Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Kuns oor rituele van trauma

Adelheid von Maltitz se solo-uitstalling vir haar doktorsgraad het ’n lang aanloop, van haar oupa se vlug uit ’n Poolse konsentrasiekamp in die Tweede Wêreldoorlog tot haar eie gewaarwording van die trauma wat dood en verlies kan meebring.

Die Bloemfonteinse akademikus en kunstenaar Adelheid von Maltitz. Foto: Verskaf

In Site, Materiality and Ritual; Constructively Engaging with Death and Loss verken dié akademiese hoof van die kunsdepartement aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) rituele en prosesse wat help om traumatiese belewenisse te bowe te kom.

Von Maltitz vertel haar oupa het by hulle in haar ouerhuis gewoon toe hy in 1999 oorlede is. “Hy het nooit oor die gebeure in Europa of sy lewe daar gepraat nie, hy het ook nooit Pole besoek nie, maar kort voor sy dood was hy vreesbevange oor 'Russe wat agter sy bloed aan is'. Die vrees was skynbaar jare lank onderliggend, aangesien hy twee keer sy van verander het.

“Ek was 17 toe my oupa dood is en onthou hoe ek in daardie jare gewaarsku is oor gevare. Ek het dit nooit bevraagteken nie, maar in my kunsstudies het die geërfde verlede van angs, vrees en trauma my aan die dink gesit.

“Ek het gewonder oor die dinge van die lewe wat so seer maak en jou traumatiseer. Ek het probeer uitvind of die gevare regtig so gevaarlik was en op die manier my eie realiteite probeer vind.

“Prosesse in my kuns het my laat besef die rouproses help ons om aaklighede te oorleef en angs en vrees te oorkom.”

‘Cleansing’ (lint, plekspesifieke grond uit Nazi-konsentrasiekampe, veraste beendere, seep, hare, naels, harpuis en gevonde voorwerpe, 1 425 x 670 mm) deur Adelheid von Maltitz. Foto: Oliewenhuis-kunsmuseum
‘Resting Place’ (plekspesifieke grond, as en harpuis, 2 300 mm x 1 559 mm). Foto: Oliewenhuis-kunsmuseum
‘Screen’ (plekspesifieke grond en harpuis, 2 460 mm x 2 015 mm) is deel van Adelheid von Maltitz se solouitstalling. Foto: Oliewenhuis-kunsmuseum

Haar belangstelling in rituele ten opsigte van dood en verlies is geprikkel toe sy gesien het hoe twee vroue ’n gedenkteken langs haar daaglikse roete oprig en dit deurentyd in stand hou. Dié handeling het ooreengestem met haar navorsing wat verband hou met plek, materiale en rituele.

Die materiale wat Von Maltitz vir die installasie in haar solo-uitstalling gebruik het, is plekspesifiek en behels onder meer grond, beendere, hare, naels, borsmelk en lint wat sy in harpuis en Plexiglas berg. Volgens haar dra die materiale betekenis omdat dit “getuie van dood en verlies” is, soos die grond wat sy van ’n Nazi-konsentrasiekamp in Pole gekry het en vir die uitstalling gebruik het.

Sy sê sy het haar “denke verder ontwikkel” terwyl sy besig was met die prosesse om materiale te verwerk of nuwe materiale te skep wat “met betekenis deurdrenk” is.

“Die herhaalde aksies van besprinkeling, verstrooiing, brand, giet en maalwerk op spesifieke plekke of tye is vir my evokatief.”

Von Maltitz sê hoewel iets so verskriklik soos haar dood of dié van ’n familielid haar gedagtes in beslag kan neem, help haar kuns haar om ’n pad uit die gedagtes en gevoelens te vind.

“Wanneer ek besig is met die skeppingsprosesse voel ek minder oorweldig terwyl dit nie die werklikhede totaal onderdruk nie. Die vaardigheid om ’n bewustheid van die dood met die wete van lewe te integreer is immers wat die mens uitsonderlik maak.”

Von Maltitz het haar B-graad in kuns in 2005 behaal en in 2009 ’n meestersgraad, albei aan die UV. Sy het oor die jare aan verskeie plaaslike en internasionale uitstallings deelgeneem en was in 2014 die naaswenner in die Sasol Nuwe Handtekeninge-kompetisie.

  • Die uitstalling kan tot 20 Junie in Oliewenhuis besigtig word. Besoektye is Maandag tot Vrydag van 09:00 tot 15:00 en Saterdae van 10:00 tot 15:00. Die kunsmuseum is op Sondae en openbare vakansiedae gesluit.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.