Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Hier is wenners van New Breed-kunskompetisie
Die wenners in die New Breed-kunskompetisie: Bokang Nkejane, merietewenner, Miné Kleynhans, merietewenner, Bongani Tshabalala, publiek se gunsteling, Neo Theku, wenner, en Kay Fourie, naaswenner. Die fotografiese werk regs is Theku se wenwerk en links steek ’n gedeelte van Fourie se bekroonde werk uit. Foto: Lientjie Mentz

Kunswerke wat op twee ontstellende kwessies in Suid-Afrika fokus, het die beoordelaars van meet af aan beïndruk en is toe ook uiteindelik met die hoofpryse in vanjaar se New Breed-kompetisie vir Vrystaatse kunstenaars bekroon.

Neo Theku het die wenprys van R50 000 vir sy fotografiese werk Suicide Mask ontvang, en Kay Fourie die tweede prys van R20 000 vir ’n groot houtskooltekening getiteld Scrapyard.

Die twee werke hang toevallig langs mekaar in die Oliewenhuis-kunsmuseum, waar die wenners verlede Donderdag aangekondig is.

Die merietewenners, wat elkeen R10 00 ontvang het, is Miné Kleynhans vir haar installasie, Moral Compass, en Bokang Nkejane vir ’n olie-en-pastelwerk, I was in the Jim.

Die publiek het Bongani Tshabalala se twee fotografiese werke Deeper into the soul en Hidden pain as gunstelinge aangewys. Hy het ook R10 000 ontvang.

Theku, ’n derdejaar-kunsstudent aan die Sentrale Universiteit vir Tegnologie (SUT), kon nie sy vreugde bedwing toe sy naam as algehele wenner aangekondig is nie. Hy was ook in sy noppies met die beoordelaars se opmerking dat sy werk hulle van die begin af aangegryp het.

Sam Moleko, ’n direkteur van Phatshoane Henney, die prokureursfirma wat die kompetisie vanjaar die vierde keer aangebied het, sê Suicide Mask dwing mens om na te dink oor die donker sy van die lewe waarmee jong mense dikwels worstel.

Fourie, ’n oudstudent van die Universiteit van die Vrystaat (UV), beeld die hoogs relevante kwessie van waterskaarste, droogte en voedselsekuriteit in Scrapyard uit. Die beoordelaars sê dié tekening is tegnies deeglik uitgevoer en konseptueel kragtig.

Kleynhans, ook ’n UV-oudstudent, se installasie van glas en houtkerfwerk wat uit die dak hang, handel oor die verskillende weë rakende omstrede kwessies waarlangs moraliteit vloei.

In sy groot helderkleurige werk druk Nkejane, ’n kunsstudent aan die SUT, sy siening van oorvloed, arrogansie en seksualiteit uit, terwyl Tshabalala sê sy foto’s dui op die onbuigsame opvattings en verwagtinge wat die gemeenskap van mans en vroue het.

Die vyf wenners is uit 36 finaliste gekies van wie 44 werke nog tot 24 November in Oliewenhuis te sien is.

Die beoordelaars was Thabo Seshoka, ’n spesialiskurator van die Absa-kunsgalery in Johannesburg, die Gautengse kunstenaar Colbert Mashile, Nonto Sheryl Msomi, die projekbestuurder van die Kunsbank van Suid-Afrika, en Karen Brusch, voorheen direkteur van die Momo-galery in Johannesburg en stigter van die Free State Art Collective.

Meer oor:  Wenners
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.