Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Kunstenaar Thijs Nel (77) sterf
Thijs Nel Foto: Argief

Die veelsydige skrywer, digter, operasanger en kunstenaar Thijs Nel is Vrydag in ’n hospitaal op Oudtshoorn oorlede.

Volgens die akteur Louis van Niekerk het Nel Vrydag sleg begin voel, ’n dokter is gebel en hy is in ’n plaaslike hospitaal opgeneem, waar hy Vrydagmiddag dood is.

Nel (77) se landskappe, stillewes en ander kunswerke, asook pottebakkerswerk is in groot openbare en private versamelings in Europa, Amerika en Japan opgeneem. In Suid-Afrika is sy werk in die Johannesburgse Kunsmuseum se versameling asook onder meer in die versamelings van die Universiteite van Tshwane en Johannesburg. Hy het meer as 40 tentoonstellings in Suid-Afrika aangebied. Hy het al die kunsmedia bemeester en is ook bekend om sy grafiese werk. Sy werk is gesog by die groot Suid-Afrikaanse veilinghuise en pryse wissel van R2 500 tot nagenoeg R4 miljoen.

Mathijs Isak Nel is eintlik ’n boerseun van Ellisras en het onder meer veeteelt as ’n hoofvak in matriek gehad, maar die boerdery het hom glad nie getrek nie. Sy pa het hom sterk afgeraai om drama te studeer omdat hy nie ’n lewe daaruit sou kon maak nie.

Hy was toe eers as joernalis werksaam en later kunsredakteur by die destydse Die Vaderland. Hy het die pos beklee nadat hy sy studie in visuele kuns aan die Universiteit van die Witwatersrand voltooi het. Hy was ook kunslektor by die Witwatersrandse Technikon.

In die 1960’s het Nel vyf jaar in Parys, Frankryk, gewoon waar hy twee jaar aan die Cité Internationale-des-Arts verbonde was en opdragmuurskilderye voltooi het by Bois d’Arcy en Neuilly-sur-Marne. Hier in Parys het hy ook sy studie in litografie voltooi. Daarby het hy ook sanglesse geneem.

In 1982 het hy hom begin verdiep in pottebakkerskuns. ’n Oorsigtentoonstelling van sy werk is in 1982 aan die destydse Randse Afrikaanse Universiteit gehou en ’n groot 50ste oorsigtentoonstelling van sy werk sou later daar in 1993 volg.

Nel het graag gereis en was veral lief vir Indië as reisbestemming.

Op ’n jong ouderdom het ek besef dat die lewe nie noodwendig mooi of regverdig is nie, ek het besluit om alles vir myself mooi te maak.
Thijs Nel

Sy ingesteldheid teenoor kuns verduidelik hy soos volg in ’n onderhoud: “Op ’n jong ouderdom het ek besef dat die lewe nie noodwendig mooi of regverdig is nie, ek het besluit om alles vir myself mooi te maak. Waar skoonheid en estetika dikwels met die skone kunste verbind word in die Westerse wêreld, beskou ek myself as ’n gewone mens wat besig bly om skoonheid te skep. Skoonheid is die enigste ding wat bevredig, maak nie saak waar dit gevind word nie,” het hy luidens ’n berig op die Olive Factory-maatskappy se webblad gesê, wat sy pottebakkerswerk verkoop het.

Sy werk is ook meer onlangs deur die leefstylwinkel Rain verkoop.

Van Niekerk het meer as 30 jaar gelede met Nel vriende geword, toe Nel as teaterresensent Truk se produksies geresenseer het.

“Ons het ’n wonderlike vriendskap gehad al het ons mekaar die afgelope paar jaar net een keer per jaar gesien. Hy het my altyd geterg dat my vleisetery sal lei tot my dood, hy was ’n toegewyde veganis.

“Hy was ’n diep geestelike mens en het die Zen-lewensfilosofie aangehang. ’n Mens kon lekker een tot een met hom kuier. Ons het so lekker gelag.”

Nel se drama Fluit vir die vlieë is destyds by Kampustoneel opgevoer met Sandra Prinsloo in die hoofrol.

“Hy was ’n diep spirituele mens wat graag oor die groter vraagstukke in die lewe wou gesels, nie soseer ditjies en datjies nie. Daarby het hy ’n groot liefde vir tuinmaak gehad. Sy huis in Johannesburg en Oudsthoorn het elk ’n pragtige tuin gehad wat hy self aangelê en liefderyk versorg het,” het ’n jare lange vriend Niel le Roux, uitvoerende hoof van die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans, gesê.

Hulle het mekaar ook meer as drie dekades lank geken.

Nel se jare lange lewensmaat, Johan Gerber, ’n mediese dokter, het hom ’n paar jaar gelede ontval.

Meer oor:  Kuns  |  Visuele Kuns
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.