Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Karakters in spel van lewe uitgebeeld
‘Ophelia’, pastel op katoenpapier in ’n swart raam (1 120 mm x 1 830 mm) deur Marié Stander.

Shakespeare en die eeue oue fynkuns van toneelspel in ’n moderne Afrika-konteks is deels die inspirasie vir die kunstenaar Marié Stander se sewende tentoonstelling, wat Sondag (18 April) in die manZArt-galery in Franschhoek, open.

Life Is A Stage and We Are All Merely Players . . . word gepas deur die formidabele akteur Stian Bam geopen. Bam is ook ’n visuele kunstenaar van formaat.

“Die uitstalling het ’n sterk teatrale aanslag en is geïnspireer deur verskeie dramas van Shakespeare. In die werke beeld ek die tweestryd tussen werklikheid en spel uit, asook tussen hede en verlede,” sê Stander.

Stander, bekend om haar figuratiewe houtskoolsketse met minimale kleurgebruik, wys sewe grootskaalse pasteltekeninge op donker agtergronde. Sy beeld Shakespeare se karakters soos Hamlet, Ophelia, Lady Macbeth, Romeo en Juliet asook die harlekyn en die feetjies van die fantasieryke A Midsummer Night’s Dream uit op donker, dramatiese agtergronde.

‘Hamlet’, pastel op katoenpapier in ’n swart raam, 1 120 mm x1 830 mm deur Marié Stander.

Hoewel sy fokus op Shake­speare se karakters, dien die werke ook as ’n “eksistensiële uitbeelding van individue wat vry, verantwoordelik en met wilskrag leef”.

Sy werk die keer in volkleur om ook die teatrale stemming te help skep.

“Dit is amper soos ’n ‘lights, camera, action’-oomblik”. By die werke is daar ook ’n diptiek te sien, Backstage with Shakespeare 1 and 2, waar die akteurs uitgebeeld word sonder dat hulle rolle inneem, soos hulle in die alledaagse lewe is. Die een is verdiep in ’n boek, die ander gesels gemaklik met mekaar en een het ’n skaatsplank in die hand.

Stander is ’n kunstenaar en kunsopvoeder van Jamestown, Stellenbosch.

Besoektye is Maandae tot Sondae van 09:00 tot 18:00. Navrae: 021 876 4402. – Laetitia Pople

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.