Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Kunstenaar is onderwerp in eie werk op Live Art
Lorin Sookool

Verbeel jou ’n kunstentoonstelling waar die kunstenaar haarself as onderwerp gebruik, maar nie fisiek in dieselfde vertrek as die publiek is nie.

Lorin Sookool, ’n Durbanse kunstenaar en danser, het haar opvoering It’s Like My Second Skin op die Live Art-fees in Kaapstad regstreeks via die internet vanaf haar woning in Durban aangebied.

Dié kunstentoonstelling verwys juis na mense se persoonlike lewe wat beïnvloed word deur die digitale omgewing, soos die sosiale media.

Daarbenewens wou sy nog altyd kuns meer toeganklik vir jonger gehore maak.

“Galerye is soms so ontoeganklik en selfs net toeganklik vir ’n sekere groep mense. Ek wou hê enigiemand moet daarna kan kyk,” sê sy.

Haar eie verhouding met die sosiale media het die konsep en proses aangewakker en daarmee wou sy mense se teenwoordigheid op sosiale media meer veelvlakkig uitbeeld.

“Die sosiale media is by tye vir my baie snaaks, eienaardig en baie ingewikkeld.”

“Niemand plaas enigiets negatiefs nie. Dit is maar ’n eensydige verhouding waar met inspirerende aanhalings en pragtige foto’s ’n illusie van die werklikheid geskep word.”

Sookool sê sy is ook ’n produk van haar generasie en dat dit moeilik is om jouself deurentyd te herinner en in te perk as gevolg van die “onuitgesproke wette” in die digitale wêreld.

“Die vertoning handel oor die proses om ’n foto te neem met die doel om dit op sosiale media te plaas. Dit wys hoe jy alles om jou kan manipuleer om die ‘perfekte’ beeld te kry.”

Sy is ook ’n voorstander daarvan om ’n humoristiese aanslag in haar werk te gebruik.

“Ek doen alledaagse menslike aktiwiteite in die proses voor ek die foto’s neem. Ek krap, poep en daardeur wys ek hoe ons liggaamstaal verander,” sê Sookool.

Sy meen ook dat mense vir hulself op sosiale media lokvalle stel.

“Ek wou net nog ’n perspektief op die proses bied. Dis ook vir my belangrik dat dit nie te ernstig gedoen word nie.

“Hoewel kuns soms as iets net vir bevoorregte mense beskou word, wil ek juis daardie stigma afbreek en vir die jonger mense van my generasie die moontlikhede daarmee wys,” sê sy.

Deur die aanlyn kunstentoonstellings bereik Sookool ook ’n wyer gehoor, wat veral weens die komiese aanslag daarvan tot haar werk aangetrokke voel.

“Ek sou nie kuns kon maak sonder die ondersteuning van The Floating Outfit-projek in Durban nie. Dié organisasie ondersteun en lei jong kunstenaars om hul eie stemme te ontwikkel.”

Sookool is tans op pad na Limpopo vir haar volgende projek waaroor sy tans nie veel wil sê nie.

* Die Live Art-fees eindig Donderdag en alle vertonings is gratis op die Universiteit van Kaapstad se Hiddingh-kampus.

Meer oor:  Lorin Sookool  |  Kaapstad  |  Live Art  |  Sosiale Media  |  Vertonings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.