Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Gouws se skilderye gestroop, hou asem op

Die kunstenaar Andries Gouws se jongste tentoonstelling, En tog . . . And Yet . . ., het pas in die Glen Carlou-galery geopen. Hier volg ’n verkorte weergawe van die digter Kobus Moolman se openingsrede.

Die stilheid van ’n skildery – sy beweerde stilte en onbeweeglikheid – verberg iets wat altyd meer is as die som van sy onderskeie dele; iets wat altyd oor die rand van die raam stort of deursypel. Iets waarvan nie rekenskap gegee word, of gegee kan word nie.

Behalwe . . . By wyse van die dubbele logika wat ons teëkom en beleef in die titel self van Gouws se uitstalling En tog . . . And Yet . . .

‘Twee kwepers teen blou agtergrond’, deur Andries Gouws.

Hoe beweeg ’n skildery soos Studie van twee kwepers teen ’n blou agtergrond met sy diep kleure, die sterk vorms, en die rangskikking van die vorms, hoe beweeg hierdie stil skildery “at the still point of the turning world” (om T.S. Eliot se “Four Quartets” aan te haal)?

Wat verklaar hierdie dubbelhandigheid in ’n goeie skildery? Hierdie double-jointedness? Hoe verstaan ons hierdie vermoë van ’n skildery om “still and still moving te wees” (weer Eliot)?

Skilderye soos Umbilo swembadkleedkamer I en 2 plaas my voor ’n raaisel. Op een vlak gebeur daar klaarblyklik heeltemal niks in die skildery nie. Daar is geen verhaal wat ontvou nie. Geen rekwisiete of karakters om lewe in die tafereel te blaas nie. Ons kan nie eens voorgee dat daar een of ander geheime betekeniskode skuil in die kleure en vorms nie.

Alles in die skildery is bewus ingekort. Gestroop. Die twee skilderye hou asem op, nie omdat hulle wag vir iets om te gebeur nie, maar omdat niks verder kan gebeur nie. Want inderwaarheid het die tyd tot stilstand gekom.

En tog . . .

‘Umbilo swembadkleedkamer 1’, deur Andries Gouws.

Binne hierdie bewegingloosheid, hierdie stilte, hierdie leegte, agter en reg rondom hierdie leegheid is die eggo, die oorblyfsel, die herinnering aan iets, ’n spook vasgevang in die mure en in die vloer, en die eensame bankies en die fletse wit lig. Hierdie dinge sien terug, altyd net terug. Hulle het niks om na uit te sien nie.

As kykers is ons ontstig omdat die skilderye sinspeel op iets waarby ons nie kan uitkom nie, waarvan die aard ons uitsluit.

Die banke, die mure, die stukkende paneel in die plafon – in ander skilderye die groente, die drinkbekers, die liasseerkabinette, skedels, beddens en laaikaste – al hierdie dinge weet iets wat ons nié weet nie. Hulle het ’n onafhanklikheid, ’n bestaan buite en sonder ons.

In sy opstel oor die Duitse kunstenaar Jan Peter Tripp skryf W.G. Sebald:

“What matters in Tripp’s still lifes is not that the painter applies his skill and mastery to a more or less fortuitous assemblage of objects but the autonomous existence of things to which, like blindly furious working animals, we stand in a subordinate and dependent relationship.”

‘Hoekie van die Rusts se kombuis’, Stilbaai, deur Andries Gouws.

Sebald keer, soos Gouws, ons gewaande beheersing van dinge en voorwerpe om. Ons staan in werklikheid “in a subordinate relationship” tot hulle. Die omgekeerde van wat ons al so lank aanneem. En juis dit is dit wat ons aan hierdie werke ontstig.

Sebald gaan voort: “In principle things outlast us, they know more about us than we know about them: they carry the experiences they have had with us inside them and are – in fact – the book of our history opened before us.”

Daar het ons dit dus.

Wat ons ontstig – daardie gevoel byna soos om ’n leeg gewaande kamer binne te loop, en tog te weet dat dit óns is wat bekyk word – is niks anders as hierdie afstand tussen onsself en die voorwerpe nie.

En ís hierdie voorwerpe vertroud. Salige rissies. Teer rooi en geel en groen. Skadelose koffiebekers en papiersakke. Ongevaarlike lang rooi gordyne en vensters.

En tog . . .

Daar is hoegenaamd niks huisliks aan enige van hierdie dinge nie. Dit is nie speelgoed of troeteldiere nie. Kyk kan ons, maar besit kan ons nie een van hulle ooit nie. En Gouws weet dit; elk van hierdie beelde behou hierdie skrikwekkende kennis net-net in sy greep.

Gouws se skilderye van stilheid – van stilte en bewegingloosheid – is klein bolwerke teen hierdie leegheid wat voor ons opdoem. Hulle beweeg, en beweeg ons, net omdat hulle self weet hoe verregaande hulle mislukking is. Want soos Eliot in sy “Four Quartets” sê:

“Words move, music moves / Only in time; but that which is only living / Can only die. Words, after speech, reach / Into the silence.”

*Moolman is ’n skrywer, digter en die hoof van UWK se program van kreatiewe skryfwerk.

*Die uitstalling duur tot 29 Maart in die Glen Carlou-galery.

Gouws sal op Sondag 23 Februarie om 11:00  rondleiding gee. Bel 021 875 5528 vir navrae.

Hy sal ook as deel van vanjaar se Toyota US Woordfeesprogram op Maandag 9 Maart om 14:30 oor sy werk praat in sy ateljee in Jamestown (Stellenbosch), waar meer as 20 van sy ouer skilderye byeengebring is.

Meer oor:  Andries Gouws  |  Kuns
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.