Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Kunstenaar van PE nou lid van Britse gilde
Clive Botha, ’n Baaise motorkunstenaar en -illustreerder, is pas aanvaar tot die Britse gilde vir motorkunstenaars. Slegs twee van die gilde se 60 lede is van Afrika afkomstig.

As ’n kind in Suid-Afrika se “motorstad” het Clive Botha vroeg sy liefde vir motors ontdek – en nou is hy een van net twee erkende kunstenaars in Afrika wat dié liefde met papier en potlood kan uitleef.

Botha, oorspronklik van Uitenhage, is pas aanvaar as ’n lid van die Britse gilde vir motorkunstenaars – wat tans uit net 60 lede oor die wêreld heen bestaan.

“Ek is trots om my stad en my land op dié platform te verteenwoordig,” sê Botha. “Toe ek navorsing daaroor gedoen het, het ek besef Suid-Afrika het nie self so ’n liggaam nie, maar dit is ’n eer om nou tot die Britse gilde te behoort.”

Hy besit ook sy eie bemarkingsagentskap vir die motorbedryf, maar sy tekeninge vorm wel ’n deel daarvan. “Die tekenbord is nog altyd my eerste liefde,” meen hy. “Daarom het ek die ‘Cartist’, ’n afdeling vir motor-illustrasies, as ’n deel van die maatskappy gevestig, en tans sorg dit vir 30 tot 40% van my werk.”

Botha se tekening van die renjaer en motorontwerplegende Carroll Shelby, by die Ford Mustang GT350 waarvoor hy bekend is. Foto: CLIVE BOTHA

Hy teken met grafiet, kleurpotlode en merkpenne, maar wil homself nie tot een styl beperk nie, vertel hy.

“Die lekkerste om te teken is natuurlik ou klassieke motors of eksotiese sportmotors. Ouer motors kan egter ook moeilik wees, as daar byvoorbeeld meer besonderhede aan die wiele is. Hoe meer kurwes en fyn besonderhede, hoe moeiliker raak dit om weer te gee.”

Die taak is ook ingewikkeld omdat die afmetings van die motor akkuraat moet wees. “Ek is ’n perfeksionis, en hoewel ek die teken geniet, is dit meer grafiese ontwerp as fyner kunswerk,” meen hy. “Dit is ’n bestaande produk wat visueel weergegee moet word. Jy kan ’n boom op verskillende maniere teken en niemand kan regtig sê dis reg of verkeerd nie, maar as jy ’n motor moet teken, sal jy vinnig sien as jy dit verkeerd gedoen het.”

As hy sy sin kry, sal hy eendag in die toekoms al sy aandag op dié tekenwerk kan toespits. “Daar is baie moontlikhede in dié veld, veral as ek ’n paar ooreenkomste kan sluit met plaaslike handelaars. Dit sal selfs op nasionale vlak as ’n diens aangebied kan word.”

’n Versameling van tekeninge van eksotiese sportmotors, wat Botha se gunstelingmotors is om te teken. Foto: CLIVE BOTHA

Sy liefde vir motors is egter nie beperk tot die tekenbord nie. Wanneer sy vrou, ’n dosent aan die Nelson Mandela-Universiteit, konferensies oorsee moet bywoon, piekel hy graag saam vir “motorverwante uitstappies”, vertel hy.

“In 2013 kon ek die Las Vegas-renbaan besoek en Ferrari, Lamborghini en McLaren-motors daar uittoets. Dié ervaring was ongelooflik opwindend. Net om daaraan te dink laat my bloed sommer weer bruis. Wanneer jy ratte verander en spoed vermeerder, voel dit soos ’n geweerskoot wat jou teen die sitplek druk. Jy sit ook so laag dat dit voel of jy reg bo die aarde brul.”

Om meer van Botha se werk te sien, besoek sy webtuiste by www.motormedia.co.za.

Meer oor:  Uitenhage
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.