Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Hart se kamers laat kyker verwonderd
Sanell Aggenbach se Madre pietà, gegote brons (200 x 114 x 110 cm).

Die kunstenaar Sanell Aggenbach se jongste tentoonstelling in die Circa-galery in Johannesburg, se gewyde stemming laat die kyker verwonderd oor die hart se intieme binnekamers, skryf Johan Myburg.

As kunstenaars profete sou wees en galerye tempels, kan ’n mens kwalik ’n meer gewyde oomblik ervaar ná ’n kort bedevaart na Circa se eerste vloer as dié stil ellips-ruimte met Sanell Aggenbach se Madre pietà reg in die middel van die vloer.

Kudo’s vir die kuratoriale kragtoer om ’n hele galery af te staan aan ’n enkele werk.

Maar anders as die Pietà in die Vatikaan, ’n beeld waarmee Michelangelo iets wou laat blyk van die eenheid tussen mens en God deur die voldoening van Christus, is dit die moederfiguur wat in Aggenbach se komposisie prominensie kry – benadruk deur die “madre” in die titel. En moontlik die verwondbaarheid wat moederskap meebring as een manifestasie van ’n hartkamer.

n Mens raak inderdaad stil voor dié gaaf gepoleerde moeder-en-kind-duo sonder gelaat, sonder uitdrukking van emosie behalwe dié wat die postuur en die eggo van Michelangelo bied. Nêrens kry jy toegang tot die binnewêreld van dié twee en die verhouding tussen hulle nie. Jy stap om en om, bewus van ’n oomblik, gesuspendeer in tyd en ruimte (die speelgoedhase se voete raak nie die grond nie).

Dit is die beliggaming van ’n private domein, ’n goue draad deur Aggenbach se oeuvre wat in The Heart Has Many Rooms gestalte kry; ’n leefwêreld en omstandighede wat ’n mens met miljoene ander mense deel, maar wat enig is en bly. En intiem.

Dit is die beliggaming van ’n private domein, ’n goue draad deur Aggenbach se oeuvre wat in The Heart Has Many Rooms gestalte kry; ’n leefwêreld en omstandighede wat ’n mens met miljoene ander mense deel, maar wat enig is en bly. En intiem.

Tussen beeldhou- en skilderwerk bied Our Lady in Silence ’n brug. Inhoudelik (met die liggende pietà-figuur deels sigbaar), maar ook ten opsigte van materialiteit.

So uitgestryk en gaaf as wat Aggenbach se beeldhouwerke afgewerk is, soveel voue en valleie is daar in haar skilderdoeke. Dit is asof al die kartels van Carrara-marmer vir haar voortleef in skilder eerder as in beeldhou.

Soos uiterlike emosie weggepoleer is in haar Madre pietà word Our Lady se emosie versluier in en deur verf. Verf word behendig (’n mens kan jou bloot verstom aan haar hantering daarvan) tegelyk ’n medium van uitdrukking én verhulling.

Nie minder privaat nie, is die versameling werk op die grondvloer wat uitdrukking gee aan ’n ander intimiteit, ’n ander kamer van die hart. En so word doeke lakens, gekarteerde streke van die liefde (Atlas I, II en III), en voue waarin onthou loop lê.

Jare lank al werk Aggenbach verbluffend met verf op doek om ’n tussenin-wêreld te verbeeld (in die mate waarin ’n liminale bestaan verbeeld kan word). In sulke bloue wat dalk die akute weemoed-weergawe van sepia sou kon wees – wat nie vergeel nie, maar die intensie van onthou behou.

So het dit reeds geblyk uit Blues and Greys, haar eerste Johannesburg-uitstalling in 2006. Die volgende jaar het sy dit opgevolg met Perfectly Still en het ’n skemerwêreld tussen foto en negatief, tussen historiese en private, uit die verf gekom.

Haar jongste werk met titels soos Half Light, Last Light en Travel Light is dermate ’n inkeer na binne en ’n profetiese nadruk op die private in ’n era waarin alles meteens ontbloot staan, oop, sigbaar en interpreteerbaar vir almal.

Desnoods moet ’n mens nie te veel wil verstaan van die hart met die baie kamers nie. Verwonder jou eerder.

Tot 24 Augustus. The Heart Has Many Rooms – Sanell Aggenbach, Circa, Johannesburg in Jellicoelaan, Rosebank. Besoek www.everard-read.co.za.

Meer oor:  Johannesburg  |  Visuele Kuns
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.