Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Het raad operasangeres op swartlys geplaas?

Die direksie van die Nasionale Kunsteraad (NAC) sê hulle gaan nie op gerugte reageer dat hulle die operasangeres Sibongile Mngoma op ’n swartlys geplaas het nie.

Sibongile Mngoma op dag 37 van die sitstaking in die Nasionale Kunsteraad se kantore in Johannesburg. Die sitstaking het van 3 Maart tot 1 Mei geduur. Foto: Gallo Images / Deon Raath

Mngoma, wat vroeër vanjaar vir 60 dae in die kunsteraad se kantore in Johannesburg oor hul gebrekkige bestuur van sogenaamde PESP-finansiering betoog het, is vroeër vandeesweek ingelig dat haar aansoek om dié finansiering afgekeur is.

“Is ek op meriete afgekeur of is dit omdat ek hulle tot verantwoording geroep het?” het sy op die Im4theArts-beweging se Facebook-blad gevra.

“Ek gaan dit opvolg. Hulle is gewoond daaraan om hul werk af te skeep. Hulle sal dié keer hul werk moet doen en antwoorde moet verskaf. Dit is net die begin . . .”

Mngoma het haar aansoek in Desember ingedien, in dieselfde maand dat die kunsteraad veronderstel was om die finansiering uit te deel. Die kunsteraad kon egter teen Donderdag nog net ’n raps meer as R208 miljoen van die R300 miljoen uitbetaal wat dit verlede jaar as deel van die presidensiële stimulusprogram vir werkskepping (PESP) ontvang het.

Dit is dié gesloer wat Mngoma en sowat 20 ander kunstenaars, bekend as die groep Abahlali, genoop het om met die sitstaking te begin. Netwerk24 het breedvoerig berig sy het eindelik vir 58 nagte onder ’n tafel in die kunsteraad se raadsaal geslaap om teen die aangeleentheid te betoog.

. . . ek is nie daarvan bewus dat die NAC ’n agentskap is wat mense swartlys nie.
Tshepo Mashiane, NAC-direksielid

Mngoma het Dinsdag aan Netwerk24 gesê sy het nog nie ’n amptelike bevestiging gekry wat redes verskaf vir hoekom haar aansoek afgekeur is nie.

“Ek het op die stelsel (waarop aansoeke aanlyn ingedien is) gesien dat my aansoek uiteindelik ná ses maande as ‘afgekeur’ aangedui is.

“Ek is nie verras nie.”

Tshepo Mashiane, ’n NAC-direksielid en die direksie se woordvoerder, het aan Netwerk24 gesê hy weet nie hoekom Mngoma se aansoek afgekeur is nie. Hy het wel gesê dat die uitslag van alle aansoeke eers op hul stelsel aangedui word voordat aansoekers briewe kry wat die uitslag bevestig. Aansoekers wat afgekeur is, sal die spesifieke rede daarvoor in dié brief ontvang.

“Ek gaan nie kommentaar lewer op die gerugte (dat Mngoma op ’n swartlys geplaas is nie), want ek is nie daarvan bewus dat die NAC ’n agentskap is wat mense swartlys nie.

“Ons mandaat is bloot om finansiering aan kunstenaars en organisasies in die kulturele en kreatiewe bedryf in Suid-Afrika uit te betaal.”

Meer oor:  Tshepo Mashiane  |  Abahlali  |  Sibongile Mngoma  |  Pesp  |  Nasionale Kunsteraad  |  Im4thearts  |  Nac
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.