Die Kaapse fotograaf Chris Fallows is aangewys as die algehele wenner van die Global Eye-prys vir kontemporêre kuns.

Chris Fallows se weninskrywing, ‘Air Jaws’. Foto: Chris Fallows
Fallows het die prys gewen vir sy foto van ’n grootwithaai wat in Valsbaai uit die water spring. Die foto, getiteld Air Jaws, is uit meer as ’n duisend inskrywings vanoor die wêreld as die wenner gekies.
Die aankondiging is Sondag as deel van die STARTnet-kunsskou se uitstalling in die Saatchi-galery in Londen gedoen.
“Dit is ’n groot eer,” sê Fallows aan Netwerk24. “Dit bevestig dat my werk gelykstaan met van die beste werk ter wêreld, ondanks die feit dat kunsfotografie gereeld tweede viool speel vir meer tradisionele vorms van kuns.
“Ek dink dit (die prys) is ook veral belangrik vir kuns-natuurfotograwe omdat daar al hoe meer belangstelling in die kunsvorm is danksy mense wat meer omgewingsbewus raak.”

Chris Fallows
Fallows (48) het in sy loopbaan as fotograaf die wêreld reeds meermale deurkruis en het nie net foto’s op al sewe vastelande geneem nie, maar ook op see waar hy al sowat 3 000 uur deurgebring het. Sy werk is in meer as 60 dokumentêre ingesluit, onder meer vir die BBC en die kanale National Geographic en Discovery Channel.
Hy sê hy het Air Jaws as sy inskrywing gekies omdat hy voel dit is sy “mees ikoniese foto”. Ook omdat dit gedrag in grootwithaaie illustreer wat byna nooit vasgevang word nie.
Die foto is eintlik deel van ’n fotoreeks getiteld The Eleventh Hour waarin Fallows die natuur in al sy glorie vasvang – maar waarmee hy mense tegelykertyd waarsku dat hul impak op die planeet op die rand is om van dié skoonheid geheel en al uit te wis.
“Die fotoreeks is ’n werk van hoop,” sê hy. “As ons veranderinge maak aan die manier hoe ons in hierdie wêreld woon, kan ons ongelooflike natuurlewe en habitatte red en toekomstige generasies blootstel aan dít wat ek so gelukkig is om te sien. Ons moet wel nóú optree.”
Hy sê kuns-natuurfotograwe kan hierin ’n groot rol speel.
“Die spreekwoord lui dat ’n foto boekdele kan spreek – en dit ís so,” sê hy.
“ ’n Foto kan ’n boodskap sonder klank oordra deur net een keer vinnig daarna te kyk. My werk is om die kern van wat elke spesie so besonders maak, oor te dra, dit ten toon te stel en te vier en dit op só ’n manier te doen dat dit ook esteties aangenaam is en ’n mens emosioneel daarby aanklank vind.”
- Lesers wat meer van Fallows se werk wil sien, kan www.chrisfallows.com besoek of hom op Instagram by chrisfallowsphotography volg.