Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Jong vroue wen toppryse
Marguerite Kirsten by die installasie Embodimentwaarmee sy vanjaar die Absa L’Atelier-kunsprys gewen het.Foto’s: VERSKAF

Die uitbeelding van ’n jong kunstenaar se stryd om haar gesondheid in kunswerke het gisteraand aan haar die Absa L’Atelier-kunsprys besorg. Dié prys is een van die gesogste in sy soort in Afrika.

Marguerite Kirsten van Kaapstad is die algehele wenner en Philiswa Lila van die Oos-Kaap is vanjaar die wenner van die Gerard Sekoto-prys vir die belowendste Suid-Afrikaanse kunstenaar.

Dit is die 33ste jaar waarin die kompetisie, wat belowende jong kunstalent op die Afrika-vasteland bevorder, aangebied word.

Kirsten se installasie van bottels met urine, ander liggaamsvloeistowwe, laboratoriumglas, ligte, klanke en ’n mediese onderhoud is getiteld Embodiment – en dui op die verganklike aard van haar liggaam.

Philiswa Lila by een van die werke wat aan haar die Gerard Sekoto-prys besorg het.

Kirsten ly aan ’n niersiekte. Al voel sy haar liggaam is ’n onderwerp vir mediese ondersoek poog sy met die installasie om nie haar liggaam te objektiveer nie, maar om waardigheid daaraan te verleen, het sy volgens ’n mediaverklaring gesê.

’n Reeks selfportrette geskep uit krale het aan Lila die Gerard Sekoto-prys besorg. In dié werke ondersoek sy die nuanse van taal, betekenis en individualisme binne die groter konteks van die Xhosa-kultuur. Sy werk met die betekenis van haar naam – “wees genees” – om haar boodskap te bring.

Tendense wat volgens die beoordelaars in die inskrywings na vore gekom het, is ’n sterk fokus op identiteit, die politieke landskap in die kunstenaars se vaderland, gendersake, grondbesit in Suid-Afrika, gedwonge verskuiwing asook sosiopolitieke vraagstukke.

Vanjaar het 12 Afrikalande deelgeneem aan die gesogte kompetisie. Dit was die eerste keer dat inskrywings van Namibië en Nigerië ontvang is.

Vanjaar se drie merietepryswenners is Gillian Abe van Uganda met Seat of Honour, Henry Obeng van Ghana met Recycle Frame 2 en Kirsten Eksteen van Suid-Afrika met Patterns and Pattern Body.

Die drie is ook onder die toptien finaliste van 2018 tesame met Kirsten, Christiaan Kritzinger, Lodewyk Barkhuizen, Sikelele Damane, Carli Bassin en Lemmenze Davids van Suid-Afrika en Ayo Akinwande van Nigerië.

Kirsten wen ses maande se verblyf in ’n woonstel by die Cité Internationale des Arts in Parys, ’n retoerkaartjie na Parys en R330 000. Die geld moet aangewend word vir studies gedurende die verblyf. Lila wen eweneens drie maande se verblyf by die Cité Internationale des Arts.

Een van die merietepryswenners wen ’n verblyf van drie maande by die Bag Factory in Johannesburg, retoerkaartjies na dié stad en ’n toelae. Nog ’n merietepryswenner ontvang verblyf van twee maande by die Sylt-stigting op die Duitse eiland Sylt, asook retoerkaartjies na Duitsland en ’n toelae. ’n Derde merietepryswenner ontvang ’n maand lange verblyf by die Ampersand-stigting in New York, insluitend retoerkaartjies na dié stad, ’n toelae en museumkaartjies.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.