Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Kuns wat diere in nood help

’n Toevallige ontmoeting tussen ’n kunstenaar en ’n ramer, het in September vanjaar tot ’n projek gelei wat die mens en sy beste vriend se hartsnare roer. Sandi Beukes en Esré du Preez het ’n geldinsamelingsprojek, Doggz and Cattz, begin om diere in nood te help. Met ’n gedeelde liefde vir kuns en diere, was dit ’n dinamiese kombinasie wat nie anders kon nie. Maricelle Botha het met hulle oor die projek gesels.

Esré du Preez en Sandi Beukes

Waar dit alles begin het 

Volgens die Chinese kalender is 2018 die Jaar van die Hond. Ter viering hiervan het ’n Durbanse galeryeienaar besluit om die hond te vier. Sy het ’n groep kunstenaars, genader om werk te skep wat hulde aan hierdie geliefde troeteldier bring. Een van dié kunstenaars was die Durbanse kunstenaar en oud-Bloemfonteiner, Sandi Beukes.

“Ek wou verskriklik graag aan die uitstalling deelneem, maar het nie geweet wat om te doen nie. Ek het met ’n paar idees begin speel en toe besluit op ’n plakkaat vir vermiste diere wat in werklikheid geliefde gesinstroeteldiere is.” Die titel van Sandi se 3 x 3 cm-etswerk vir dié uitstalling was Dogs for Adoption??.?.?. Happily, no.

Terwyl sy aan die projek gewerk het, het talle ander kunstenaars wat ook in die drukkery werksaam was, die kunswerk gesien ontwikkel en voordat die eindproduk klaar was vir die uitstalling, het Sandi reeds ’n rits navrae van mense gehad wat graag hul troeteldiere op papier wou vaslê. 

So het sy ’n paar ander etse gemaak waaronder ook etse van haar swaer se honde. Haar plan was om dit te raam en aan hom te gee vir sy verjaardag.

Een van die etse.

Vir die liefde van die saak 

Tydens ’n besoek aan haar ma in Bloemfontein het Sandi en Esré du Preez van Esré Frames & Art by Prellerplein in Bloemfontein, se paaie gekruis.

Toe Esré die werke sien, wou sy dadelik weet of Sandi nie dalk meer beskikbaar het nie. Esré wat self graag by dierewelsyn betrokke raak, was gek na die werk. Nadat die twee gesels het, wou Esré weet of Sandi nie dalk op só ’n manier by dierewelsyn betrokke wou raak nie.

Sy het so bietjie daaroor gedink en besluit so ’n projek is in haar kraal. Só is Doggz and Cattz van stapel gestuur. Vir elke kunswerk wat ’n kuns- of diereliefhebber binne die projek koop, sal R100 na ’n dierewelsynsorganisasie gaan asook ’n bykomende R100 vir elke werk wat deur Esré geraam word.

“Wat my motiveer terwyl ek aan die etse werk, is dat daar êrens ’n kat of ’n hond is wat vandag kos het of ’n veeartsrekening wat betaal kan word, omdat ek nou hiermee besig is. Hoe meer ek ander daarvan vertel het, hoe meer mense het van die idee gehou,” vertel Sandi.

Die eerste bestelling het uit vyf etse bestaan, daarna het ’n tweede bestelling van agt werke gevolg. Vinnig het die woord onder diereliefhebbers versprei en die projek het in volle vaart weggetrek. 

Die eerste ingesamelde bedrag is reeds aan Animal Ambulance, ’n 24-uur-noodsentrum, wat siek en mishandelde diere help, geskenk. 

Esré sê donasies sal aan ’n verskeidenheid organisasie gemaak word soos behoeftes geïdentifiseer word.

Esré self is al vir meer as 12 jaar lank op verskeie maniere by dierewelsyn betrokke en het self twee aanneemhonde en twee aanneemkatte. Sy versorg ook ’n paar wilde katte wat sy oor die jare laat steriliseer het.

Een van die etse.

Om lewe in ’n kunswerk te blaas 

“Die oë is absoluut kritiek. As jy nie die dier se oë regkry nie, het jy nie die siel van die dier vasgevang nie. Ek het al ’n paar blapse gemaak deur te dink die oë moet ’n sekere manier lyk, maar dan moet dit eintlik anders lyk. Jy kyk so intensief na die dier op die foto dat jy later die dier se persoonlikheid optel en dit is vir my belangrik – al beteken dit dat ek dit sewe keer moet oordoen,” verduidelik Sandi.

Sy sê wat die proses ’n bietjie moeiliker maak, is omdat jy met sulke klein vorme werk, is presisie uiters belangrik. “Sodra jy daardie klein bietjie sprankel in die oë regkry, sien jy hoe die dier se karakter deurslaan. Dit lyk kompleet of die ets lewe kry.”

As daar oor die bekostigbaarheid van die etse gepraat word, is Esré en Sandi dit eens, hulle wil voel dat hulle hard werk vir daardie diere. “Ek wil hê dit moet ’n opofferingsproduk wees. Ek wil nie hê dit moet wees asof ek die geld sommer op enige ander plek gekry het en dit net skenk nie. Dit is nie die gees waarin ons die projek aanpak nie. Ek maak opofferings en Esré maak opofferings en dit is wat dit ’n spesiale projek en produk maak,” verduidelik Sandi.

Een van die etse.

Waar kry jy joune? 

Die 7 x 10 cm grootte etse word teen R300 (slegs vir bestellings wat voor 31 Desember 2018 geplaas word) verkoop. Hiermee kry jy twee afdrukke. Indien die werke deur Esré geraam word, sal ’n verdere R100 geskenk word.

’n Instagramblad sowel as ’n webtuiste sal binnekort vir Doggz and Cattz beskikbaar wees. Hier kan belangstellendes die projek volg asook sien hoeveel geld gegeneer is en aan wie die skenkings gegaan het.

Om te bestel kan jy ’n foto van jou troeteldier e-pos na esredup@gmail.com of sandi@zamail.co.za. Bestellings kan ook per WhatsApp geplaas word by 082 831 1497 of 083 269 5245.

En op die vraag of Sandi ’n ets van jou papegaai of goudvis sal maak, sê sy laggend, “ek is nie seker of dit sal werk nie, maar ek sal beslis probeer”.

Een van die etse.
Een van die etse.
Een van die etse.
Een van die etse.
Een van die etse.
Een van die etse.

Meer oor:  Geldinsameling  |  Troeteldier  |  Kuns
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.