Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Kunstenaar kies Kaap vir 3 reusewerke
Die Franse kunstenaar Saype aan die werskaf aan ’n ‘Beyond Walls’-kunswerk wat op die gras by die Seepuntse promenade aangebring is.

Drie plekke in en om Kaapstad word tans deur Saype, ’n internasionaal gevierde straatkunstenaar, herskep as deel van sy wêreldwye Beyond Walls-kunsprojek.

Sapye, ’n Franse selfopgeleide straatkunstenaar, word wêreldwyd as ’n pionier in ’n nuwe landkunsbeweging beskou. Hy werk saam met ’n klein span werkers om reusekunswerke te skep – van die werke beslaan meer as 10 000 m². Hy gebruik bioafbreekbare spuitverf vir die werke wat hy al onder meer teen ’n berghang in die Switserse Alpe aangebring het, op die groot grasperk voor die Eiffeltoring in Parys, op ’n drywende grasplatform in Istanbul en ’n park in Berlyn. Sy grootskaalse kunswerke is gewoonlik van gewone burgers, hetsy spelende kinders, ’n vrou, ’n skaapwagter of ’n bejaarde en sy boodskap is humanitêr. Sy leuse is dat hy ’n “impak wil maak op mense sonder om die natuur te skaad”.

Met sy jongste Beyond Walls-onderneming poog hy om “politieke en sosiale mure tussen mense” af te breek deur ’n menslike ketting van hande te skep wat simbolies is vir mense van verskillende nasionaliteite wat mekaar ondersteun en bymekaar staan in ’n toenemend gefragmenteerde wêreld. Die werke is groot en kan net behoorlik vanuit die lug gesien word. Kaapstad is sy negende stopplek vir dié voortgesette internasionale projek waarmee hy in 2019 begin het en waarvoor hy 30 wêreldstede in die visier het.

Saype het reeds in unie 2019 in Parys op die gras van die Champs de Mars-park voor die Eiffeltoring in Parys die eerste “handdruk” in dié Beyond Walls- ketting aangebring. Dit het 600 m beslaan.Foto: Chesnot, Getty Images

Saype se regte naam is Guillaume Legros. Saype is ’n losse samestelling soos uit die Engelse ‘say peace’ vertaal. Legros was ’n opgeleide verpleër voordat hy sy gebruiklike “spuitkannetjie” heeltyds opgeneem het.

Saype se grootouers was deel van die Franse versetbeweging in die Tweede Wêreldoorlog en het tydens hul deportasie gesterf. Hy het aan die Britse koerant The Guardian gesê dat Beyond Walls handel oor die saamleef van die mensdom anderkant grense.

“Dit blyk dat ons kort geheues het, ons leef in ’n pessimistiese tyd voor ’n oorlog en te midde van ’n ekonomiese ineenstorting, waar mense grense en versperrings tussen mekaar geplaas het.”

Sy werk dien om mense uit te nooi om mekaar te help, mekaar te ondersteun en saam te leef in ’n gees van welwillendheid. Sy kunswerk bestaan uit ’n reusevoorstelling van ’n ferm handdruk (van pols tot pols) tussen twee mense. Dit kan benewens ’n handdruk ook as ’n hand van redding en hulp gesien word, wat uitgesteek word om iemand op te help, hetsy uit ’n verknorsing of letterlik uit die see. Hy is geïnspireer deur die humanitêre groep SOS Méditerranée, wat vlugtelinge uit die Middellandse See red tydens die lewensgevaarlike seereis na Europa en ’n moontlike nuwe vaderland. Sy kunswerke word gewoonlik op gras aangebring in ’n openbare plek waar mense vergader.

Die kunswerk is bedoel om met tyd te vervaag. Hy het reeds in Junie 2019 in Parys op die gras van die Champs de Mars-park voor die Eiffeltoring die eerste “handdruk” in dié ketting aangebring. Daarna het grasvelde en ander plekke in die onafhanklike staat Andorra,  Genève in Switserland, die Duitse hoofstad Berlyn, Burkina Faso se hoofstad Ouagadougou, die Ivoorkus se hoofstad Yamoussoukro, die Italiaanse kultuurstad Turyn en Istanbul, in Turkye, gevolg en nou is Kaapstad aan die beurt.

Hy beskou die stad aan die voet van Tafelberg as belangrik weens die geskiedenis van apartheid in Suid-Afrika.

“Met die werk wil hy die gees van versoening soos voorgestel deur oudpres. Nelson Mandela weer in herinnering roep,” lui ’n verklaring oor die beoogde tema vir sy jongste kunswerk.

Benewens die grasperk by die Seepunt-promenade, ’n gewilde ontspanningsplek vir Kapenaars, het hy plekke in Philippi en die township Langa gekies vir die aanbring van sy grasfresko’s.

Die 31-jarige kunstenaar woon tans heeltyds in Switserland. Ander stede in die vooruitsig vir sy Beyond Walls-projek is Belfast, Buenos Aires, Christchurch, Londen, Melbourne, New York en Nairobi.

• Dié indrukwekkende geleentheid dien as afskop vir die vyfde internasionale openbare visuele kunsfees (Ipaf) waar 20 plaaslike en internasionale kunstenaars grootskaalse openbare kunswerke in Soutrivier skep. Nagenoeg 100 kunswerke gaan teen mure aangebring word en kan van 10 tot 14 Februarie deur die publiek besigtig word. Dit is een van die grootste feeste van openbare kuns op die vasteland.

Die fees fokus op die belang van openbare kuns om gemeenskapswaardes te kommunikeer, die omgewing te verbeter en die publiek uit te daag met prikkelende kuns wat debat ontlok.

Die jaarlikse fees word deur Baz-Art gereël.

• Die Beyond Walls-projek is deur Saype, die ambassade van Switserland in Suid-Afrika, die Kaapse metro, die Ipaf en Baz-Art geborg.

Meer oor:  Saype  |  Visuele Kuns
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.