Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Im4theArts skep handves vir regte van SA kunstenaars

Die dramaturg Mike van Graan het saam met die bestuur van die Im4theArts-beweging ’n handves geskryf waarin hulle die regte uitstippel waarop kunstenaars in Suid-Afrika aandring.

Van Graan het die aanvanklike konsepdokument as deel van Im4theArts se werkgroep oor kultuurbeleid opgestel.

Dié beweging, waarin Van Graan ’n aandeel het, is in Januarie verlede jaar as ’n aanlyn inisiatief begin, maar is in Augustus met die operasangeres Sibongile Mngoma aan die stuur as ’n amptelike beweging gevestig. Die doel is om met die regering oor sy gebrekkige steun aan kunstenaars sedert die uitbreking van die Covid-19-pandemie in gesprek te tree.

Die “Handves van regte vir Suid-Afrikaanse kunstenaars”, wat ná ’n ronde bywerkings vanaf September deur belangstellende organisasies aangeneem sal kan word, dring onder meer op die volgende aan:

  • die reg tot waardigheid en om te werk;
  • die reg om “die onreëlmatige aard van inkomste binne ons bedryf” te erken en dat daar daarvoor in toepaslike wetgewing, soos arbeids- en belastingwetgewing, voorsiening gemaak moet word;
  • die reg om “ons werk, diensvoorwaardes en besoldiging in duidelike, skriftelike kontrakte te laat uiteensit”;
  • die reg op vryheid van kreatiewe uitdrukking en om vry van teistering, afknouery en diskriminasie in enige vorm te wees;
  • die reg op die beskerming van intellektuele eiendom en “tot billike vergoeding wanneer ons kreatiewe bydraes verdere bykomende inkomste genereer”;
  • die reg om in professionele verenigings en vakbonde te organiseer;
  • die reg op veilige werkomstandighede;
  • die reg op maatskaplike voordele, soos mediese sorg en sekuriteit in die geval van werkloosheid; en
  • die reg om “deel te neem aan die formulering, implementering, monitering en evaluering van kulturele en indiensnemingsbeleide wat ons lewens en lewensbestaan regstreeks beïnvloed”.

Van Graan sê die handves is gegrond op talle bestaande internasionale en plaaslike dokumente, onder meer Unesco se “Recommendation on the status of the artist”, asook eise wat “oor ’n lang tydperk” deur kunstenaars gemaak is.

“Die konsepdokument is toe aan die werkgroep oor kultuurbeleid voorgelê, wat op sy beurt bydraes gelewer het wat bygewerk is,” sê hy.

“Daar was ook ’n behoefte om dit in ander tale te vertaal sodat dit wyd gesteun kan word.” Die handves is daarom onder meer in Afrikaans beskikbaar.

Hy sê dat die regering wat die Federasie vir Kulturele en Kreatiewe Bedrywe in Suid-Afrika (CCIFSA) as die “sogenaamde verteenwoordigers van die kreatiewe sektor” in die land aangestel het, een van die redes is dat Im4theArts en die Teater-en-dans-alliansie (Tada) die handves wou neerpen.

“Dit (CCIFSA) het geen geloofwaardigheid nie, ’n ledetal van nul, en geen prestasies van die verlede nie. So die handves is ’n manier vir kunstenaars om op te staan vir die reg om hulself te organiseer – en om self op hul regte aan te dring.

“Dit is ook ’n werkstuk wat vir die eerste keer die tipe regte uiteensit wat kunstenaars glo hulle het, op dieselfde manier as wat werkers in ander sektore van die ekonomie vir hulself aanspraak op regte gemaak het en dit nou deel van wetgewing is wat hulle beskerm.”

Mike van Graan Foto: mikevangraan.co.za

Van Graan sê hy hoop die regering neem die handves ter harte, verseker dat sommige aspekte daarvan in die wet opgeneem word, en dat ander in bestaande beleide bygewerk sal word.

Hy sê hulle het hul ondersteuners reeds genooi om aan te dui watter van die regte vir hulle die belangrikste is sodat Im4theArts en ander organisasies saam ’n veldtog kan loods om die regering sover te kry om dié regte te erken en met wetgewing te bekragtig.

“Een van die eerste dinge wat ons moet doen, is om vas te stel wat reeds ten opsigte van dié regte bestaan en waar die leemtes is. Ons kan dan beplan om vas te stel wat moet gebeur om hierdie regte te kry.

“Ons kan dan met ’n veldtog in plek die handves jaarliks evalueer om vas te stel watter vordering gemaak is – en watter stappe noodsaaklik is.”

Kunstenaars word genooi om die handves te steun of toevoegings voor te stel deur die vorm op hierdie webblad in te vul.

Benewens Mngoma steun sowat 300 kunstenaars, onder andere Albert Maritz, Antoinette Kellermann, Basil Appollis, Charl-Johan Lingenfelder, Fiona Ramsay, Gérard Rudolf, Gregory Maqoma, Ian von Memerty, Jack Devnarain, Jennifer Steyn, Kanya Viljoen, Lee-Ann van Rooi, Lizz Meiring, Louis Viljoen, Neil Coppen, Richard Cock, Saartjie Botha, Susan Beyers en Sylvaine Strike dit reeds.

Die handves word amptelik op 28 Julie om 18:30 op die Facebook-blad Charter of Rights for South African Artists bekend gestel. Devnarain, ook president van die Suid-Afrikaanse Akteursgilde (Saga), sal uit die handves voorlees.

Stuur ’n e-pos na artistschartersa@gmail.com vir meer inligting.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.