Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Kunstenaars bly sit totdat raad sê wie geld kry

Kunstenaars van oor die land heen het reeds koffie, lugtyd, muffins, wegneemetes en bemoedigende boodskappe van steun gestuur na ’n handvol van hul kamerade, wat sedert Woensdag ’n sitstaking in die Nasionale Kunsteraad se kantoor in Johannesburg hou.

Die Nasionale Kunsteraad het reeds erken hy het le
Die Nasionale Kunsteraad het reeds erken hy het lelik drooggemaak.

Die operasangeres Sibongile Mngoma het dié sitstaking op haar eentjie begin in vreedsame protes teen die kunsteraad se hantering van R300 miljoen se noodfinansiering wat teen Desember verlede jaar in kunstenaars se beursies moes beland het. Dit moes kunsteprojekte finansier wat teen 15 Maart ten einde moes geloop het.

Die kunsteraad het teen 3 Maart nog net byna R28,5 miljoen van dié bedrag uitgedeel.

Netwerk24 het vroeër berig Mngoma het eintlik Maandag reeds van 09:00 tot 18:00 geweier om die kunsteraad se kantoor in Newtown te verlaat totdat sy ’n lys kry van al die begunstigdes aan wie die kunsteraad geld skuld én hoeveel aan elkeen van dié begunstigdes verskuldig is. Sy is uiteindelik deur ’n direksielid ingelig dat sy dié lys Dinsdag sal kry. Sy het huis toe gegaan, maar toe sy nie dié lys gekry het nie, het sy Woensdag om 09:00 na die kantoor teruggekeer om die sitstaking voort te sit.

Sy het ook reeds twee aande in die kantoor oornag saam met ’n handvol kunstenaars wat intussen by haar aangesluit het.

“Ek is oukei, ek slaap natuurlik nie genoeg nie, maar ek is opgewek,” het sy Vrydagoggend aan Netwerk24 gesê.

“Die NAC speel met kunstenaars se voortbestaan – nou betaal ek hulle net in gelyke munt terug.”

Van die wegneemetes wat die sitstakende kunstenaars ontvang het. Foto: Facebook
Die operasangeres Sibongile Mngoma, wat die sitstaking begin het. Foto: Facebook

Mngoma sê sowat 50 kunstenaars sluit deur die dag by haar aan en roteer sodat hulle Covid-19-maatreëls kan handhaaf. Snags oornag sy en sowat 12 ander sonder komberse in die kunsteraad se raadsaal. Hulle het darem toegang tot ’n kombuis en ’n badkamer.

Sy sê dit is ’n riem onder die hart dat kunstenaars hulle met aalmoese steun.

“Ons het niks gevra nie, maar mense stuur vir ons wat hulle kan en ons aanvaar dit met die grootste dankbaarheid.

“Sommige mense is bang om by ons aan te sluit, ander het nie geld vir vervoer om hier te kom nie. Die ondersteuning wat hulle wel oor lang afstande stuur, is dus werklik bemoedigend.”

Mngoma sê hulle mag weens bestaande wetgewing en maatreëls nie oor naweke in die kunsteraad se kantoor wees nie; sy en die res van die kunstenaars gaan dus Vrydagaand huis toe en sal Maandag om 09:00 terugkeer – tensy die kunsteraad oor die naweek aan hul vereistes voldoen.

“Al wat ons vra, is om die lys van begunstigdes te sien, hoeveel geld hulle kry, en watter kunsteprojekte goedgekeur is – so maklik soos dit,” sê sy.

“Die kunsteraad het al vir ons gewys wie hulle reeds betaal het, en dit is opvallend dat van die maatskappye tee en minerale verkoop – ondernemings wat nie eens in die kunstebedryf is nie! Ons het een van dié begunstigdes reeds gebel, en dié was nie eens bewus daarvan dat hy om finansiering aansoek gedoen het nie. So, ons wil die hele lys van begunstigdes sien.

“As ons dit nie kry nie, sal die sitstaking voortgaan. Dit is tyd dat die verrotting in dié plek ontbloot word.”

Mngoma sê die kunsteraad se direksie het nog nie aangedui wanneer hulle al die sitstakers gaan toespreek nie.

Die kunsteraad het al vir ons gewys wie hulle reeds betaal het, en dit is opvallend dat van die maatskappye tee en minerale verkoop – ondernemings wat nie eens in die kunstebedryf is nie! Ons het een van dié begunstigdes reeds gebel, en dié was nie eens bewus daarvan dat hy om finansiering aansoek gedoen het nie.
Sibongile Mngoma

Tshepo Mashiane, ’n direksielid, het aan Netwerk24 gesê hulle het nog nie ’n amptelike versoek van die sitstakers gekry om met hulle te vergader nie.

“Ons is ’n nuwe direksie – ons is nog net sowat agt weke in die stoel – en ons het van dag 1 af ’n meganisme in plek gestel wat ons daartoe verbind om met enige individu of groep te vergader wat met ons wil praat, mits hulle vir ons ’n e-pos stuur en ’n vergadering versoek.

“Ons direksie is oor Suid-Afrika heen versprei, so as ons nie ’n e-pos kry met ’n versoek om te vergader en ’n aanduiding van watter kwessies bespreek moet word nie, gaan ons met niemand vergader nie.”

Mashiane sê hy weet nie van ondernemings wat minerale en tee verkoop op hul lys van begunstigdes nie. Hy sê wel dit is belangrik dat dit onder hul aandag gebring word sodat hulle dit kan ondersoek.

Meer oor:  Tshepo Mashiane  |  Koronaviruspandemie  |  Covid-19  |  Covid  |  Koronavirus  |  Covid-19-Pandemie  |  Pandemie  |  Staat Van Inperking  |  Pesp  |  Inperking  |  Nac  |  Kuns  |  Kunste  |  Nasionale Kunsteraad  |  Sibongile Mngoma
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.