Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Kinders kan kom speel in die Zeitz-kunsmuseum
Sahlah Davids by haar kunswerk Uncle Noor’s Pigeons Fly Home, wat gegrond is op ’n ware verhaal van ’n inwoner van Distrik Ses wie se 50 duiwe ná die gedwonge verskuiwing in 1975, nie kon nesskop in Athlone, hul nuwe tuiste, nie. Keer op keer het die duiwe teruggevlieg na die verwoeste huis in Distrik Ses. Foto: Gontse Mathabathe,

Diep in die donker tonnels van die Zeitz-kunsmuseum vir eietydse Afrikakuns (Mocaa) in die Silodistrik van die V&A Waterfront in Kaapstad kan kinders en hul ouers deel hê aan die museum se heel eerste interaktiewe tentoonstelling spesiaal vir kinders.

Waar die personeel in die res van die museum vriendelik afstand van die kuns maan, kan daar hier na hartelus met kuns “gespeel” word. Hier kan kinders trek, vat, op van die kunswerke ry of opkrul met ’n reuse-erdvark, of binne in ’n donker tent wegkruip en na die Melkweg kyk.

Die kunstenaars Jill Joubert, Isabelle Grobler en Lynette Bester was as mentors betrokke by dié unieke tentoonstelling getiteld And So the Stories Ran Away.

Die titel verwys na d ie aard van ’n goeie storie om sy eie loop te kry en hoe stertjies bygelas word soos die verbeelding geprikkel word. Die opvoedingsentrum van die museum onder die wakker leiding van Liesl Hartman en Richard Kilpert het studente van die Michaelis-kunsskool, die Ruth Prowse-kunsskool asook die Nyanga-kunsontwikkelingsentrum genader om stories vir kinders te kom vertel.

“Die museum handel tog eintlik oor die vertel van stories – ons het die studente gevra om na mites, legendes of persoonlike stories te kyk en om die storie op hul manier te interpreteer,” het Hartman gesê. Sy en Kilpert, die museumopvoeder, bied jaarliks bedrywighede aan waarby nagenoeg 15 000 kinders betrokke is in die museum.

Isabelle Grobler se beelde A Story of How Humans and Animals were Once Family is gegrond op ’n mite wat in Benin ontstaan het en verwys na die tydperk toe diere en mense na aan mekaar geleef het. Foto: Gontse Mathabathe, -

Die stories is ver gaan haal, maar ook naby die huis; van diep in Sentraal-Afrika, tot die Vrystaat en Distrik Ses. Kinders kan hoor hoe die Melkweg ontstaan het soos vertel in ’n Khoi-legende, kan hulle verkneukel in die spinnekop Anansi se vele dikwels dwase avonture, huil oor Racheltjie de Beer se tragiese opoffering, verskrik word deur Nkanyamba, ’n gedierte met die lyf van ’n slang en vlerke van ’n reusevoël, wat die mens kom uittrap oor sy gulsigheid, en ervaar hoe magies die natuur is, maar ook hoe broos.

Die doelwit van die sentrum van kunsopvoeding is om kinders aktief betrokke te kry by visuele kuns en ’n waardering daarvoor aan te wakker. ’n Meelewing van kuns wat verder uitkring as die inkleur van gefotostateerde kunswerke, of lesings oor belangrike werke in die museum, maar ’n deelname wat die kind prikkel om te bespreek en ontleed,” vervolg Hartman.

Al die werke is geskep uit gevonde en herwinde materiale. Die opdrag was dat die stowwe tot soveel moontlik van die sintuie spreek. Dit moes ook plek-spesifiek wees en pas in die tonnels.

“Die werke laat ruimte vir speel en vir die verbeelding om op loop te gaan. Stories word so aangebied dat kinders dit kan voltooi en ook aangemoedig word om hul eie storie te vertel”

* Isabelle Grobler se beelde A Story of How Humans and Animals Were Once Family is gegrond op ’n mite uit Benin en verwys na ’n tyd toe mense en diere familie van mekaar was en mekaar kon verstaan, voor mense gedink het hulle is beter en slimmer as die diere. Hierdie beelde gooi ook skadu’s teen die muur as dit beweeg of getrek word.

* A Rocking Horse Called Parallax van Bester is ’n hobbelperd waarop kinders na hartelus kan ry. Dit is saamgestel uit stukkies hout wat Bester van vriende van oor die wêreld versamel het. Al kan die perd nie “na plekke reis nie, het die stories vervat in die verskillende stukkies hout hiernatoe gereis”.

* Twee beelde van Jill Joubert, And So the Stories Ran Away asook The Guardian of the Boat nooi kinders om te speel en te vat en is onder meer gegrond op ’n skeppingsmite.

* Sinead Natalie Byrne Mason se The Blanket of the Sun is ’n swart tent waarin die son wegkruip vir die mens, maar waar die sterre snags uitkruip en flonker.

* Die Nigeriese storie van die wegkruipplek van stories, A Resting Place for Stories, is deur die kunstenaar Robyn-Tayla Meikle voorgestel as reusemateriaalvorms waarin kinders kan kruip of wegkruip. Daar is ook stukkies lap waarmee kinders hulle eie storie kan vasmaak.

Die tentoonstelling kan tot 30 Maart besigtig word. Vir meer inligting oor die museum se opvoedkunde-program vir kinders en gesinne kontak 087 350 4777 of e-pos info@zeitzmocaa.museum.

Meer oor:  Zeitz-Kunsmuseum  |  Kinders  |  Kaapstad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.