Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Javett-UP open op Tuks-kampus
Besoekers aan Javett UP met die Alexis Preller-werk op die agtergrond.

Die splinternuwe kunstesentrum Javett UP in Pretoria het onlangs met vier uitstallings van hoogstaande gehalte geopen. Johan Myburg het gaan kyk.

Javett UP, soos die nuwe kunstesentrum op die kampus van die Universiteit van Pretoria heet, is op Erfenisdag amptelik geopen met vier uitstallings in verskillende dele van dié gebou wat deur Mathews & Genote Argitekte ontwerp is. Die gebou is op Tuks se suidkampus geleë en strek oor Lynnwoodweg met ’n ruim uitstallokaal in die bruggedeelte.

Die Javett-familieversameling, die eiendom van die Javett-stigting en byeengebring deur Michael Javett, die Johannesburgse sakeman wat ’n groot deel van die kapitaal vir die oprigting van die sentrum gegee het, word in een vleuel van die gebou uitgestal. Die werk bestaan hoofsaaklik uit moderne Suid-Afrikaanse kuns, verteenwoordig deur kunstenaars soos Hugo Naudé en Walter Battiss.

Daarby het die belangrike Mapungubwe-goudversameling permanente uitstalruimte in die gebou gekry en so ook AngloGold se Barbier-Mueller-versameling van meer as 350 stukke in goud van Wes-Afrika.

Die vlagskip-uitstalling is egter 101 Collecting Conversations: Signature Works of a Century, die versameling van 101 werke wat Christopher Till, direkteur van Javett UP, byeengebring het uit permanente versamelings oor die land heen.

Soos die titel aandui bestaan dit uit seminale en histories belangrike werke, verteenwoordigend van die era waarin dit tot stand gekom het. Daarby is dit werke wat gesprekke aan die gang kan kry en lank aan die gang kan hou.

Daar is onder meer sterk werke uit die laaste paar dekades van die 20ste eeu, soos Michael Goldberg se Hostel Monument for the Migrant Worker (1978), ’n ongetitelde skildery van Bill Ainslie (1986), David Brown se Voyage II (1987), Penny Siopis se Patience on a Monument: “A History Painting” (1988), Sam Nhlengethwa se It Left Him Cold – The Death of Steven Biko (1990) en Sue Williamson se Truth Games (1998).

As kuns die rol het om op te voed, te vermaak en te verstom, voldoen dié versameling werke met sy rykdom materiaal en inligting aan dié verwagting. Dit is verblydend dat begeleide skoolgroepe onder meer die openingsgeleentheid op 24 September bygewoon het.

’n Sygalery met werke van Dumile Feni, die Keiskamma-Guernica en beeldhouwerk van Walter Oltmann.

Benewens ouer juwele soos Gerard Sekoto se Women in the Suburbs (sonder jaartal) en Irma Stern se Arab Priest (1945) is die diamant in die Javett UP-kroon Alexis Preller se Discovery (1959-1962) wat nou ’n permanente plek in dié galery gekry het nadat dit jare lank uit die oog in die TPA-gebou in Pretoria gehang het. Dit is louter vreugde om dié tafereel wat oor net minder as 13 m strek te betrag.

So ook Christo Coetzee se vroeë Garden of Delights (1964), wat deel is van die versameling van die Pretoriase Kunsmuseum en nie aldag uitgestal word nie.

Dat Till planne met Javett UP het, is nie altemit nie. Nog voor die opening het hy gesê Javett UP is ’n plek waar mense deur middel van kuns meer oor hulself en ander te wete kan kom. Dit is ’n plek wat die storie vertel van waar ons vandaan kom, wie ons nou is en waarom dit belangrik is dat ons in Afrika is. “Dis ons Afrika en dis ons kuns.”

Om die kunstesentrum gevestig te kry as ’n vastrapplek in Afrika, met die oog op opleiding en bewaring, maar meer nog, met die oog op ’n gesofistikeerde (opleiding)sentrum vir restourasie van kunswerke, is onder meer in Till se visier.

Die feit dat Javett UP gekoppel is aan ’n akademiese instelling (wat ook finansieel bygedra het) plaas dié kunstesentrum in ’n ander liga as ander kunsgalerye wat ook met private finansiering op die been gebring is.

En dit strook met Till se siening van Javett UP as “ ’n plek waar daar omgegaan kan word met die kuns van Afrika; en afgesien van navorsing daaroor, ook besinning oor versamelmetodologieë en die behoeftes van die kuns van Afrika”.

Meer oor:  Kuns
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.