Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Kannemeyer reis saam op Magellan se spoor
'n Skets van twee mense op die sieljag Zainabo en Noe.

Die strokiesprentkunstenaar (of strippe soos dit ook genoem word) Anton Kannemeyer het pas ses dae op die seilboot Fleur de Passion deurgebring as deel van ’n reis van vier jaar wat in 2015 in Seville, Spanje, begin het en in 2019 weer daar eindig. Mariana Malan het meer by hom uitgevind oor sy ondervinding. 

Agtergrond

Sowat 500 jaar gelede (1519 tot 1522) het die Portugese ontdekkingsreisiger Ferdinand Magellan die Spaanse ekspedisie na Oos-Indië gelei wat die eerste seereis om die wêreld was. Sedert 2015 volg ’n Switserse seilboot, die Fleur de Passion, sy reis met die doelstellings om die oseaan se huidige stand te karteer, om wetenskaplike inligting in te samel oor die mens se invloed op oseane oor die afgelope eeue en ’n sosio-opvoedkundige program aan te bied vir studente en jong volwassenes. Dit word aangebied in samewerking met verskillende organisasies soos LAB, Ocean Eye, die Great Barrier Reef Foundation, die Remote Sensing Research Centre, die Universiteit van Queensland en La Fondation Pacifique.

Daar is ’n span aan boord wat help om gasse in die atmosfeer, geraasbesoedeling in die oseaan en plastiek wat in die water is te bestudeer.

Anton Kannemeyer se tekening van die Fleur de Passion.

Hoe het jy by die projek betrokke geraak?

Tot op hede het 17 ander kunstenaars aan die projek deelgeneem, meestal strokiesprentkunstenaars, maar ook illustreerders. Ek dink hulle beskou die kartering nie slegs as ’n wetenskaplike navorsingsprojek nie, maar ook as ’n maatskaplike projek. Die hele reis om die wêreld word op film vasgelê, meestal deur dokumentêre rolprentmakers. Kunstenaars sorg vir ’n unieke interpretasie. Daar is geleentheid vir tieners om vir kort rukkies saam om die wêreld te reis. Ek is gekies omdat een van die kunstenaars wat reeds op die boot was my werk ken en my dus aanbeveel het: Deesdae is my werk bekender in Europa as in Suid-Afrika.

Hoe lank was jy op die seilboot?

Nie lank nie. Altesaam ses dae. Weens gure weer moes die seilboot langer in Knysna vertoef as wat beplan is, en ek het gevolglik ’n bietjie later aangesluit. Vrywilligers kan tot vier maande op die boot wees. Ek het sommer vinnig bevriend geraak met die bemanningslede. Hulle reis jaarliks so vier maande saam en werk in Switserland die res van die tyd.

Anton Kannemeyer
‘n Dagboekinskrywing van Kannemeyer met ‘n skets daarby van die dokkie-rolprentmaker Laurent Graenicher.

Wat het jy op die seilboot geleer?

Dit is nie ’n luukse seiljag nie. Mense mag dalk dink dat dit die een of ander eksklusiewe ondervinding is waar jy heeldag gepamperlang word. Allesbehalwe! Ek dink jy leer eerstens hoe om in ’n klein ruimte met ’n klomp mense saam te leef. Dit is belangrik om te besef dat dit nie maklik gaan wees as jy onbedagsaam is nie . . .

Beskryf die skedule wat op die seilboot gevolg word

Daar was ’n baie streng skedule en werk is in groepe verrig. Daar is verwag dat jy moet kook, skoonmaak, toilette skoonmaak en selfs seil (daar is altyd ’n bemanningslid wat die groep lei). Elkeen moet noodgedwonge saamwerk. Ek het dit nogal geniet, jy maak vriende en is die heeltyd besig. Ten slotte het ek seker te min tekeninge gemaak!

Waartoe inspireer so ’n ondervinding iemand wat daarby betrokke is? Maak dit jou lus om te werk, te skilder, te dig en te komponeer, of kry jy bloot lus om om die wêreld te vaar?

Ek glo nie ek sal om die wêreld vaar nie. Daai bootjie het reeds geseil. Miskien toe ek 22 was. Ek is lief vir ruimte en ek het die boot ongelooflik beknop gevind veral toe dit in Knysna gereën het. Die toilet is so klein dat ek elke keer my kop of aan die voorkant of aan die agterkant gestamp het. Ek het dit geniet om op die see te vaar, maar dit lyk vir my na ’n baie eentonige lewe. Ek het die kontak met al die verskillende mense egter vreeslik geniet. Inspirasie kom uit ondervindinge, en ek sal nog moet sien hoe dit my gaan beïnvloed. Intussen het ek ’n hele paar tekeninge gemaak, en dink daaraan om ’n strokiesprent te teken na aanleiding van my onderhoude met die tieners.

Anton Kannemeyer
'n Skets van twee mense op die sieljag Zainabo en Noe.

Vertel meer van die slypskole wat jy gaan aanbied

Dit vind in Januarie plaas. Ek en Alex Baladi (’n Switserse strokiesprentkunstenaar) bied dit aan. Dit sal fokus op hoe om strokiesprente (beter) te teken, maar definitief met ’n maatskaplike inslag. Ek dink studente of leerlinge moet kritiese denkers wees, dinge bevraagteken. Die tieners op die boot is almal “goeie” studente in wiskunde en skei- en natuurkunde. Ek het vinnig besef hulle het min belangstelling in die kunste. Ek vind dit egter jammer dat daar so ’n oorbeklemtoning op wiskunde en wetenskap in die skole is. My belangstelling lê in kuns, geskiedenis en die letterkunde . . . En, moet ek byvoeg, as ek ’n slypskool op die seilboot ook moes behartig het, sou ek werklik min kans gekry het om tekeninge te maak.

* Die gratis slypskole saam met Kannemeyer word van 7 tot 11 Januarie aan boord van die Fleur de Passion aangebied. Dit lê voor anker in die V&A Waterfront, kaai 6 (voor die Table Bay Hotel). Sessies is drie uur lank. Dit sluit ’n toer van die seilboot in. Bespreek deur ’n e-pos te stuur aan Samuel Gardaz (organiseerder van die projek) by samuel@pacifique.ch of 082 526 8463 te bel, of kontak Anja Medau by anja@anjamedau.com.

Meer oor:  Seiljag  |  Visuele Kuns
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.