Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Kuns as vermaak op Kaapstadse kunsmark
Michael Cook se fotokunswerk Undiscovered.

As kunsgeskiedenis in rustiger toekomstye beskryf word, sal verskynsels soos die Kaapstadse kunsmark en die stuwende bedryf van rykmanskunsveilings straks

aangedui word as kulturele omwentelings wat kuns waarskynlik vir ewig verander het. Ten goede of ten kwade – dié sal ons maar moet sien, maar die debat is reeds aan die gang.

Met die Investec Cape Town Art Fair (ICTAF) 2019 in volle gang die komende naweek – omring met hoogs aangeprese tentoonstellings in talle lokale, lesings, partytjies en ’n snobistiese sosiale netwerk – is dit vir die vasvoetige (outydse?) kunsliefhebber iets om voor die aanslag van kleur, beeld en allerlei variasies van vertoon in gedagte te hou.

Kjoe Sang Lee van Korea se fotokunswerk Live Alone, Dance Alone.

Hoe dit ook al sy, dié kunsmakietie – vanjaar in sy sewende inkarnasie in die Kaapstadse Internasionale Konvensiesentrum – het ’n steeds groeiende gehoor gevestig wat soos popkonsertskares nie kan wag nie: Kuns as vermaak, net soos die dorpsbesoek van die reisende sirkus in vergange se dae.

The Guardian se korswellende kunsskrywer, Jonathan Jones, gooi onlangs ’n gekwelde oog op die stand van eietydse kunsbedryf en argumenteer dat dié deesdae alles vir slim satire behels.

Volgens Jones maak die kunswêreld vandag, sonder om te blik of te bloos, aanspraak dat middelmatigheid geniaal is, word uitspattige, blatante rykdom verheerlik – met ’n rolverdeling van pretensieuse kurators, gierige handelaars en magsbenewelde resensente. Dus ’n bedryf wat om bespotting smeek.

Billy Monk se klassieke, nostalgiese foto’s is opgeneem in die afdeling “Past/Modern”.

Vir die sowat 18 000 toeskouers wat van Vrydag tot Sondag deur die ICTAF-organiseerders onder die Fiera Milano-vlag verwag word, is daar vele om te sien en te hoor.

Laasgenoemde is belangrik, want dis ook ’n verskynsel van ons tyd dat kunswerke verduidelik moet word, dat rondleidings gedoen word, en wyse kritici en selfversekerde kurators uitsprake moet lewer.

Die omvattende program van die ICTAF 2019 behels dus onder meer gidsleidings en praatjies oor onderwerpe soos “kunsversameling as ’n liefdesdaad” en “kuns in die digitale era”.

Benewens die individuele losies wat ’n horde plaaslike, Afrika- en internasionale kunshandelaars as toonlokale met hul uitsoek-kunstenaars kom opstel, spog die ICTAF 2019 met sy eie unieke uitstalprogram wat uit verskillende tematiese groeperings bestaan.

Elkeen van hierdie temas is slim-slim uitgedink vir die kopersmark. Diegene wat byvoorbeeld glo ’n kunstenaar moet darem ietwat van ’n reputasie hê, sou in die afdeling getiteld “Past/Modern” op lieflike werke soos Billy Monk se klassieke, nostalgiese foto’s afkom. ’n Erik Laubscher raakloop.

Mense wat wonder oor hoe digitale media en video in eietydse kunsbedryf ingespan word, sal die snykant van nader ervaar in die groepering “Solo: Digital Directions”.

Volgens die kurator, Khanya Mashabela, ondersoek ’n vyftal gekeurde kunstenaars die tenger, onvaste verband tussen fisieke en digitale ruimtes waar werklikheid en hiperwerklikheid bymekaarkom. Inderdaad ’n nuwe wêreld van verbluffing of opwinding.

Nagenoeg 18 000 besoekers word verwag by die sewende Kaapstadse kunsmark wat die naweek aangebied word. Melvyn Minnaar deel sy indrukke oor wat op besoekers wag.Onder die uitstallers is Sitaara Stodel, wat aan die Michaelis-kunsskool klasgee. Dan is daar Jake Singer van Johannesburg, wat verbasende distopiese landskappe maak. Kjoe Sang Lee, ’n Koreaan van geboorte, werk met fotografie. Tabita Rezaire kom van Cayenne in Frans-Guiana, terwyl Ibrahim Mahama van Ghana is.

Teenoor die uiterste pole van “Solo” en “Past/Modern” is daar ’n afdeling onder die vaandel “Tomorrows/Today”, ’n keuse van kunstenaars wat volgens die kunsmark se kurators dié meesters in die toekoms sal wees.

Hierdie is uiteraard waar daardie mag waarna Jones verwys veral te berde kom.

Volgens die ICTAF se hoofkurator, Tumelo Mosaka, is dié afdeling gestig om die kollig op “ontwikkelende en onderverteenwoordigende kunstenaars” te laat val.

Mosaka sê alhoewel die klem sterk op Afrika is, strek dit wyer om die tema van transformasie en eksperimentering in te sluit – ongewone kunsvorme wat gebruik word om huidige maatskaplike en politieke kwessies te belig.

Die “Tomorrows/Today”-kunstenaars beloof werklik interessante werk: Zyman Amien, John-Michael Metelerkamp, Chris Soal en Isabelle Grobler is Suid-Afrikaners wat al talle pryse gewen het.

Medina Dugger kom van Nigerië, Troy Makaza van Zimbabwe, Aime´ Mpane van die DRK/België, Armand Boua van die Ivoorkus, Angel Ihosvanny Cisneros van Angola en Michael Cook is van Australië.

Een van hierdie kunstenaars sal die gevierde Tomorrows/Today-prys van R50 000 en ’n solo-tentoonstelling in die Zeitz-Mocaa in Kaapstad wen. Die organiseerders het ook aangekondig dat die eerste Africa First Art-prys vanjaar toegeken sal word. Dié prys sluit onder meer ’n verblyf in Israel in.

Net om te verseker dat die vermaak/sirkus/aanloklikheids-faktor nie onderspeel word nie, is daar die afdeling “Unframed”, bestaande uit groot beeldhouwerke, installasies, performance en sogenaamde “new media”. Meer konseptueel en in spesifieke ruimtes opgerig, is die doel om die gehore te betrek.

Vanjaar is daar video-werke van die Kapenaar Ed Young, Clément Cogitore (Frankryk) en Borna Sammak (VSA). Daar is ook ’n beeldhou-installasie van die Suid-Afrikaner Asemahle Ntlonti.

*Die Investec Cape Town Art Fair word van Vrydag tot Sondag in die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum aangebied. Dagkaartjies wat vooraf gekoop is, is goedkoper. Dagkaartjies vir volwassenes kos R150 en vir kinders van ses tot 18, studente en pensioenarisse kos dit R110. ’n Naweekkaartjie kos R285. Inligting: art@fieramilano.co.za of 021 702 2280.

Meer oor:  Kaapstad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.