Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Kunstenaar Barend de Wet sterf in botsing
Die kunstenaar Barend de Wet, wat ook ’n wêreldrekordhouer in die kuns van klimtolspel was. Foto: Albi Fouché

Die Kaapse kunstenaar Barend de Wet is Saterdagmiddag in ’n motorongeluk naby Caledon oorlede. Hy was 61.

Sy vrou, Diana Cilliers, wat saam met hom in die motor was, is in ’n stabiele toestand in die hospitaal.

De Wet kan as ’n mitiese figuur in die Suid-Afrikaanse visuele kunswêreld beskryf word. Vir meer as drie dekades was dié enigmatiese konseptuele kunstenaar aktief betrokke by die plaaslike en internasionale kunstoneel.

Hy het in verskeie media werke gelewer wat die aandag opgeëis het. Nie net was hy bekend om sy behendige gebruik van tradisionele media nie, maar ook in vlytkuns, wat hy speels aangewend het deur onder meer gebreide skilderye en beeldhouwerke te skep. Hy was ook bekend om sy performance-kuns.

Kuns is lewe en lewe is kuns.

Hy het ’n renons gehad in die oorintellektualisering en ’n hoogdrawende inslag van kuns.

“Hy was ’n kunstenaar wat alles omgedraai het, veral dit wat ons dalk aanvaar as hoe kuns moet wees. Hy het altyd vanuit ’n ander hoek gewerk en sake anders belig,” sê die kunskenner en kurator Marilyn Martin.

Sy vertel hoe hulle destyds seepkissies opgerig het waar mense hul sê kon sê by die Iziko Nasionale Kunsmuseum in Kaapstad, waar sy die direkteur was.

De Wet het “poedelnakend op die kissie gaan staan – nie om sensasie te ontlok nie, maar om ons aandag te vestig op ’n groter saak. Hy was sonder inhibisie en het dit wat hy aangepak het ordentlik gedoen. Hy het graag die spot gedryf in werke wat tegnies hoogs vaardig was.”

Sy bydrae was nie net beperk tot kuns nie. Hy was ook ’n wêreldrekordhouer in die kuns van klimtolspel en was ook ’n model vir die Japanse modeontwerper Issey Miyake.

Daarby het hy bye aangehou en voorts het hy ’n hotel vanuit sy huis in Observatory in Kaapstad bedryf waar plaaslike en internasionale kunstenaars ’n “kunsteverblyf” aangepak het.

Die kunskenner Melvyn Minnaar beskryf hom as ’n merkwaardige kunstenaar wat sedert hy op die toneel verskyn het die aandag getrek het.

Hy was ook ’n wêreldrekordhouer in die kuns van klimtolspel en was ook ’n model vir die Japanse modeontwerper Issey Miyake.

“Sedert sy studentedae was hy ’n absolute meester in sy speelse, altyd tong-in-die-kies-gebruik van materiale. Hy was ook een van die eerste jong kunstenaars wat Raymond van Niekerk (eertydse direkteur van die Nasionale Kunsmuseum) destyds genader het om werke vir die fasade van die kunsmuseum in Kaapstad te skep – wat nog steeds daar te sien is.

“Sy laaste werke – groot, staal en gebreide werke wat amper soos reuse-speelgoed lyk, bewys weer sy vakmanskap en speelse ironie.”

De Wet se lewensmotto luidens Smac, die galery wat hom verteenwoordig het, was “Kuns is lewe en lewe is kuns”.

De Wet is in 1956 in Boksburg gebore. Hy het studeer aan die Michaelis-kunsskool in Kaapstad en het in lewe aan verskeie groepuitstallings deelgeneem en ook solo-uitstallings aangepak. Sy werk was in fokus op die heel eerste Kaapstadse kunsmark in 2013. Hier het sy gebreide werke en sy eie brei-demonstrasies mense gelok.

In 2015 het hy sy rolprent Projected Identities in die Tate Modern in Londen vertoon as deel van die projek The Film Will Always Be You – South African Artists on Screen. Werk van hom is tans te sien in die Nasionale Kunsmuseum in die uitstalling Women’s Work.

Meer oor:  Kaapstad  |  Kunstenaar  |  Motorongeluk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.