Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Kunstenaar stal haar ‘sielswerke’ in Kaapstad uit

Die Suid-Afrikaanse visuele kunstenaar Hari Lualhati gaan haar vierde reeks “sielswerke” vandeesmaand in die Art is Art-galery in Woodstock, Kaapstad, uitstal.

Die sielswerk ‘Brave Heart’ (olie op doek, 121,92 x 88,9 cm) is deel van Hari Lualhati se jongste uitstalling, ‘Transcend’. Foto: Verskaf

Lualhati verwys na haar werk as “sielswerke” omdat dit vir haar “meer as net kunswerke is, dit is siele wat in kuns verteenwoordig is”.

“Dit is geïnspireer deur lewenslesse wat ek self ervaar het – dit is hoekom die werke ’n direkte verbintenis met my siel het en verteenwoordig wat werklik vir my saakmaak,” sê sy.

“Ek wil hierdie lesse en inspirasie bewaar en aan ander oordra op die beste manier wat ek kan – en dit is deur my sielswerke.

“Ek glo ons is almal as mense aan mekaar verbind en dat ons dieselfde emosies deel. Ek hoop daarom dat mense wat my werk besigtig ’n deel van hulself in my sielswerke kan sien, hopelik daarmee kan vereenselwig en daardeur geïnspireer sal word om ’n meer positiewe uitkyk op die lewe aan te neem.”

Hari Lualhati: Transcend, wat vanaf 6 Mei uitgestal word, is die jongste in ’n reeks van sielswerke en volg op die uitstallings Efflorescence (2017), Untamed Heart (2017) en Reign (2019). Al die werke in die laasgenoemde drie uitstallings is blitsvinnig uitverkoop.

Hari Lualhati Foto: Verskaf

Transcend se sielswerke sluit olie op doek, tekeninge, en afdrukke op doek in en fokus weer op die menslike figuur, ’n beeld wat sentraal in talle van Lualhati se werke is.

“Die vorm van die menslike liggaam – spesifiek die naakte liggaam en die vorm wat dit skep – het my nog altyd geboei,” sê Lualhati.

“Ek vind dit elegant, klassiek en ek kan my daarmee vereenselwig. Ek is versot op die opregtheid en die rou skoonheid wat ’n naakte liggaam verteenwoordig. Dit is dié kwaliteite wat my aanspoor om die naakte liggaam as onderwerpveld te verken.”

Lualhati (36), oorspronklik van die Filippyne, het in die verlede al in haar geboorteland, Hongkong en China as grafiese en produk-ontwerper, illustreerder en kunstenaar gewerk en is reeds wêreldwyd in lande soos Amerika, Duitsland, Italië, Japan, Spanje en Suid-Afrika vir haar werk bekroon.

Suid-Afrika het egter loshande haar hart gesteel, en sy het Kaapstad daarom in 2009 heeltyds haar nuwe tuiste gemaak. Dié skuif na die onderpunt van Afrika het ook ’n impak op haar werk gehad.

“Suid-Afrika is natuurlik ryk aan veldlewe en ’n beeldskone natuur, en ek het dit beslis al deel van my werk gemaak,” sê sy.

“Benewens die menslike figuur gebruik ek elemente uit die natuur en die diereryk om te wys hoe ons almal en alles aan mekaar verbind is.”

Lualhati se sielswerke gaan nie net in Woodstock te sien wees nie – dit gaan ook binnekort maan toe. Sy is een van sowat 1 200 kunstenaars wêreldwyd wie se visuele kuns, musiek en skryfwerk gedigitaliseer is en as deel van die Kanadese fisikus dr. Samuel Peralta en die Amerikaanse ruimteagentskap, Nasa, se Artists on the Moon-projek na die maan gestuur sal word.

“Dit is werklik opwindend,” sê Lualhati. “Ek het ’n inskrywing oor die projek gesien en wou graag aansoek doen, maar het toe besef aansoeke word nie aanvaar nie – jy moet genooi word.

“My verbasing was groot toe ek onverwags ’n boodskap van Dr. Peralta kry om te hoor of ek sou belangstel om deel van die projek te wees – en ek het natuurlik dadelik ja gesê. Dit is ’n groot eer.”

Lualhati se ‘Wholehearted’ gaan as deel van die Artists on the Moon-projek gedigitaliseer word en maan toe gestuur word. Foto: Verskaf

Peralta en sy span het self Lualhati se sielswerk “Wholehearted” vir die projek gekies.

“Ek dink persoonlik dit is ’n goeie keuse want dié sielswerk dra ’n positiewe boodskap oor wat toekomstige generasies kan aanspoor – ’n boodskap wat sê dat jy met jou hele hart jou beste moet gee in alles wat jy doen.”

  • Hari Lualhati: Transcend word van 6 tot 29 Mei in die Art is Art-galery in Sir Lowry-straat, Woodstock, uitgestal. Besoek www.artisart.co.za/ vir meer inligting.
  • Lualhati het ook drie koffietafelboeke met al die sielswerke uit haar eerste drie uitstallings uitgegee. Effloresence kos R1 200, Untamed Heart kos R1 400 en Reign kos R1 200. Stuur ’n e-pos na harilualhati_artist@hotmail.com of besoek http://harilualhati.yolasite.com/ vir meer inligting.
Meer oor:  Nasa  |  Kuns  |  Visuele Kuns
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.