Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Kunstenaar Leon de Bliquy vroeër vanjaar stil dood
Leon de Bliquy by een van sy kleurryke skilderye.

Leon Paul de Bliquy, een van Suid-Afrika se bekende en mees produktiewe kunstenaars, is stilweg op 6 Maart vanjaar in ’n klooster in België dood.

Al klink sy ongewone van uitlands, was De Blique ’n gebore Suid-Afrikaner wat in 1943 in Johannesburg sy eerste lewenslig aanskou het, vertel Rina Lups van Bloemfontein.

Sy en haar man, dr. Jaco Lups, het ’n lewenslange vriendskap met De Bliquy aangeknoop toe hy vir ’n BA-graad in beeldende kuns aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) studeer het.

Hul seun, Geert, het twee maande se kunsopleiding by De Bliquy in België ontvang, en werk aan ’n boek oor dié besondere kunstenaar, waarvoor alle inligting verwelkom sal word.

Die UV was een van verskeie instansies waar De Bliquy sy talent geslyp het. Dit het in 1962 by die Michaelis-kunsskool in Kaapstad begin waar Katrine Harries en Carl Buchner onder

Ship of Fools deur Leon de Bliquy.

sy leermeesters was.

In 1964 het hy hom vir deeltydse studie aan die destydse Kaapse Tegniese Kollege ingeskryf en die nasionale drukkersdiploma en kommersiële kunsdiploma verwerf.

Sy eerste geleentheid vir blootstelling in die buiteland was in 1975 toe hy met ’n beurs aan die Koninklijke Academie voor Skone Kunsten in Antwerpen, België, gaan studeer het.

Die volgende stap was ’n BA-graad in 1979 aan die UV en ’n meestersgraad wat hy in 1985 aan die Rhodes-Universiteit in Grahamstad verwerf het.

Lups sê “vir ’n skeppende kunstenaar met so ’n akademiese agtergrond is dit nie verbasend dat hy verskeie media vernuftig kon toepas nie. Hy het sy inspirasie meestal uit die mitologie en literêre temas geput en dit in landskappe, figuurstudies, portrette, diere-, vis- en abstrakte skilderye uitgebeeld. Hy was ewe gemaklik met olie- en waterverf, akriel, gouache, ink, potlood, houtskool en verskeie grafiese mediums.”

Lups sê De Bliquy het talle solo-uitstallings gehou en ook aan groepuitstallings in Suid-Afrika en België deelgeneem.

Wat sy loopbaan van ander onderskei, is sy swak sig wat later ondanks ’n menigte oogoperasies net 5% was. Hy het self gesê “my blik van die wêreld was van jongs af vaag”. Tog is baie van sy werke uitbundig kleurryk.

“Hy kon magiese elemente saamsnoer in treffende komposisies met suggesties van bewegende vorm en lyn.

Sy inspirasie het hy dikwels geput uit die werke van die Spaanse skrywer Federico Garcia Lorca en die Griekse skrywers Odysseus Elytis en Nikos Kazantzakis,” sê Lups.

Sy noem ook De Bliquy se byna bomenslike vermoë om teenslae en rampspoed te hanteer, soos toe ’n houer met al sy kunsbesittings op pad na België oorboord geval het en hy nietemin daarna ’n reeks etse met Quylibed’s Odyssey as tema geskep het. Dit is in verskeie galerye in België uitgestal.

“De Bliquy het talle produktiewe en suksesvolle jare beleef terwyl hy in Iper gewoon het. Ná die verbrokkeling van sy huwelik het hy teruggekeer na Suid Afrika en by vriende in die Wes-Kaap gebly waar hy probeer het om sy talente en geesdrif te herwin. Sy onblusbare gees was egter nie sterk genoeg om weer te seëvier nie.

“Twee jaar gelede het sy seun, ’n priester in die Katolieke Kerk, sy pa na ’n klooster in België geneem waar hy tot sy dood versorg is,” sê Lups.

Sy nalatenskap is ’n wêreld van ongekende kleurrykheid met sinspelings op literêre tekste.

Inligting oor De Bliquy kan per e-pos gestuur word na rina@live.co.za of Geert Lups by gjlups@gmail.com.

Meer oor:  Kuns
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.