Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Kaapse kunstenaars betoog ook teen Nasionale Kunsteraad

Kunstenaars in Kaapstad gaan Saterdag met ’n reeks opwipvertonings hul stemme voeg by dié van sitstakers wat reeds sedert 3 Maart onverpoosd by die Nasionale Kunsteraad (NAC) se kantore in Newtown, Johannesburg, betoog.

Die plakkaat wat op sosiale media die ronde doen en Kaapse kunstenaars se betoging deur middel van opwipvertonings adverteer.

Die vertonings gaan die een ná die ander van 11:00 tot 14:30 voor die Kunstekaap aangebied word deur 12 dans-, musiek- en teatergroepe wat net soos hul kollegas in Johannesburg keelvol is vir die kunsteraad se gesloer met die uitbetaling van R300 miljoen se noodfinansiering.

Netwerk24 berig reeds sedert November verlede jaar dat die kunsteraad dié noodfinansiering as deel van die presidensiële stimulusprogram vir werkskepping (PESP) ontvang het. Die raad het kunstenaars genooi om om ’n breukdeel van dié finansiering aansoek te doen sodat hulle vanaf Desember (verlede jaar) kunsteprojekte kon skep wat teen 15 Maart ten einde moes loop. Die kunsteraad het egter teen Vrydag nog net R68,4 miljoen aan kunstenaars uitbetaal.

Die rede vir die vertraging is aan ’n wiskundige fout toegeskryf: Die kunsteraad het 1 374 aansoeke goedgekeur en kontrakte met 613 van dié begunstigdes gesluit – voordat hulle besef het die R300 miljoen-noodfonds is nie genoeg om al die suksesvolle aansoeke te finansier nie.

Die kunsteraad se nuwe direksie, wie se vierjaartermyn op 1 Januarie vanjaar begin het, het vure probeer doodslaan deur aan te kondig dat hulle bloot die 613 kontrakte gaan wysig en vir elke begunstigde tot 70% minder gaan betaal sodat al die begunstigdes ten minste iets kry.

Dié aankondiging was egter olie op die vuur. Die operasangeres Sibongile Mngoma het op 1 Maart met ’n sitstaking in die kunsteraad se kantoor oor die aangeleentheid begin. Hoewel sy die sitstaking op dieselfde dag onderbreek het, het sy dit op 3 Maart hervat en teen Vrydag reeds 23 aande op die vloer van die kunsteraad se raadsaal geslaap om teen die debakel en die lot van kunstenaars in die land te betoog. Mngoma het vroeër gesê sy sal daar slaap totdat al die begunstigdes betaal is wat hul aanvanklik belowe is – al beteken dit sy stap eers ná dag 700 by die kunsteraad se kantore uit.

Kaapse kunstenaars en groepe, insluitende die Jazzart-dansgeselskap en die Ubuntu Opera-geselskap, wil met die opwipvertonings hul steun toewys aan Mngoma én die ander kunstenaars wat hulle intussen by haar aangesluit het.

Ek weet van ’n pianis wat sy klavier moes verkoop om sy rekeninge te betaal. Ek weet van drie mense wat hul eie lewe geneem het. Ek weet van baie bekende kunstenaars wat op ’n plek is waar mense kos by hul huise moet aflewer; hulle is oorgelaat aan die genade van die gemeenskap.
Janis Ellis

Volgens Janis Ellis, een van die Kaapse betoging se woordvoerders, is Kaapse kunstenaars se boodskap duidelik: Genoeg is genoeg.

“Ek praat daagliks met my kunstenaarsvriende, sangers, akteurs, mense voor en agter die skerm, voor en agter die mikrofoon, die tegnici,” sê Ellis, wat ook as eienaar van The Fame Factory die woordvoerder van talle kunstenaars in die bedryf is.

“Ek weet van ’n pianis wat sy klavier moes verkoop om sy rekeninge te betaal. Ek weet van drie mense wat hul eie lewe geneem het. Ek weet van baie bekende kunstenaars wat op ’n plek is waar mense kos by hul huise moet aflewer; hulle is oorgelaat aan die genade van die gemeenskap.

“So dít is hoekom die betoging in die vorm van opwipvertonings belangrik is. Dit is belangrik om ’n punt te maak, saam te staan en te sê genoeg is genoeg. Dit (die NAC se PESP-fiasko) is nie regverdig nie.”

Kunstenaars en die publiek word genooi om die opwipvertonings by te woon en swart klere met ’n kleurvolle hoed, armband of masker te dra.

Die betoging word onder meer deur die Feesteforum (Aardklop, KKNK, Standard Bank Innibos-kunstefees, die Suidoosterfees, Toyota US Woordfees, en die Vrystaat Kunstefees), die Im4theArts-beweging, die Suid-Afrikaanse Akteursgilde (SAGA), die Suid-Afrikaanse Skrywersvereniging (NWASA) en die Suid-Afrikaanse vleuel van die Internasionale Vereniging vir Teater vir Kinders en Jongmense (Assitej SA) gesteun.

Meer inligting is by https://fb.me/e/1gb4x0wya beskikbaar.

Meer oor:  Kknk  |  Feesteforum  |  Aardklop  |  Toyota Us Woordfees  |  Saga  |  Suid-Afrikaanse Akteursgilde  |  Innibos  |  Im4thearts  |  Suidoosterfees  |  Vrystaat Kunstefees  |  Sibongile Mngoma  |  Kuns  |  Teater  |  Dans  |  Musiek  |  Kunste  |  Koronavirus  |  Staat Van Inperking  |  Kunstekaap  |  Pesp  |  Covid-19-Pandemie  |  Inperking  |  Nasionale Kunsteraad  |  Pandemie  |  Covid-19  |  Covid  |  Koronaviruspandemie  |  Nac
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.