Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Kulturele avontuur tussen Venesië en Istanbul se biënnales
Zanele Muholi se portret.

Kuns is die band wat die twee antieke stede Venesië en Istanbul eeue gelede al gesmee het. Melvyn Minnaar het die biënnales in die twee stede besoek.

Om van Venesië se biënnale te reis na die een in Istanbul voel eenvoudig soos ’n kulturele avontuur. En as jy jou aan die pragtige ou argitektuur, die waterweë en die kleurvolle karakters op die stadstrate verlustig, sal jy ook nie vergeet nie dat kuns as band tussen dié stede eeue gelede gesmee is.

In die Pera-museum in die Tepebasi-buurt, waar een deel van die 16de Istanbulse biënnale plaasvind, hang ’n reeks verbluffende slim skilderye deur die kunstenaar Piotr Uklanski wat met die kleurryke heroïese Turks-Poolse kleredrag spog. Dit betrek kultuur-interaksie en opper ’n interessante ope vraag oor die aard van die eietydse biënnale: die kwessie van nasionalisme en identiteit in kuns.

Dis ’n tema wat telkens in albei kunsmakieties te sprake is, en veral in Venesië, die oudste ter wêreld (58ste) met sy talle nasionale paviljoene, aan die bod kom.

Kunsgeskiedenis vertel in die 15de eeu is Gentile Bellini, ’n talentvolle skilder van die republiek van Venesië, ontbied om die nuwe jong heerser van Konstantinopel, sultan Mehmed II, se portret te

Turiya Magadlela se sykous-installasie heet ‘S’Maidical’.

maak. En só het die “uitruil van kultuur” oor landsgrense heen tussen moondhede begin wortelskiet.

Die filosofiese tradisie van die beroemde biënnale van Venesië is hierin gevestig.

Nie een van die twee biënnales vanjaar het veel portrette in die tradisionele sin nie, maar in albei gedy eietydse talent en kunstenaars se soms dwingende vernuf om ernstige sake – soos nasionalisme, die bedreigde omgewing en die bitter politieke neerslag en morele uitval van ons tyd – in die oë te kyk.

Dit sal besoekers aan albei biënnales opval hoe dringend kuns soms vandag aangedurf word. Veral in Istanbul.

Venesië het die afgelope jare sy reputasie as kunsvertoonkas begin inboet weens die spook van geld en invloed wat met die teenwoordigheid van skatryk kunsversamelaars en hul handelaars gepaard

Die Suid-Afrikaanse paviljoen by die Venesiese biënnale.

gaan.

Die bedreiging van mode en roem vir die onafhanklike kurator-oog is immer op die spel, maar die kunsleier Ralph Rugoff weet kennelik hoe om ’n goeie tentoonstelling saam te stel. En al is sy oorkoepelende tema “May You Live in Interesting Times” so halfhartig soos dit klink, het hy kunstenaars genooi (sowat 70) wat jou soms met hul vernuf en dinamika verras en vermaak in hierdie onsekere tye.

Soos gewoonlik is daar ’n kerngroep in die amptelike biënnale-ruimte in die beroemde Giardini-tuin met sy oudste nasionale paviljoene met ’n bykomende reuse-deurloop in die ou vlootkaserne bekend as die Arsenale.

Die nuwer amptelike deelnemerlande – soos Suid-Afrika – het ook hier netjiese uitstalruimtes. Dis veral hier waar die kwessie oor nasionale kunsidentiteit soms vreemde draaie loop.

Waar Ghana met sy eerste toetrede spog met fyn berekende treffende werke gegrond in eie geskiedenis, lyk die amptelike Suid-Afrikaanse aanbieding bra futloos. Dat die drie kunstenaars, videomaker Tracey Rose, performance-kunstenaar Dineo Seshee Bopape en die talentvolle skilder Mawande Ka Zenzile twee kurators nodig had om die affêre onder die banale titel The Stronger We Become aanmekaar te sit, is moeilik te begryp.

As dié flou groep-installasie ’n aanduiding van die stand van Suid-Afrikaanse kuns is, is dit dalk omdat sosiale en politieke korrektheid en burokrasie sy tol op kreatiwiteit eis.

Die Kapenaar Kemang Wa Lehulere, gewoonlik ’n fyn speler met die teatrale, se werk lyk ook maar so-so in die hoofprogram. En, alhoewel opvallend en sterk, is die boodskap van die reuse-foto’s van Zanele Muholi, versprei deur die Arsenale, onduidelik.

Soos met al hierdie soort groot kunsgebeure is daar baie te bekyk en lang afstande om te stap. En, natuurlik, het elke besoeker reg op mening en waardering.

Wie sal net verbyloop, gekonfronteer met Carol Bove se lieflike beeldhouwerke van staal wat veelkleurig in vorms verlep? Of Njideka Akunyili Crosby se forse doeke, of die Ghanese skilder Michael Armitage se tablo’s op boombas? (Hy kom aanstaande jaar na die Norval-stigting op Steenberg in Kaapstad.) Dan is daar video-installasies soos Jon Rafman se Dream Journal-lawwighede en die Duitser Hito Steyerl se meesterlike toekomsvisie This Is the Future.

Eva Kot’átková se wonderlike feministiese installasie, ‘Machine for Restoring Empathy’.

In Istanbul is die toekoms met mening op en in die spel.

Die biënnale onder leiding van die Franse kurator Nicolas Bourriaud neem as tema besoedeling en die vernietiging van die natuurlike omgewing. As kuns ’n sterk boodskapper kan wees, vind jy dit wydverspreid en uitlopend in die drie lokale wat ingespan word.

Benewens die mooi Pera, is ou geboue op die Büyükada-eiland ingespan, terwyl die nuwe museum van die Mimar Sinan-Universiteit vir Beeldende Kunste die sentrale groep van 40 uit 50 genooide kunstenaars oor vyf verdiepings huisves. Dis vier uur se vervullende deurloop.

Onder die titel The Seventh Continent – wat verwys na die hoop plastiek wat iewers in die Stille Oseaan dryf – takel kunstenaars die dwingende sosiale politiek van ons tyd: Die Antroposeen-tydperk waarin menslike bedryf die natuur algeheel oorneem en omvorm.

Aardverhitting, besoedeling, oorbevolking, uitwissing van die natuur en ondermyning van minderheidsgroepe is prominente onderwerpe vir metaforiese uitbeelding en betoog.

Dit wissel van dramatiese videowerk (dokumentêre soos Eloise Hawser se The Tipping Hall en bytende fantasie soos Mika Rottenberg se Spaghetti Blockchain) tot vreemde beeldhou (Johannes Büttner se onderstebo-wetenskapfiksie-dansers; Charles Avery se glas-seeslange; Simon Starling se duikbril met mossels).

Daar is skilderye (soos dié van Uklanski wat met ’n kinkel tref) en tekeninge (onder meer die pragtige natuur-illustrasies van Ernst Haeckel wat reeds in 1919 oorlede is).

Johannes Büttner se onderstebo-wetenskapfiksie-dansers.

Uiteraard is daar talle teatrale installasies soos Eva Kot’átková se wonderlike feministiese Machine for Restoring Empathy en Simon Fujiwara se It’s a Small World. Die enigste Suid-Afrikaanse kunstenaar, Turiya Magadlela, se sykous-installasie heet S’Maidical.

Van die treffendste werk is dié van plaaslike kunstenaars: Ozan Atalan se installasie van ’n egte waterbuffelskedel (Monochrome) en Deniz Aktas se driftige pentekening van ’n hoop ou bande (The Ruins of Hope). Hulle bevestig Istanbul se tradisie van betrokke kuns en dié se trefkrag.

Dis as ’n mens voor hierdie werke staan dat jy besef dat die kulturele avonture en die bande van ou Venesië en Konstantinopel vandag ewe inspirerend is – as jy so ver kan/wil reis.

*Die Venesiese biënnale duur tot 24 November en dié in Istanbul tot 10 November.

*Vir die tuisbly-besoeker is daar veel op die internet te sien. Gaan kyk.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.