Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Hof bevind raad se aansoek om interdik is dringend

Die Nasionale Kunsteraad (NAC) is amptelik een stappie nader aan ’n interdik wat sowat 20 sitstakers sal dwing om sy kantore in Newtown, Johannesburg, te verlaat.

Regter Motsamai Makume (links) het die saak Dinsdag weens die pandemie via Microsoft Teams aangehoor.

Adv. Willem Bezuidenhout, namens die kunsteraad, het regter Motsamai Makume Dinsdag in die hooggeregshof in Johannesburg oortuig dat die aansoek om ’n interdik inderdaad dringend is. Makume het die saak egter tot Woensdag uitgestel om die sitstakers genoeg tyd te gee om ’n antwoordende verklaring in te dien.

Romeo Ramuada, president van die Suid-Afrikaanse Kunste-en-kultuurjeugforum (SAACYF), het namens die sitstakers in die hof beweer die kunsteraad se aansoek is nooit op hulle beteken nie – en dat hy nie eens weet hoekom hulle in die hof is nie.

“Geen van die respondente het enige dokumente ontvang nie – dit is wel op Facebook en WhatsApp versprei, maar dit is nooit amptelik op ons beteken nie,” het Ramuada gesê.

“Ek weet nie eens hoekom ek hier is nie. Ek het maar net my naam op sosiale media gesien.”

Makume het Ramuada en die sitstakers tot Dinsdag om 16:00 kans gegee om die aansoek te bestudeer en ’n antwoordende verklaring in te dien. Die kunsteraad moet dié antwoordende verklaring bestudeer en teen Woensdag om 10:00 ’n repliserende verklaring inhandig, voordat Makume die saak weer om 14:00 op dieselfde dag sal aanhoor.

Netwerk24 het Dinsdag berig dat die kunsteraad hom tot die hof wend om sitstakers uit sy kantore te verwyder wat sedert 3 Maart betoog teen sy (die kunsteraad se) omstrede bestuur van R300 miljoen se noodfinansiering.

Die kunsteraad het dié geld as deel van die presidensiële stimulusprogram vir werkskepping (PESP) ontvang en was veronderstel om dit teen Desember aan kunstenaars uit te betaal. Die kunsteraad het teen Dinsdag egter nog net sowat R105,8 miljoen aan 750 van 1 374 begunstigdes uitgedeel.

Sibongile Mngoma Foto: Facebook

Dít het tot ’n sitstaking gelei wat op 1 Maart deur die operasangeres Sibongile Mngoma begin is. Mngoma het die sitstaking op dieselfde dag tydelik onderbreek, maar dit weer op 3 Maart onverpoos hervat. Sy het teen Dinsdag reeds 34 nagte onder ’n tafel in die kunsteraad se raadsaal geslaap om teen die kwessie te betoog – en sy het voorheen gesê sy sal daar bly totdat al die begunstigdes betaal is wat hulle belowe is, al moet sy vir 700 dae daar bly.

Mngoma het Maandag aan Netwerk24 gesê die kunsteraad se aansoek om ’n dringende interdik skeel haar min.

“Ons gaan nêrens heen nie, want hulle het nie die saak met behoorlike omsigtigheid hanteer nie. Daar is stappe wat jy moet volg voordat jy iemand kan uitsit en hulle het nie eens die eerste stap sinvol nagekom nie,” het sy gesê.

“Hulle is boelies wat staatsinstellings misbruik. Dit (die aansoek om ’n interdik) pla my nie. Ek wil eintlik hê dat hulle moet voortgaan om die wet te oortree sodat hulle hulself kan blootstel.”

Meer oor:  Sibongile Mngoma  |  Pesp  |  Nasionale Kunsteraad  |  Nac
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.