Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Kunstenaar reik uit met wyn as medium vir skilder
Lily Brannon aan die werk.

Van kleins af het Lily Brannon met vreemde materiale “kuns” geskep. As sy nie modder oor ou plafonborde gevryf het nie, het sy “prentjies” met speserye en fyngedrukte blare en blomme op koerantpapier geteken, of met beet.

Toe sy as student op Stellenbosch aan ’n kompetisie deelneem met wyn as die voorgeskrewe medium, was dit nie vir haar ongewoon nie, maar die ervaring het haar nie aangestaan nie.

“Wyn se pigment is te swak. Jy moet baie lae gebruik en ná elke laag moet jy wag dat dit droog word. Ek het niks daarvan gehou nie,” vertel dié ondernemende Kaapse kunstenaar.

Dieselfde maand word sy genooi om by ’n deftige geleentheid op die Lourensford-wynplaas buite Somerset-Wes ’n “kunsvertoning” te lewer. In so ’n vertoning kombineer sy skilderwerk met dans en drama.

“Ek dink toe dit is dalk die soort geleentheid waar skilder met wyn aandag behoort te trek. Ek het ’n glas wyn geskink waarin ek my kwas gedruk het, en een waaruit ek gedrink het. Dit was ’n rasende sukses.”

‘Story of Her Skin’ (wyn en ink op doek) uit die reeks ‘Rise Above’.

Hierna het sy voortgegaan om met wyn as medium te eksperimenteer en besef sy moet nie die talle lae as negatief ervaar nie.

“Wyn is gelaagde simboliek. Daarin vind jy die transformasie wat deur verskillende stadiums gaan vandat die boer die wingerd plant totdat jy ’n glas wyn in jou hand hou.”

Sy hou ook van die deursigtigheid wat haar werk ’n ander dimensie gee. Sy voeg by dat shiraz ongetwyfeld die beste keuse rooiwyn hiervoor is omdat dit die sterkste pigment het.

Brannon is nie net ’n kunstenaar nie, sy het ook ’n entrepreneuriese sy en neem gereeld groepe na wynplase, bied korporatiewe spanbousessies en kreatiewe slypskole aan, en doen gemeenskapswerk, altyd met skilderkuns as die kern.

“Soms is die kuns ’n terapeutiese faktor, ander kere ’n kreatiewe uitlaatklep, en op wynplase sal ek die groepe byvoorbeeld aan wyn as medium vir skilderkuns bekend stel.”

Brannon se ander gekose mediums is houtskool en inkpen, wat sy soms inspan vir donkerder kontras in haar wynskilderye.

In die inperkingstyd het sy ’n hele reeks werke met die titel To Be Human voltooi waarvoor sy net houtskool gebruik het. Haar uitgangspunt met dié onderwerp, wat sy meestal in portretkuns uitbeeld, is ’n fokus op die ooreenkomste tussen mense – “om nie op die verskille te konsentreer nie”.

Haar vorige reeks, Be My Bird, het as tema die vryheid wat jy vind as jy bo jou omstandighede uitstyg.

‘Portret’ (houtskool op doek) deur Lily Brannon.

Lewensloop

Lily Brannon het in pleegsorg in Johannesburg grootgeword en aan die Hoërskool Randburg gematrikuleer met onder meer kuns, drama en ontwerp as vakke.

Sy wou graag kuns studeer, maar daar was nie geld nie. Toe besluit haar voogma om ’n uitstalling en veiling te hou van al die werke wat sy tot in daardie stadium geskep het.

Die opbrengs was genoeg vir ’n jaar se kunsstudie by die Marie Stander-kunsskool in Stellenbosch.

Daarna het sy ’n graad in visuele studies aan die universiteit daar verwerf.

Nadat sy gereis het en gemeenskapswerk in Kayamandi gedoen het, het sy besluit om haar voltyds te wy aan haar onderneming, I am Art, wat die reël en aanbied van allerlei geleenthede behels, van kinderpartytjies tot slypskole, waarby sy kuns op ’n gepaste wyse betrek.

Stuur ’n e-pos vir geleenthede en kunsklasse na lily@lilybrannon.com. Besoek haar webwerf by lilybrannon.com.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.