Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Kunsmark daag uit met aanbod
Billie Zangewa se kunswerke van sy is agter ’n installasie van tropiese plante vertoon.

Om te sê dat ’n kunsmark soos die Joburg Art Fair (JAF) net op handel ingestel is, sou ’n vergissing wees.

Daar ís voorwaar flink sake gedoen en daar was dalk 'n galery of twee wat op mededinging in ’n wedywerende kunswêreld gefokus het – met ’n internasionale kopersmark in gedagte en nie noodwendig die verruklikste werk nie – maar die gevoel van “ ’n mark met handelsware” was daar nie. Én daar was heelwat kuns om ’n mens te boei, sowel as om jou horisonne te verbreed.

Die “sy-tapisserieë” van Billie Zangewa, dalk meer appliek as tapisserie, is op vanjaar se JAF treffend agter “ ’n tropiese woud” van loof, teen ’n groen muur, uitgestal. Zangewa se gebruik van plante en stedelike tuine in haar werk is op dié manier versterk, maar eweso die opvatting dat tuine ’n plek van manlike oorheersing is.

Oor dié aspek het sy in ’n onderhoud opgemerk dat haar protagonis (sy gebruik beelde van haarself in haar werk) wegbeweeg het van die manlike starende blik vir bevestiging, in die rigting van “ ’n volmaak magtige wese wat nie meer soek na bevestiging buite haarself nie”. Die blik deur die blare op Zangewa in ’n ontspanne luim langs ’n swembad is dié op ’n vrou wat tuis is in haar vel en een wat ’n kunspraktyk en medium gebruik wat tradisioneel in die domein van vroue gesien word om haar vryheid en seggingskrag mee te vier.

Seggingskrag, met die nadruk op uitdrukking én die manier van uitdrukking, het in die werk van heelwat kunstenaars opgeval. Een so ’n kunstenaar is Nigatu Tsehay, ’n Ethiopies gebore skilder wie se werk vertoon is deur die Kaapse Christopher Moller-galery. Sy beheersing van die ganse doek, en die werk is nie klein nie, getuig van verbluffende vaardigheid en emosionele spanning wat jou nie laat gaan nie. Eweso die werk van die Mosambiekse kunstenaar Nelly Guambe, verteenwoordig deur Guns & Rain in Parkhurst, Johannesburg. Guambe se subtiele uitbeelding van portrette van vroue is gelade met ’n stilte wat nie met magteloosheid verwar moet word nie.

Stiller as Still, die uitstalling van werk van Katherine Spindler, verteenwoordig deur die Kaapse Barnard-galery, kan’n mens kwalik nie kry nie. Spindler se uitbeelding van musici, van ’n stokswaaiende dirigent tot ’n driehoekiespeler gestol in skakerings blou verf, laat ’n mens dink aan ’n video wat terstond gestol is en waarvan die klank nog in die binneoor bly galm – in doodse stilte. In dié stolling van beweging en klank, in dié stilte is dit die nagalm wat opklink en wat die kyker onverhoeds betrap.

Wat verder uitgestaan het, is die werk van Asanda Kupa (Guns & Rain), Benon Lutaaya (Lizamore & Associates), Jan-Henri Booyens en Jared Ginsburg (blank projects) en Cyril Oma (Red Door Gallery, Lagos, Nigerië).

Van Yinka Shonibare het die Goodman-galery ’n lusmaker vertoon. Ruins Decorated, die eerste solo-uitstalling van dié Nigeries-Britse kunstenaar, is tot 6 Oktober in die Goodman-galery in Johannesburg te sien.

Senzenina, die klankinstallasie van Haroon Gunn-Salie, vanjaar se wenner van die FNB-kunsprys, het heelwat aandag getrek en intussen is aangekondig dat dié werk met die Marikana-slagting as onderwerp, ook binnekort in verskeie galerye in die land aangebied sal word.

In ’n ruimte van sowat 4 m x 7 m, onder ’n plafon met die kontoere van die Marikana-koppie buite Brits in Noordwes, kan ’n mens vir sowat 20 minute luister na dié aangrypende klankbeeld van die gebeure voor en ná die voorval waartydens die polisie 34 protesterende mynwerkers doodgeskiet het en nog 78 gewond het.

Die werk sluit in oproepe dat die mynwerkers vreedsaam uiteen moet gaan, geluide wat dui om toenemende polisieteenwoordigheid, ’n vryheidslied kort voordat daar op die myners geskiet is, die klank van druisende helikopterlemme en swellende musiek voordat dit uitloop op die melancholiese “Senzenina” (Wat het ons gedoen?) en eindelik ’n verlate veld met voëlgesang.

’n Beeldegroep van 17 koplose, knielende bronsfigure van Marikana-myners en wat deel is van Gunn-Salie se voortgaande Senzenina-uitstalling, is vroeër in New York as deel van die New Museum se vierde triënnale vertoon, en is tot 7 Oktober in Londen se Regent’s Park te sien.

Meer oor:  Visuele Kuns  |  Johannesburg
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.