Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Gewese gevangenes ontdek hulself in kuns
Neelan Naidoo werk in die ateljee by die Breytenbach-sentrum in Wellington. Foto: Verskaf

Elke Saterdag kom ’n klompie oudgevangenes by die Breytenbach-kunstesentrum in Wellington byeen.

Hier word hulle deur die kunstenaar Marieke Kruger onderrig in teken- en drukkuns.

Die klasse is deel van die Outside/Inside-tronkkunsprojekte (OIPA). Kunsklasse help om “negatiewe energie en opgekropte gevoelens en ervarings op ’n meer positiewe manier te konfronteer”, glo Kruger.

Dié kunsopvoeder en kunstenaar, wat werk aan ’n doktorsgraad oor die transformatiewe en empatiese potensiaal van die tekenproses, bied ook reeds geruime tyd kunsklasse aan in die Groot Drakenstein- en die Allandale-tronk in die Paarl-omgewing.

Die skep van kuns word ’n manier van selfontdekking en erkenning, meen Kruger.

“Ek glo dat die proses nodig is omdat baie van die gevangenes negatiewe selfbeelde het en sukkel met gevoelens van waardeloosheid, wat tot destruktiewe gedrag, asook misdadige oortredings kan lei.

Neelan Naidoo en Joseph Buys neem binnekort aan uitstallings deel. Hier is hulle by Marieke Kruger, wat kunswerksessies vir oudgevangenes aanbied. Foto: Verskaf

“In ons werkswinkels binne die tronk poog ons om talentvolle gevangenes te vind vir wie ek dan in drukkuns, asook tekenvaardighede onderrig. As die gevangenes die tronk verlaat, word hulle uitgenooi om deel te neem aan ons werkswinkels by die Breytenbach-sentrum.

“Ons hoop om hulle verder op te lei om later hul eie solotentoonstellings te kan aanbied.”

Van die kunstenaars, soos Joseph Buys en Neelan Naidoo, neem binnekort aan uitstallings deel. Naidoo se eerste solotentoonstelling, Fragmented Self, open op 20 Junie in die Mok-galery op die wynlandgoed Muratie, en dan open Buys en Kruger se gesamentlike uitstalling, The Waiting Room/Die wagkamer, op 22 Augustus, ook by die Mok-galery. Albei is onder kuratorskap van Cecile Blevi.

“Ons probeer vir elkeen van die gevangenes (ongeag die vlak van hul artistieke talent) ’n positiewe ervaring in ons werkswinkels gee en fokus op hul sterk punte sodat elkeen sy eie unieke vorm van uitdrukking kan vind.”

’n Selfportret deur Joseph Buys. Dit is ’n droëpunt-ets.

Diegene wat hul kunsopleiding nie verder wil neem nie, het kunsvaardighede ontwikkel en kon in ’n “veilige ruimte praat oor hul persoonlike ervarings (positief of negatief) deur die medium van druk- en tekenkuns”.

Hulle fokus by die sentrum ook om produkte te ontwikkel vir herverkoop en om so geld in te samel vir die projek. Hulle is besig met die maak van sakke vir onderwysers in Utrecht, Nederland. Die projek is deur die Winnie Rust-stigting gesteun.

Kruger hoop dat die projek selfonderhoudend kan word. Tans verskaf hulle kunsmateriaal en help met vervoerkoste.

“Ons wil die eertydse gevangenes optimaal bemagtig. Daar word van hulle verwag om die nodige werketiek, karakter en deursettingsvermoë te ontwikkel sodat hulle ook ander mense kan help wat in hul voetspore wil volg. Soos ek altyd vir hulle sê: ‘We are our brother’s keeper indeed.’”

’n Groeptentoonstelling van die kunstenaars is in die vooruitsig. “Ons stal ook van tyd tot tyd uit in die Breytenbach-galery danksy die kurator Anne-Ghrett Erasmus se hulp.”

Kruger werk ook as kunsonderwyser by die Jack Meyer-kunssentrum in die Paarl. Sy het in die Banhoek-vallei buite Stellenbosch op ’n plaas grootgeword en het kuns aan die P.J. Olivier-kunssentrum op Stellenbosch studeer. Dit is hier waar sy besluit het om kuns haar loopbaan te maak.

“Dit vir my verstommend hoe my belangstelling in die menslike psige en my behoefte om mense te help, asook my liefde vir kuns en die dramatiese alles saamvloei in dit wat ek vandag doen.”

• Kontak die Breytenbach-sentrum by 021 873 2786 vir nadere besonderhede. Kontak Blevi oor die uitstallings per e-pos by cecile@mokgallery.com of bel haar by 072 5535 547.

Meer oor:  Wellington  |  Paarl  |  Visuele Kuns
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.