Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Geweld van veldbrand inspireer Jean Dreyer
‘burnt white’ (olie op houtpaneel 90 cm x 60 cm) deur Jean Dreyer. Foto: Verskaf

Die geweld van ’n veldbrand by Rooi-Els vorm die inspirasie vir Jean Dreyer se solo-uitstalling burnt white in die Galery @ Glen Carlou naby Klapmuts.

Met dié titel skep Dreyer nie net ’n nuwe kleur in die kleurpalet van gebrande omber, gebrande siënna en gebrande oker nie, maar omvat ook die teenoorgesteldes wit en swart in een geheel.

Dit was nie die verwoesting of ’n gevoel van vervreemding wat haar bygebly het nie, sê sy, maar ’n gevoel van immanensie wat sy in die gebrande landskap ervaar het.

Dit wat was, is negeer. Wat oorgebly het, was veel meer as die tekstuur van as. Nie ’n afsluiting nie, maar ’n visie op dit wat is –

‘Blackened Land I – Reflection’ (29,5 cm x 23 cm) deur Jean Dreyer. Foto: Verskaf

dit wat oorleef ná die proses van negasie. In haar kunstenaarsnota stel sy dit so: “I sensed be-in(g). And the charred remains morphed into protagonists negotiating a belonging that can no longer begin than it can end –”

Die apofatiese benadering word deur Dreyer, ’n visuele kunstenaar met ateljees in Kaapstad en Bloemfontein, uitgedruk in olieskilderye, collagesketse en ’n kunstenaarsboek. Die boek, met enkele foto’s van die brandskade en poëtiese teks daardeur geïnspireer, word op ’n videoskerm vertoon.

Veelvuldige lae van betekenis onderskryf die werk.

Scorched, ’n reeks op vyf houtpanele, verbeeld die oop vensters tussen die gebrande takke. Dit is ’n plek waar die grens tussen

Die kunstenaar Jean Dreyer. Foto: Verskaf

behoort en hoort uitgewis is, ’n plek van vrywording en lewe. Die letsels in die verskroeide fynbos en kreupelbosse word in liber en burnt score as ’n abstrakte skrif weergegee. Die oorgang van afsluiting na insluiting word in werke soos black(end) en (end)white, de-creation en apophatic aangeraak.

Aansluitend by die tema van dood en lewe is verwysings na die Middeleeuse ikonografie, soos die gebruik van rondele (sirkels waarin narratiewe geskilder word) en fragmente van ou verwantskap-stambome. Hier verwys veral die diptiek Tree of Life en A Life daarna.

Dit sluit ook aan by die twee werke oor Marguerite Porete, wat ná ’n inkwisisie oor haar mistieke oortuigings op ’n brandstapel in 1310 in Parys verbrand is. Beitelmerke op die houtoppervlak van etlike van die oliewerk versterk die onderbou oor verlies, terwyl die negatiewe ruimtes vernuwing simboliseer.

Identiteit en verbondenheid, afstamming en erfenis word ondersoek. Dit kom onder meer na vore in collage-sketse soos genealogy of a life (descent and generation) of in passaging.

burnt white betrek onteiening en toeëiening. Om te hoort is om ’n plek sonder ’n begin en met geen einde nie te ken, of in die woorde uit een van Dreyer se versstrofes:

’n eindstrofe

beëdig met ’n oop punt

Dreyer, ’n gebore Vrystater, het voorgraads aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) studeer en nagraads aan die McGill-Universiteit in Montreal, Kanada.

burnt white kan tot 22 April tussen 10:00 en 17:00 van Maandag tot Sondag besigtig word in die Galery @ Glen Carlou. Die werke verskyn op die webblad https://glencarlou.com/wp-content/uploads/2021/03/Burnt-White-Catalogue.pdf.

Meer oor:  Jean Dreyer  |  Visuele Kuns
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.