Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Kunstenaar ‘nederig en opgewonde’ oor Stalsprys

“Ek was so uit die veld geslaan oor die Stalsprys, ek het skoon gedisoriënteerd gevoel in die telefoongesprek en aanmekaar vrae gevra. Dit wou net nie insink nie.”

Prof. Janine Allen-Spies van die Universiteit van die Vrystaat is pas met die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se Stalsprys vereer. Foto: Facebook

Prof. Janine Allen-Spies, die Bloemfonteinse kunstenaar en akademikus verbonde aan die departement beeldende kunste van die Universiteit van die Vrystaat (UV), sê nadat sy tot verhaal gekom het, kan sy sê sy voel tegelyk nederig en opgewonde, veral omdat erkenning gegee word aan haar rol as aktivis en ander aspekte wat vir haar belangrik is.

Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns skryf in sy commendatio vir dié prys in die kunstewetenskappe “prof. Allen-Spies word vereer vir haar waardevolle rol as beeldende kunstenaar, kunstenaar-akademikus, mentor, lektor, aktivis en blywende passievolle ondersteuner van uiteenlopende huidige en voormalige studente wat aktief is as kunstenaars op die Vrystaatse, nasionale en internasionale kunstoneel”.

Haar akademiese loopbaan word ook gekenmerk “deur haar konseptuele vermoë om teoretiese kennis met ateljeenavorsing te integreer. Sy het met haar filosofies-teoretiese begronding ’n nuwe geslag akademies goed gefundeerde kunstenaars begelei wat bydra tot die nasionale kunstoneel”.

Allen-Spies sê sy glo sy is vir die akademie gebore. Sedert sy as 17-jarige aan die UV begin studeer het, is sy aan die instansie verbonde, behalwe ’n jaar wat sy ná haar voorgraadse studie in Europa deurgebring het.

“Dit is nie maklik om eie werk te skep saam met klasgee en ander eise wat so ’n pos verg nie, maar my leuse is om eenvoudig voort te gaan. Al vorder jy stadig, moet jy net aanhou.”

Allen-Spies sê die universiteit gee navorsingstyd, maar sy voeg elke naweek nog vyf uur by. Dit is dié toewyding wat maak dat sy gereeld aan uitstallings deelneem.

Sy berei tans voor vir ’n tweeman-uitstalling saam met die fotograaf André Rose in die William Humphreys-kunsmuseum in Kimberley en ’n groepuitstalling in Pretoria.

‘Room in the Rain’, een van Janine Allen-Spies se kunswerke.

Werke wat verlede jaar in die virtuele Constitution Hill-uitstalling genaamd Carona Yarona met Covid-19 as tema uitgestal is, word nou gestuur na ’n internasionale uitstalling wat saam met die kunsorganisasie die Budapest Diary in Spanje aangebied word.

Sy het ook al in New York, Noorweë, Parys en op die Venesiese biënnale uitgestal.

Allen-Spies se curriculum vitae van 28 bladsye getuig van ’n kunstenaar wat op vele vlakke by talle bedrywighede betrokke is, van komitees, beoordelaarspanele, die aanbied van slypskole, konferensie-deelname, resensering, werk as kurator tot gemeenskapsaktiwiteite en meer, benewens ’n magdom werke vir uitstallings en die daaglikse akademiese pligte.

Beloning het nie weggebly nie. Sy het twee keer ’n kunsteverblyf ontvang, van die Ampersand-stigting in New York (2017) en die Unesco-Ashbergbeurs vir verblyf in Itaparica, Brasilië (2002).

Allen-Spies sê sy gee haar alles vir die studente, ongeag of dit voorgraadse of nagraadse studente is. Haar CV toon ook ’n lang lys van meestersgraadstudente van wie talle met onderskeiding geslaag het. “Dis vir my heerlik om met studente te werk. Hul energie hou ’n mens jonk,” erken sy.

Sy glo as jy sukses wil behaal, moet jy geniet wat jy doen en getrou daarmee voortgaan.

Allen-Spies is getroud met die nuwemedia-kunstenaar Jaco Spies, wat ook aan die UV verbonde is. Hulle het twee tienerseuns.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.