Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Kunsmuseum se labirint bied bane om jouself te vind

’n Splinternuwe toevoeging tot die Oliewenhuis-kunsmuseum in Bloemfontein is ’n volwaardige Middeleeuse labirint van sewe bane wat eersdaags ook vir die publiek oop sal wees.

Meer as 45 tweedejaar-argitektuurstudente van die Universiteit van die Vrystaat het Dinsdag hul hande vuilgemaak om te help bou aan ’n splinternuwe labirint by die Oliewenhuis-kunsmuseum in Bloemfontein. Foto: Maricelle Botha

Dié aanwins is die idee van die bekende Bloemfonteiner Zarine Roodt en word in samewerking met die departement argitektuur van die Universiteit van die Vrystaat (UV) aangepak.

Roodt het ’n geweldige passie vir labirinte en doen reeds sedert 2007 navorsing oor die aard van labirint-loop as meditasiepraktyk en as ’n manier om met jouself in gesprek te tree.

Die informele bekendstelling van die labirint val saam met Roodt se 60ste verjaardag.

“Ek wou graag ’n labirint saam met ’n paar van my vriende, wat ook in September verjaar, stap ter viering van hierdie mylpaal en het gedink dit sou die sinvolste wees om dit êrens op te rig waar ander ook daartoe toegang sou kon hê en dit ook kan ervaar,” sê Roodt.

Jan Ras, plaaslike argitek en dosent aan die Universiteit van die Vrystaat, het die labirint ontwerp. Danksy sy betrokkenheid is meer as 45 tweedejaar-argitektuurstudente van die UV ook genader om aan die projek deel te neem. David van der Merwe, dosent in konstruksie en ontwerp aan die departement argitektuur, sê toe Ras hom van die projek vertel, het hy gevoel dit is die ideale projek vir die studente om by betrokke te raak.

Die opdrag aan die studente was om elkeen ’n plaveisteen te ontwerp wat dan in beton gegiet word. Elkeen moes vyf stene lewer.

Zarine Roodt (links) het die labirint aan die museum geskenk as deel van haar 60ste verjaardagviering. By haar is David van der Merwe, dosent in konstruksie en ontwerp aan die departement argitektuur by die UV. Foto: Maricelle Botha

Die universiteit het ook Daniel van der Merwe, argitek en direkteur van die PPC Imaginarium-pryse, genooi om ’n werkswinkel oor die werk met beton te kom aanbied.

Roodt het self ook ’n lesing oor die oorsprong van labirinte en die doel daarvan aan die studente voorgehou as oriëntering.

Oliewenhuis se personeel het die terrein voorberei en Dinsdag was dit ’n miernes van bedrywighede toe die groep studente in volle vaart Oliewenhuis se tuin betree het. Die Middeleeuse ses-blaar-labirint van sewe bane is eers streng volgens plan met kalk en kurwe-merkers uitgelê. Daarna is die ontwerpte plaveistene sorgvuldig gelê en met ander stene en los klippies afgerond.

Ná afloop van Vrydag se eerste labirintwandeling sal die projek sy tweede fase ingaan wanneer die finale afronding vir die permanente struktuur vasgelê word.

Van die plaveistene wat deur die argitektuurstudente ontwerp is. Foto: Maricelle Botha

Ester le Roux, kurator van die Oliewenhuis-kunsmuseum, sê hulle is baie opgewonde oor hierdie projek.

“Dit is ’n gemeenskapsprojek waarby so baie mense betrokke is en waarby so baie in die toekoms waarde sal vind.”

Sy sê die museum beplan ook om uitreikprojekte in die toekoms hier aan te bied.

Meer oor:  Oliewenhuis-Kunsmuseum  |  Zarine Roodt  |  Jan Ras  |  Bloemfontein  |  Tuin  |  Labirint
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.