Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Kunstenaar kom tuis in Karoo ‘waar die aarde lewe’

Die Karoo is een van die land se natuurlike wonders en met sy eindelose vlaktes is dit een van die wêreld se mees unieke en droë gebiede. Dié landskap het die kunstenaar Ignatius Marx so bekoor dat hy onlangs die see daarvoor verruil het. Maricelle Botha het met hom gesels.

Karoo Splendour deur Ignatius Marx.

Mense praat maklik van die “niks” van die Karoo, maar vir die Suid-Afrikaanse skilder Ignatius Marx hou die dorre landskap van Philipstown en omgewing talle verborge juwele in.

“Hier lewe die aarde. Dit is ongelooflik – ’n mens kan die natuur aan jou voel. Die skemerlug lyk soos vuur uit die hemel. Die storms is kleurvol en wild.”

Luister jy so na Ignatius se beskrywing van sy nuwe tuiste, is dit maklik om een van sy dramatiese lug-skilderye voor te stel.

Philipstown het sowat twaalf jaar gelede dié kunstenaar se oog getref toe hy deur ’n plaaslike reistydskrif geblaai het.

Agter in die tydskrif was ’n advertensie van ’n huis wat vir R30 000 te koop was.

“Ek kon my oë nie glo nie, en het aan ’n vriendin gesê dat dit sekerlik nie reg kan wees nie. Ek het navraag gedoen en die tannie het gesê dat die prys inderdaad korrek was, maar dat die huis reeds verkoop is. Sy het toe gesê dat sy ook ’n ander huis beskikbaar het en dat ek sommer moet kom kuier en kom kyk.

So is ek toe saam met my vriendin Karoo toe om te gaan kyk.”

Quiet Evening Karoo deur Ignatius Marx.

Hy vertel dat hy as kind in Carnarvon gekuier het waar sy oom ’n bankbestuurder was en hy met groot nostalgie die spesiale kuiers kan onthou.

Ná drie mislukte pogings om ’n huis in Philipstown te koop omdat die huise nie noodwendig op die naam van die “eienaar” op die amptelike dokumente was nie, het hy toe die daaropvolgende jaar, die ‘regte’ een kon koop – ’n heerlike ruim huis met genoeg spasie vir sy ateljee.

Ignatius sê hy het nooit gedink hy sal heeltyds hier woon nie, maar met elke besoek was die bekoring meer en uiteindelik het die tyd aangebreek om sy huis in Umdloti in KwaZulu-Natal in te ruil vir die stilte van die Karoo.

“Ek het oor die jare my huis so stuk-stuk gerestoureer. My ateljee is darem ook gereed en ek hoop om binnekort besoekers te kan ontvang.”

Die buitemure van Ignatius se ateljee is die mure van die oorspronklik Standard Bank wat destyds in die dorp was.

Afternoon Refreshment deur Ignatius Marx.

Hy sê sy droom is om eendag slypskole hier aan te bied waar medekunstenaars by hom kan kom kers opsteek en ook die sjarme van die Karoo kan ervaar.

As 19-jarige grafiese-ontwerpstudent aan die eertydse Vaaldriehoek-Technikon, het Ignatius vakansies by die gevierde kunstenaar en die stigter van die New Group-kunsbeweging, Gregoire Boonzaier, deurgebring.

“Dit is met hierdie besonderse verwysing wat ek ook sulke tipe moontlikhede aan ander kunstenaars wil beskikbaar stel.

Onder Gregoire se leiding het ek soveel kennis opgetel wat vandag nog ’n invloed op my werk het,” vertel Ignatius.

Geïnspireer deur sy omgewing en ’n diepgewortelde liefde vir die natuur, praat Ignatius se werk van ’n besonderse gemoeidheid met lig en atmosfeer, en die vaslê van dit wat in wese Afrika is – die uitgestrekte lug en wolke, en die skouspelagtige en dikwels harde en wrede skoonheid van die landskap.

Belangstellendes wat by Ignatius se ateljee wil inloer of meer van sy werk te wete wil kom, kan ignatiusmarx.com besoek of hom kontak by 083 234 2010 of per e-pos by ignatius@ignatiusmarx.com.

Road to De Aar, Karoo deur Ignatius Marx.
Philipstown Sunset deur Ignatius Marx deur Ignatius Marx.
Die Suid-Afrikaanse kunstenaar Ignatius Marx noem deesdae Philipstown in die Karoo huis. Regs: Sy huis in Philipstown. Foto’s: Louis Holtshauzen
Philipstown Sunset deur Ignatius Marx
Igantius se huis in Philipstown. Foto: Louis Holtshauzen
Karoo Splendour deur Ignatius MarxFoto:
Afternoon Refreshment deur Ignatius MarxFoto:

Meer oor:  Ignatius Marx  |  Karoo  |  See  |  Kuns  |  Kunstenaar
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.