Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Groot gees in kuns word 80
Herman van Nazareth voor die Kunstekaap-sentrum.

Dit sal nie verkeerd wees om te sê dat Herman van Nazareth ietwat van ’n oproerige in die plaaslike kunswêreld was en is nie. Kleurvol, ’n hardekoejawel – en dan, natuurlik, verfynd in denke en in talent geslyp – sou ander beskrywings wees.

Herman van Aerde is op 6 November 1936 in Evergem, Oos-Vlaandere gebore. (Sy “naamsverandering” se metaforiese subteks is ’n interessante inset.) Sedert hy in 1965 in die Kaap voet aan wal gesit het, reis hy gereeld tussen Suid-Afrika en België. Twee tuistes, maar stewig langs die see by Jakkalsfontein geanker.

Steeds so energiek uitgesproke soos immer, is dit asof hy lyflik, serebraal en skeppend ewe min verouder het as sy beste kunswerke waarvan soveel steeds dinamies eietyds voorkom. Selfs skilderye van vyf en meer dekades gelede, beelde van toentertyd, kan lewend en intrigant voor jou dans.

Die tydloosheid van Van Nazareth se beste kuns is geanker in sy lewenslange omgang met die essensiële, amper primitiewe aard van die mens as wese en dié se eksistensiële teenwoordigheid – sy omgewing, sy landskap en samesyn.

Herman van Nazareth

Daarby koester Van Nazareth ’n oortuigde romantiese geloof in die uitdrukkingspotensiaal van die medium en manier, en van vorm, hetsy skilder of beeldhou. ’n Kunstenaar se kunstenaar is hy, al sou hulle nie altyd mekaar in die oë kyk nie.

In sy heel eerste skilderye is sy belangstelling duidelik die manier en orde van vorm in byvoorbeeld landskappe en stillewes. Daar is visuele trefkrag in die modernistiese minimalisme.

In ’n vroeër era – straks sy bekendste en aktiefste tydperk in Suid-Afrika – was daar sterk maatskaplike en politieke trekke in sy skilderye. Hier iewers begin ’n tema van portrette: koppe en maskers, soms satiries, soms individueel, telkens anoniem en primordiaal. Krag en teenwoordigheid kenmerk diegene wat hierin vasgevang word.

Twee hiervan in die versameling van die Iziko SA Nasionale Kunsmuseum tel onder sy beste en mees kenmerkende werke: Rooi generaal (1965) en Mady in landskap (1968), albei op bordpapier. Dis twee skilderye wat drasties verskillende aspekte van sy “portrette” illustreer.

Nodeloos om te noem dat daardie ongenaakbare jare in Suid-Afrika vormend was vir Van Nazareth se denke, optrede en kuns. Hy het aanhoudend gewerk weens dié drif van die kunstenaar. Tot vandag toe, sê hy, is sommige skilderye steeds nie voltooi nie.

Onder die bekoring van die Vlaamse impressioniste, was Van Nazareth reeds aan’t skilder toe hy as 24-jarige in België aan die Koninklike Akademie in Gent begin kuns studeer het. In 1963 vind hy meer aanklank by Carlo de Roover van die Koninklike Akademie in Antwerpen. Dis ’n ontmoeting met die bekende kunstenaar Floris Jespers in 1964 wat sy kunsloopbaan op koers sit.

’n Skildery van Herman van Nazareth.

In 1965 kry hy ’n beurs om Suid-Afrika te besoek. By die Michaelis-kunsskool kom hy met die dinamiek van die plaaslike in aanraking: die kunsmense, die denke, die politiek. Hy bevind hom verweef in die Kaap se lewenskragtige kunsgemeenskap.

Michaelis se beeldhouklasse intrigeer hom. Hier ontdek hy die forsheid van driedimensionaliteit, die mag van ruimtelike plastisiteit.

Ná die welslae van sy eerste uitstallings hier – die eerste in 1967 by die Wolpe-galery – bou hy aan die kulturele bande met sy geboorteland en vertoon hy sy werk hier en daar. Tot vandag toe bly hy in ’n sekere sin ’n landgenoot van albei lande.

In België word Herman van Nazareth hoog geag en is hy al telkens vereer. Ook in Suid-Afrika is hy telkemale met oorsigtentoonstellings (soos in 2005) erkenning gegee.

In al dié gevalle, waar sy kuns met meer as ’n verbygaande oog bekyk word, is die temas en idiomatiek klinkklaar en deurlopend. Min kunstenaars sou so ’n tydlose en presiese identiteit kon handhaaf.

In 1965 maak sy hande twee figuurtjies van kwalik 15 cm hoog en in 2011 word hulle in twee reuse van 6 m omskep. Vandag staan Uitbundigheid triomfantelik voor Kunstekaap. Monumentaal.

Meer oor:  Verjaarsdag  |  Kuns
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.