangrik is as opskrifte.
Samantha Reinders

Volgens die fotograaf Samantha Reinders, wat ’n groot aanhanger van Mofokeng se werk is, is sy nalatenskap eintlik “onbeskryflik”.

“Hy was werklik een van Suid-Afrika se beste fotograwe wat verstaan het dat ‘stiller’, alledaagse oomblikke en lewensgrepe net so belangrik is as opskrifte – en hy het dít gedoen met ’n poëtiese gevoel, baie empatie en slim vertelkuns. Hy was werklik ’n reus,” sê Reinders.

Sy sê daar is ook baie wat jong fotograwe uit Mofokeng se argief kan leer.

“Hy het nie roem of neigings nagejaag nie, maar stadig maar seker gebeitel aan sy kuns, wat uiteindelik as ’n geheel ’n enorme indruk gelaat het. Hy het ook bewys hoe die kamera ’n noodsaaklike stuk gereedskap is, wat met harde werk die wonderlikste stories kan vertel.”

Mofokeng se werk is op uitstallings oor die wêreld heen gewys en hy het wyd lof daarvoor ontvang, onder meer ’n eredoktorsgraad van die Universiteit van die Witwatersrand in 2016.

Mofokeng se oeuvre ‘niks minder as poëties’
Volgens Lunetta Bartz, ’n direkteur van die Santu Mofokeng-stigting, is sy (Mofokeng se) oeuvre niks minder as poëties nie.
“Sy werk is genuanseerd en dit is nooit net wat jy sien nie: Dit is ryk in betekenislae,” sê Bartz.
“Hy is ook een van die min kunstenaars wat ongelooflik mooi oor sy eie werk geskryf het – en ook dít is digterlik.”
Volgens Bartz is een van sy laaste groot prestasies die redigering van sy lewenswerk, wat die uitgewer Steidl in 18 volumes uitgegee het.
Santu Mofokeng: Stories is letterlik sy hele oeuvre wat in ’n oorsigversamelstuk saamgevat is. Hy was mede-redigeerder en het dit stap-vir-stap aanmekaar gesit. Hy het dit voltooi voor hy weens sy siekte stil geword het.”
Meer oor:  Fotografie  |  Santu Mofokeng  |  Kuns
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.