Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Kuns opgeveil om kollege van ondergang te red

Kunswerke deur onder andere William Kentridge, Penny Siopis, Kemang Wa Lehulere, Kay Hassan en Nandipha Mntambo gaan ten bate van die Funda-gemeenskapskollege in Diepkloof, Soweto, opgeveil word.

Só het die biblioteek van die Funda-gemeenskapskollege in November verlede jaar gelyk. Foto: Gallo Images / Alet Pretorius

Die I Am Funda-veiling is deur Tumi Moloi, ’n kunsadministrateur van die Wes-Rand, begin as ’n laaste uitweg om die kollege se deure oop te hou. Moloi hoop om R4 miljoen deur die veiling in te samel sodat die kollege se dak, biblioteek en heining opgeknap kan word; die kollege vir die eerste keer in 12 jaar weer van elektrisiteit voorsien kan word; personeel weer hul salarisse kan ontvang; en die kollege se akademiese aanbieding uitgebrei kan word.

Netwerk24 het in Januarie berig dat die kollege in 1984 met die private sektor se steun gestig is en ’n leeueaandeel in die opleiding van swart kunstenaars, onder wie John Vusi Mfupi, Lehlogonolo Mashaba, Mbongeni Buthelezi en Nhlanhla Xaba gespeel het.

Oor die jare heen het private skenkers se geld minder geword en die kollege se geldsake al hoe meer beroerd gelyk, deels weens die feit dat dit as ’n artikel 21-maatskappy nie vir veel regeringsfinansiering in aanmerking kom nie.

Dié geldtekort het onder meer daartoe gelei dat die kollege se geriewe die kreeftegang gegaan het – en dat hulle selfs sedert 2009 sake sonder enige elektrisiteit moes doen.

Robert Hodgins woltapisserie ‘Blue Suit Guy’ is een van 81 kunswerke wat ten bate van die Funda-gemeenskapskollege opgeveil word. Foto: Robert Hodgins / Marguerite Stephens-tapisserie-ateljee / Verskaf

Dít het Moloi nie geval nie, hoewel hy glad nie aan die kollege verbonde is nie. Hy het dadelik aan die werk gespring om die veiling op die been te kry en het kunstenaars en kunsversamelaars landwyd gevra om kuns vir die veiling en eindelik die toekoms van die kollege te skenk.

“Die ondersteuning wat ons gekry het, het my werklik geroer en ek is net weer herinner aan die krag van samewerking in die kunsgemeenskap,” sê hy.

“Die steun wat kunstenaars en Aspire Art Auctions (wat die veiling aanlyn behartig) gebied het, het my werklik verras. Al die partye het uit hul pad gegaan en elke vaardigheid en hulpbron aangebied om ’n sukses van die inisiatief te maak. Ek is werklik oneindig dankbaar.”

’n Totaal van 81 werke deur meer as 60 kunstenaars gaan op die veiling te koop aangebied word. Onder dié werke is Robert Hodgins se woltapisserie “Blue Suit Guy”, met ’n verkoopsprys van tussen R200 000 en R300 000; Esther Mahlangu se “Ndebele Abstract” (akriel op doek), met ’n geraamde waarde van tussen R90 000 en R120 000; en “Trampoline A & B” (in potlood, ink, kryt en pen) deur Tracey Rose, wat vir tussen R100 000 en R120 000 aangebied word. ’n Volledige katalogus van al 81 werke kan by https://auctions.aspireart.net/ besigtig word.

Botte kan vanaf 13 April op dieselfde webblad gemaak word; die veiling sluit op 20 April. Sommige van die werke wat te koop aangebied word, kan ook in lewende lywe by Aspire se galery in Illovo, Johannesburg, besigtig word. Vir meer inligting kontak 011 243 5243 of stuur ’n e-pos na jhb@aspireart.net.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.