Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Hanekom gee virus 'n gesig met ‘koronakoppe’
Een van Sandra Hanekom se balpunttekeninge, wat deel vorm van die koronakop-reeks.

’n Tentoonstelling van Sandra Hanekom het pas in Switserland geopen. Daarby het sy ’n reeks werke met die koronavirus voltooi uit media wat sy byderhand gehad tydens die inperking – ’n balpuntpen.

Sy is die eerste kunstenaar van Afrika wie se werk in die Galleria Berno Sacchetti pryk, vertel sy per e-pos uit Frankryk, waar sy tydens die inperkingstyd is.

Die afgelope drie jaar het Hanekom eintlik haar loopbaan opsygeskuif om heeltyds ’n kunsjuffrou te word. Sy het kunsklas vir haar seun, Simon Bouwer, en ’n klompie ander leerlinge aan die Hoërskool Piketberg in die Swartland gegee – en sy het hulle gedril!

Daarom was dit ’n groot verrassing dat die galery in Ascona, Switserland, haar werk vir ’n solotentoonstelling wou hê.

Sandra Hanekom in die hoekie waar sy haar kunswerke skep.

Die tentoonstelling spruit uit die kurator Cecile Blevi van die MOK-galery op die Muratie-landgoed, naby Stellenbosch, se bemarking van Hanekom se werk.

Die uitstalling kon weens die Covid-19-pandemie nie in Maart open soos beplan nie.

“Die hele storie was heel uit die bloute. Ek het regtig nie beplan om ’n uitstalling nou te hê nie. Die drie jaar se skoolgee was uitdagend. Daar was geen kunsonderwyser in Piketberg beskikbaar om werklik op ’n volgende vlak kuns aan te bied nie en my seun wou die vak tot matriek neem. Toe home school ek maar my kind saam met so ’n paar ander kinders.

“Dit was heerlik om weer skool te gee – en my leerlinge het briljant gedoen. Die klasgemiddeld was 90%,” sê sy trots.

As ’n juffrou is sy eintlik ’n slawedrywer.

’n Koronakop in Sandra Hanekom se reeks met die koronavirus as tema.

“As ek klas gee, gee ek 100%, so ek verwag dieselfde van my leerlinge. So ná drie jaar van juffrou Rottenmeier wees, was ek so bietjie ‘leeg’.”

Sy wou eintlik net ’n tydjie “rondmors met verf en sien wat gebeur. Dit is belangrik dat kunstenaars somtyds nie weet wat om te doen nie! Dit skep ruimte vir nuwe maniere van maak.

“Ek het ’n paar nuwe werke vir die galery gemaak, maar die Switserse galery-eienaar het ook belang gestel in ouer stukke oor die laaste paar jaar wat nog beskikbaar was. Dit was uitdagend, want gewoonlik werk ek met ’n oorhoofse tema.”

Die werke is almal olieverfskilderye en “wat ek sou beskryf as my meer whimsical stukke”.

Hanekom was egter bekommerd oor die koronavirus en of sy haar werk betyds in Switserland sou kry. Sy het die saak in China so bekyk en eintlik vroeg vanjaar gevra of sy nie die werke vroeër moet verskeep nie. Sy was bang die grense maak toe. En toe gebeur dit.

“Blykbaar is Switserse galery-eienaars soos Switserse bankiers – frustrerend kalm. Daardie tipiese Europese selfversekerheid dat krisisse net met ontwikkelende lande gebeur.

“Ascona is in die suide van Switserland, wat grens aan Italië, wat letterlik die koronavirusbrandpunt in Europa was.”

Gelukkig is haar kunswerke klein, “so gewoonlik pak ons die hele lot in twee groot tasse en neem dit saam op die vlug”.

Sy en haar man, Ferdinand Bouwer, het op 11 Maart vertrek, bietjie meer as twee weke voordat die staat van inperking in Suid-Afrika in werking getree het.

Van Sandra Hanekom se werke wat in ’n galery in Switserland te sien is.

Hulle sou net vier dae in hul huis in Boussac, in sentraal-Frankryk, spandeer. Toe sluit Frankryk se grense en op 16 Maart word die inperking afgekondig. “Mense het letterlik ’n paar uur gehad om als reg te kry. Ons was vir maande afgesny van die res van die wêreld.”

Sy kon die werke uiteindelik eers maande later versend toe beperkings opgehef is. “Ek was hartseer, ek het vir agt maande aan die uitstalling gewerk.”

Die inperkingstyd het haar egter tyd gegee om te speel. By haar huis in Frankryk het sy net beperkte kunsmateriaal beskikbaar gehad. Vandaar is haar nuwe reeks wat koronakoppe uitbeeld met balpuntpen geteken.

“Die koppe het organies gebeur. Dit is portrette met gesigte uit my verbeelding. Soos die virus is hulle ‘nuutskeppings’. Ek wou nie visueel verwys na al die holruggeryde visuele beelde waaraan mens oor kwarantyn, infeksie of epidemies dink nie.”

Sy wou hulle eers ’n bietjie vir haarself hou voordat sy dit op sosiale media geplaas het.

“Ek beplan 20 ‘koronakoppe’. Ek het ’n paar idees oor die ‘koppe’. Ek wil hulle beskikbaar maak as drukwerke en oorweeg ook om hulle te laat druk op materiaal. En hulle moet bekostigbaar wees, as tekeninge is hulle te duur vir die meeste mense om te koop.

“Daar is iets aan die koppe wat die kyker verteder teenoor hulle. Ek vermoed dit is omdat hulle basies aan ’n virus ’n gesig gee . . . en dit dan minder vreesaanjaend is.”

• Hanekom se tentoonstelling kan besigtig word by http://www.galleriaberno.ch

Meer oor:  Korona  |  Visuele Kuns
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.