Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
‘Kunsmuseums is staatsbates wat in stand gehou moet word’

In haar boek Between Dreams and Realities rig Marilyn Martin ’n ernstige pleidooi aan die regering oor die instandhouding van die Nasionale Kunsmuseum in Kaapstad. Amanda Botha berig.

Marilyn Martin

Nasionale kunsmuseums word wêreldwyd as ’n staatsbate beskou waar bestek opgeneem en vernuwende denke beproef word om ’n spieëlbeeld te wees van ’n land se kulturele en intellektuele aktivisme. ’n Doodskoot is as staatsbefondsing ideologiese neutraliteit, of erger: politieke gedienstigheid, afdwing.

In Marilyn Martin se Between Dreams and Realities: A History of the South African National Gallery, 1871-2017 word indringend gekyk na die strategieë vir staatsbefondsing, hoe dié eens trotse nasionale bate doodgewurg word en hoe daar in die afwesigheid van politieke wil toegelaat word dat die status stil-stil gestroop is na “net nog” ’n instansie wat deel vorm van Iziko-museums.

Ondanks ’n vooruitstrewende Suid-Afrikaanse kunsgemeenskap, florerende galerye wat kunstenaars wêreldwyd bemark en ’n sterk sekondêre kunsmark, kan daar dus afgelei word dat die staat sy rol en verantwoordelikheid op ander afgeskuif het? Moet privaat instansies soos die Zeitz-museum vir Afrikakuns (Mocaa) en die Norval-stigting intree vir die hulpbehoewende, agtergeblewe Suid-Afrikaanse Nasionale Galery (Sang)?

Martin, ’n eertydse direkteur van Sang, bied ’n boeiende oorsig oor die omstrede geskiedenis van die kunsmuseum. Die soeklig val op die betekenis van ’n “nasionale” kunsmuseum, die befondsing daarvan en veral ook hoe die staat die land se kunsbates na waarde skat. Die oorsig dek verskillende politieke tydperke – van kolonisasie (1871-1948), die apartheidsjare (1949-1990), die transformasie en hantering van kuns sedert 1991 en dit eindig met die opbloei van privaat gefinansierde “openbare” kunsmuseums, wat nie net eie nie, maar ook kunstenaars van Afrika en sy diaspora insluit.

Wat Sang se geskiedenis betref, is die herhaaldelike narratief die private sektor se finansiële toetrede teenoor die toenemende onbetrokkenheid en selfs nalatige optrede van die staat in die verwaarlosing van die veronderstelde nasionale bate.

Die geskiedenis van Sang word chronologies vertel aan die hand van die invloed en bydraes van die verskillende direkteure en hul kollektiewe stryd om met afskeepbefondsing die historiese en kontemporêre gapings in die kernversameling aan te vul.

Wat tog benadruk moet word, is dat Sang, ondanks hierdie gebreke, steeds oor ’n indrukwekkende versameling beskik, hoewel helaas merendeels in die ondergrondse bergingsruimte as in die uitstallokale.

Moontlik is die mees omstrede tydperk in Sang se geskiedenis die direkteurskap van (Marilyn) Martin self.

Met dié dat Martin tussen 1990 en 2008 self die direkteur was en daarna ’n drie-jaar-sitting op die raad gehad het, lei dit tot interessante inligting agter die skerms. Sy stel haar dit ten doel om wanpersepsies en feitlik verkeerde inligting reg te stel. In die proses word ongemaklike waarhede uitgelig.

Sang het sy ontstaan te danke aan die inisiatiewe van kunsgroepe en individue en kon reeds met ’n versameling van meer as honderd werke open. Dergelike inisiatiewe, met beperkte staatshulp, het gelei tot die oprigting van die kunsmuseum in 1930.

Bekgevegte tussen direkteure en kunstenaars, omstrede aankope en arrogante politieke inmenging wat aankope verhoed het en selfs die eensydige verkope van kunswerke, die “politieke” invloed van die Johannesburgse mynbaronne (Randlords) met hul groot skenkings, twiste met donateurs, die onnadenkende uitlatings deur politici en die tirannie van burokrate kenmerk die geskiedenis.

Hierteenoor is daar ook suksesse met buitengewone uitstallings wat internasionale erkenning aan Sang bied, wat met trots geboekstaaf word. Veel is gedoen om Suid-Afrikaanse kunstenaars te erken deur prestige-oorsig- en spesialisuitstallings soos Rotskuns uit Suider-Afrika, Rorke’s Drift, Keramiekkoppe van Lydenburg en Ezakwantu: Kralewerk van die Oos-Kaap.

Martin het veral waardering vir dr. Raymund van Niekerk se direkteurskap tussen 1976 en 1989. Hy het, volgens haar, die onstuimige politieke tydperk reg gelees en begrip daarvoor gehad dat die plaaslike aanvraag internasionale verwagtinge ondersteun. Belangrike aankope van swart en struggle-kunstenaars is in hierdie tyd gedoen.

Erkenning aan swart kunstenaars het baie laat gekom, maar ná 1990 is veel gedoen om hierdie tekortkoming ten dele reg te stel.

Die res van Martin se termyn was, soos sy self erken, ’n geploeter tussen politici en burokrate om apartheid in kuns te ontrafel en om die onafhanklikheid van Sang te beskerm.

Moontlik is die mees omstrede tydperk in Sang se geskiedenis die direkteurskap van Martin self. Sy gee breedvoerig verslag oor haar termyn. In 1991 vra sy dat die kulturele uitdrukking van ander as slegs Eurosentriese groepe erkenning moet ontvang en verwys na die politieke gebeure van die tyd as ’n “teken van ’n werklik historiese oomblik wat 350 jaar van wit oorheersing” beëindig.

In praktyk het dit beteken dat daar ’n klemverskuiwing was van Westerse kultuur tot die viering van die visuele kultuur van suidelike Afrika.

Hoe die oorgang bestuur is, het sy gevolge gehad. Een daarvan was dat die prestigeryke Kaapstadse Triënnale, wat vanaf 1983 deur die Rupert-stigting geborg is, in 1991 te midde van groot omstredenheid beëindig is.

Waarvoor 1991 se triënnale ook onthou sal word, is die kunstenaar Beezy Bailey se ontmaskering van die keuringsproses. Hy skryf twee werke in. Sy eie word afgekeur, maar ’n tweede wat hy onder die alias Joyce Ntobe, getiteld Get Home, Cook Supper, Go to Sleep, inskryf, word nie net ingesluit nie, maar deur Sang gekoop op grond van die “artistieke waarde” van die werk.

Bailey was vinnig om te wys na rassisme in die kunswêreld – en die begin van politieke korrektheid en gedienstigheid.

Die res van Martin se termyn was, soos sy self erken, ’n geploeter tussen politici en burokrate om apartheid in kuns te ontrafel en om die onafhanklikheid van Sang te beskerm. Hierop volg vertragings in die uitvoering van beloftes, vaag bewoorde verklarings en magstryde tussen individue en die amptenary. Nie ’n maklik posisie om in te wees nie.

Desnieteenstaande het Martin vasgebyt en tot die einde van haar termyn in 2008 geveg vir die behoud van die onafhanklikheid van die instelling, vir befondsing en vir die doodgebore beloftes dat die regering aandag sou gee aan die kunsmuseum se probleem met ruimte.

Die uiteinde daarvan is dat Sang sy status as “nasionale” kunsmuseum verloor te midde van ’n samevoeging van suidelike museums, onder die naam Iziko, sonder kundige bestuur of ’n begrip van die kulturele waarde van elk van hierdie afsonderlike instellings.

Desnieteenstaande het Martin vasgebyt en tot die einde van haar termyn in 2008 geveg vir die behoud van die onafhanklikheid van die instelling, vir befondsing en vir die doodgebore beloftes dat die regering aandag sou gee aan die kunsmuseum se probleem met ruimte.

Sy verdien erkenning dat sy ondanks groot teenstand veel vermag het om nuwe inisiatiewe te begin, ikoniese en grensverskuiwende uitstallings aan te bied, veral Miscast: Negotiating Khoisan History and Material Culture in 1996, Revisions: A Narrative of South African Art (2005) en Picasso and Africa (2006), asook Marlene Dumas se Intimate Relationships (2007).

Die profetiese woorde van Raymund van Niekerk is ná Martin se vertrek in ’n mate bewaarheid: “Uiteindelik sal ons ’n nasionale galery hê wat geen voordeel vir die kulturele lewe in Suid-Afrika bied nie.”

Te midde van die warboel waar burokrate grootliks heers, het twee privaat inisiatiewe gekom – die Mocaa en die Norval-stigting, wat te oordeel aan bywoningsyfers toon dat daar ’n lewendige en ondersteunende kunspubliek is wat groot belangstelling in die buiteland en die res van Afrika het. Van hier word die boodskap wêreldwyd uitgestuur dat die staat sy verantwoordelikheid ongevraag op privaat kunsmuseums afgeskuif het.

Nee, as ’n mens hierdie geskiedenis bladsy vir bladsy gelees het, is dit nie ’n grafskrif wat Martin vir haar geliefde Sang skryf nie. Dit is ’n ernstige pleidooi – selfs ’n desperate wekroep – aan die staat om opnuut te besin oor sy oorsigrol in die instandhouding van ’n trotse nasionale museum wat die platform behoort te wees van die eie trots in ons kulturele, intellektuele en visuele prestasies.

  • Between Dreams and Realities: A History of the South African National Gallery, 1871-2017 deur Marilyn Martin, uitgegee deur Print Matters Heritage, Noordhoek, 2019.
  • Marilyn Martin tree op die Toyota US Woordfees in Stellenbosch in gesprek met Gabriël Botma in die program Marilyn Martin: Veldslae in ’n kunsmuseum op 9 Maart om 15:30.
Meer oor:  Amanda Botha  |  Woordfees2020  |  Kuns  |  Woordfees  |  Visuele Kuns
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.