Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Judith Mason was ‘getrou aan haar eie kuns’

Judith Mason het getrou gebly aan haar kuns en oortuigings en het nie agter modes of nuwe kunsstrominge aangeloop nie. 

Só huldig die kunskenner Marilyn Martin die gevierde Suid-Afrikaanse kunstenaar Judith Mason, wat Donderdagoggend gesterf het in haar huis op Witrivier. Sy was 78.

“Sy sal onthou word vir haar meesterlike tegniek wat teken en skilder betref. Sy het gehou by haar kuns en hoe sy dit gesien het. Haar temas en onderwerpe was werklik uniek in Suid-Afrikaanse kuns. Sy het ’n realistiese tegniek aangewend in haar kunswerke wat uiteindelik surrealisties en metafisies geword het. Soms was dit vir die toeskouer moeilik om na haar werk te kyk. Dit was juis dít wat ’n mens waardeer van haar werk.”

Mason het in Junie vanjaar ’n uitstalling van nuwe werke op die kunstefees Hermanus FynArts gehad. Sy het in verskeie media gewerk, onder meer in olie, potlood, drukkuns en gemengde media. Verskeie gesogte kunstenaarsboeke uit haar hand het verskyn. Haar werke was ryk aan simboliek en mitologie.

Mason se werk is in talle groot museums en korporatiewe versamelings opgeneem, nie net in Suid-Afrika nie, maar ook in versamelings in Europa, Amerika en Australië. 

Sy het haar kunsopleiding aan die Universiteit van die Witwatersrand ontvang en haar eerste solotentoonstelling  in 1964 gehou. Sy het Suid-Afrika op die Venesiese Biënnale verteenwoordig, asook op Art Basel. 

In die jare negentig het haar werk deel van die Suid-Afrikaanse skool- en universititeitkurrikulums geword. 

Haar opdragwerke sluit onder meer samewerking met Marguerite Stephens vir die Royal Hotel in Durban in, asook loodglaswerk vir die Great Park-sinagoge in Johannesburg. 

Sy het ook werk in boeke gepubliseer en nou saam met digters gewerk aan gesamentlike publikasies met woord en beeld. Sy het onder meer die voorblad vir die digter Joan Hambidge se bundel Lot se vrou ontwerp.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.