Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Jazz-tema in Sam Nhlengethwa se terugblik-uitstalling
Ode to Thelonius Monk (litografie in vyf kleure, 76 x 106 cm) deur Sam Nhlengethwa.

Jazz is ’n onlosmaaklike deel van die visuele kunstenaar Sam Nhlengethwa se lewe, daarom is dit geen verrassing dat die tema van sy terugblik-uitstalling oor dié musiek handel nie.

Hy noem dit Leeto, wat ’n reis beteken, en dié reis beeld hy in sy Print Retrospective uit wat 40 jaar se werk beslaan.

Sy terugblik strek van 1978 tot 2018 en sal in die Johannes Stegmann-galery op die kampus van die Universiteit van die Vrystaat te sien wees.

Nhlengethwa voer sy gebruik van die jazz-tema wyer deur ’n vergelyk te tref tussen die vloeibare aard van jazz-improvisasie en ’n voortdurend veranderende gemeenskap.

Hy vertel sy wêreld is deur jazz-klanke ingekleur vandat sy broer, Rayda Becker Jabulane, jazz begin speel en op 17 jaar oud met ’n plateversameling begin het.

Jazz is nie net ’n herhalende en inspirerende tema in Nhlengethwa se kuns nie, hy sê dit help ook die betragter om sy oeuvre beter te verstaan.

Die medium waarin Nhlengethwa hom verkieslik uitdruk, is kunsdrukwerk wat hy in die Evangeliese Lutherse Kerk se Kunssentrum by Rorke’s Drift in KwaZulu-Natal geleer het en in 1978 gegradueer het. Drukwerk was een van die belangrikste dissiplines in dié bekende sentrum.

Hy sê hy het darem nie net by drukwerk vasgehaak nie. Nhlengethwa skilder ook, maak collages en van sy werk is in tapisserie en mosaïek uitgebeeld.

Die grootste gros van sy werk, asook die uitstalling, bestaan egter uit kunsdrukwerk waarvan hy sedert 1994 163 stukke gelewer het. Hy gebruik litografie, linosneë, etse, fotogravure en sifdruk om sy sosiopolitieke en kulturele ervarings te vergestalt, en daarby geniet hy dit as “ ’n platform vir gesprekvoering met die publiek”.

Nhlengethwa, wat in 1994 Standard Bank se Jong Kunstenaar van die Jaar was, se kuns is in private en openbare versamelings opgeneem, onder meer die Johannesburgse Kunsgalery, die Iziko Nasionale Galery en die Wits-kunsmuseum. Hy het ook in Frankryk, Kuba, New York, Japan en Duitsland uitgestal.

Boitumelo Tlhoaele, die kurator van die uitstalling, is self ’n vername kunstenaar. Sy is ’n doktorale genoot van die Africa Open Institute for Music, Research and Innovation aan die Universiteit Stellenbosch. Haar raakpunt met Nhlengethwa is haar navorsingsonderwerp wat oor die oorvleueling tussen jazz en kuns handel. Sy het ’n meestersgraad in erfenisstudie aan die Universiteit van die Witwatersrand verwerf.

* Leeto: A Sam Nhlengethwa Print Retrospective duur van 11 Maart tot 17 April in die Johannes Stegmann-galery in Bloemfontein. Belangstellendes kan hulle op 12 Maart om 10:00 by ’n gratis rondleiding aansluit.

Meer oor:  Bloemfontein  |  Kuns
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.